Markintelligensie skep goue geleenthede vir hawer en gars

759
Ruan Schutte,
junior landbou-ekonoom en bemarker, Graan SA

Ongunstige landboutoestande is die afgelope drie jaar in die Wes-Kaap beleef. Hierdie streek, wat algemeen bekend staan as die belangrikste koringproduserende gebied in Suid-Afrika, is ook die hoofverbouïngsgebied vir hawer en gars. Enige krisis gaan egter met geleenthede gepaard en dikwels groei daar uit die swartste modder die witste lelies.

Ons funksioneer tans binne ’n ekonomiese paradigma wat die kennisekonomie genoem word. Dit beteken dat almal, as gevolg van die internet en die beskikbaarheid van inligting, toegang tot groot bronne van kennis het. Dit is egter net diegene wat die kennis gebruik, dit reg analiseer en sinvolle, innoverende besigheidsbesluite daarvolgens neem, wat ekonomiese voordeel daaruit sal put.

Die doel van hierdie artikel is om inligting met betrekking tot hawer en gars te deel, wat die innoverende en geleentheidsoekende produsent kan motiveer om nuwe moontlikhede te ondersoek met die doel om ekonomiese voordeel uit die beskikbare inligting te skep. Die huidige ongunstige toestande dwing landbouanaliste om die beskikbare data opnuut te bekyk met die doel om groeipotensiaal te identifiseer.

Data met betrekking tot hawer
Hawer is die afskeepkind van die wintergraanbedryf. Tog moet daar konstant nuwe bronne en verskaffers gesoek word om aan die binnelandse vraag te voldoen. Op ’n vyfjaargemiddeld word daar 86 346 ton hawer vir die mark aangebied om aan die vraag te voldoen, waarvan 32 375 ton ingevoer moet word. Dit beteken dat daar ’n tekort van 37% op die vyfjaargemiddeld bestaan om net aan die plaaslike behoefte per jaar te voldoen.

Die binnelandse mark sou dus ’n groei in produksie van tot 37% kon akkommodeer. Dit skep ruim moontlikhede vir nuwe toetreders tot die plaaslike hawermark. Met hierdie potensiaal in gedagte, het Graan SA die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) gevra om hawer se oesskatting deel te maak van hulle syfers, sodat markinligting aan produsente beskikbaar gestel kan word om ingeligte besluite met betrekking tot produksie te maak.

Daar is ook gekyk na die prysstruktuur van hawer met die doel om die beste tyd vir bemarking te identifiseer. Dit behoort produsente te lei met betrekking tot inligting van wanneer om hawer terug te hou en wanneer om dit vir die mark aan te bied. Hawer se prys in Suid-Afrika word afgelei van die invoerpariteitsprys. Dit skep dus die ideale geleentheid vir produsente om voordeel te trek uit die kennisekonomie. Beskikbare data moet derhalwe gebruik word om te identifiseer wanneer die prys van so ’n aard is dat dit die beste geleentheid bied om te bemark. Die doel is om maksimum voordeel uit die mark te put om die marges te optimaliseer.

Die groter vraag as aanbod in die plaaslike hawermark bied aan produsente die geleentheid om op die groter aanvraag te kapitaliseer en produksie te verhoog. ’n Verdere voordeel wat dit vir plaaslike produsente inhou, is die geleentheid om produksierisiko’s oor ’n groter gebied, oftewel ’n verskeidenheid van gewasse, te versprei.

Data met betrekking tot gars
Waar hawer die afskeepkind onder die wintergrane is, ly gars weer aan middelkindsindroom. Aan die produksiekant is daar ’n behoefte om baie meer gars aan te plant. Produsente word egter deur AB InBev gerem om dit te doen.

Die garsoesskatting word ook reeds deur die NOK bekend gemaak sodat beter beplanning gedoen kan word, veral met die nuwe kontrakteringstelsel wat van die volgende produksieseisoen af geïmplementeer gaan word. Die oesskatting, tesame met Unigrain en Afgri se markinligting wat aan produsente verskaf word, gaan bekend maak presies wat die vraag na gars is asook aan watter kultivars daar ’n behoef­te is. Hierdie inligting moet reg deur die produsent aangewend word om risiko’s in die garsbedryf te vermy en om potensiaal te maksimaliseer.

Suid-Afrikaanse pryse van gars word afgelei van Safex-koring en dit bied die geleentheid aan produsente om beter finansiële beplanning te doen in terme van die bemarking van hulle produkte. Die potensiële aanbod vir gars is meer as wat die plaaslike behoefte is. Daar word tans gekyk na nuwe verbruikers wat die aanvraag kan verhoog, sodat die behoefte in die mark kan toeneem om volhoubaarheid vir produsente te skep.

Aanwending van markintelligensie
Met data wat al hoe meer vrylik beskikbaar raak en inligting wat al hoe makliker verkry kan word, is dit moontlik om geleenthede en potensiaal vir groei in die bedryf ook makliker raak te sien en te identifiseer. Die produsent wat dus die beskikbare kennis gebruik en die potensiaal daarvan aangryp, kan dit aanwend om die bedryf te bevorder, maar ook om persoonlike groeimoontlikhede te identifiseer.

Indien die inligting reg geïnterpreteer word, kan potensiële produksie verhoog word om die Suid-Afrikaanse mark selfonderhoudend te maak en om die innoverende produsent se prestasie en marges te maksimaliseer. Dit is baie belangrik om die markinligting reg te interpreteer en aan te wend wanneer dit uitgereik word. Die huidige ekonomie word nie verniet die kennisekonomie genoem nie! Diegene wat die beskikbare kennis gebruik en implementeer, is dié wat die voordele daarvan gaan smaak.

Vir ’n bedryf om te groei en vooruit te beweeg, moet inligting daagliks beskikbaar gestel word, sodat ingeligte keuses op ’n deurlopende basis gemaak kan word. Die produsent wat sy of haar oog gaan hou op inligting oor die hawer- en garsmark soos wat dit in die toekoms beskikbaar gestel gaan word, kan potensiaal en groeigeleenthede identifiseer en daarop kapitaliseer om só maksimum voordeel uit die mark te put. Markintelligensie is ’n bate wat aangewend kan word om winsgewendheid in die bedryf te skep en te bevorder. Kennis is en bly mag!