July 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

‘n Studiegroep wat fokus op ‘n beter toekoms en wat navorsing vir hulle laat werk. Dít het aanleiding gegee tot die Landbouweekblad Herlewingslandboukonferensie wat jaarliks op Reitz in die Oos-Vrystaat aangebied word.

“Ek hou nie daarvan om vir die volgende geslag te boer nie: Ek wil boerdery graag nóú laat werk,” het mnr Jay Fuhrer, ‘n Amerikaanse herlewingslandbouspesialis, tydens sy aanbieding gesê. Hy was die opening- en gasspreker by die konferensie wat op 19 en 20 Maart op Reitz in samewerking met Riemland-Studiegroep en Graan SA aangebied is.

Dr Hendrik Smith (bewarings-landboufasiliteerder, Graan SA) het die tafel gedek deur te vra waarom ons bewaringslandbou nodig het. Hierdie vraag laat ‘n mens dink: Gaan dit net oor die omgewing of gaan dit ook oor die geld in die produsent se sak?

Die effek van groenbemesting en dekgewasse op produksie is deur mnr Roland Bunch (Canadian Foodgrains Bank) beklemtoon. Die verhoging in opbrengste is een van die voordele, maar die eintlike onverwagte voordeel is die verlaging van droogterisiko. Die gevolg is dat produksie en voedsel hierdeur gestabiliseer word. Me Charlene Janion-Scheepers (Iziko South African Museum) het gesê dat diversiteit vir mens, dier, plant, insek en omgewing belangrik is en dat as dit nie onderhou word nie, dit tot almal se ondergang aanleiding sal gee.

Diversiteit in plante en bewaringslandbou het ‘n besondere voordeel vir insekte. Balans word weer herstel en elke insek kan sy spesifieke rol vervul. Predatore vermeerder en bring plantplae en -peste in balans. Verder doen die goggas ons ook ‘n guns omdat hulle heelwat van die algemene onkruidsaad verwyder. Balans lewer ‘n bydrae om die gebruik van chemiese middels te verminder en sodoende neem winsgewendheid toe. Dít is die passie van prof Johnnie van den Berg (Noordwes-Universiteit) en dr Annemie Erasmus (LNR-Graan­gewasse).

Suid-Afrika se klimaat is besig om oor tyd te verander. Mnr Francois Engelbrecht (WNNR-Natuurlike Hulpbronne en Omgewing) en me Christien Engelbrecht (LNR-Grond, Klimaat en Water) het in die kristalbal gekyk en probeer voorspel hoe die klimaat vir die volgende paar dekades na die einde van die eeu toe gaan verander. Groot veranderinge word verwag. Uiterstes gaan verseker toeneem en dit beteken dat as dit droog is, gaan dit besonder droog wees en as dit nat is, gaan dit uitermate nat wees. So, hoe boer ‘n produsent in hierdie omstandighede?

Mnr Johann Zietzman (outeur van die boek Man, cattle and veld) staan ‘n unieke manier van beweiding voor en het aan teenwoordiges gedemonstreer dat diere geforseer kan word om nie-selektief te wei en sodoende die veekomponent te gebruik om grond en veld te verbeter.

Klimaatsuitdagings
Die meerderheid van vandag se klimaatsuitdagings kan met bewaringslandbou aangespreek word. Deur die lewe in die grond op te bou en te onderhou, word die langtermynvolhoubaarheid van landbou versterk. Hierin speel die effek van plante, diere en ander organismes ‘n uiters belangrike rol, omdat dit ‘n stelsel vorm waarbinne alle prosesse plaasvind. As een deel van die stelsel nie optimaal funksioneer nie, sal die hele stelsel beïnvloed word. Koolstof in die grond is die belangrikste aspek wat onderhou en opgebou moet word. As meer koolstof uit die grond geneem word as wat daarin geplaas word, is dit nie oor die lang termyn volhoubaar nie. Dit is belangriker om te fokus op wat onder die grond gebeur as wat bo-op die grond aangaan. Inteendeel: As dit onder die grond voorspoedig gaan, sal dit bo die grond klopdisselboom gaan.

‘n Beginsel wat ons moet verstaan, is hoe grond werk en waaruit dit saamgestel is. Grond bestaan hoofsaaklik uit lug, water, minerale en grondorganiese materiaal. Elke aspek van grond kan en moet bestuur en bewaar word. Die voordeel verbonde aan die aanplanting van langtermyngewasse is dat hul wortels dieper in die grond penetreer en sodoende grondstruktuur vorm, wat voldoende voedsel vir die organismes verskaf.

Die luggedeelte in grond is essensieel, omdat dit ruimte skep waarin water geberg kan word. Hoe meer kompaksie in die grond voorkom, hoe minder spasie is daar vir water om gestoor te word.

Grond se waterinfiltrasie en waterhouvermoë is krities en moet en kan bestuur word. Dit is bekend dat die waterhouvermoë van die grond verhoog namate die grondorganiese materiaal in die grond toeneem. Die grondsamestelling in terme van sand-, slik- en kleipersentasie het ‘n effek op die waterinfiltrasietempo en moet besef en bestuur word. Hoe hoër die grondbedekking, hoe meer water kan in die grond infiltreer.

Grondorganiese materiaal
Grondorganiese materiaal is ‘n kritiese aspek wat deur produsente bestuur moet word. Die grondorganiese materiaal bestaan uit lewende of mikro-organismes, dooie of vars plantreste en humusgedeeltes. Indien 1% grondorganiese materiaal ontleed word, bestaan dit uit 10 000 eenhede koolstof, 1 000 eenhede organiese stikstof en 100 eenhede fosfaat.

Plante vervaardig organiese materiaal, wat deur bakterieë, fungi en nematodes ontbind en afgebreek word. Die bakterieë en fungi tree as bemesting op, omdat protosoë en nematodes dit opneem en afbreek om sodoende die voedingstowwe te mineraliseer en vir die plante beskikbaar te stel. Sonder gesonde grond is dit nie moontlik nie en kan die bemestingsrekening van die boerdery nie beperk word nie. Met gesonde grond kan die bemestingsbehoefte van gewasse verminder word om sodoende die winsgewendheid te verhoog.

Gesonde grond het die konstante vermoë om as ‘n lewende ekosisteem te funksioneer om plante, diere en mense te onderhou. Dit is belangrik om te verstaan dat dit ‘n stelsel is waar die grond altyd beskerm moet word. Beskerming beteken dat die grondoppervlak soveel as moontlik bedek moet wees. Dit kan bestaan uit oesreste van die vorige gewasse en die insluiting van dekgewasse. Albei sal as voedsel vir bakterieë, fungi en nematodes kan dien.

Gesonde grond moet ook so min as moontlik versteur word. Dit gee aan grondorganismes die geleentheid om hul werk te doen. Plantdiversiteit is verder vir die verskillende bakterieë, fungi en nematodes belangrik ten einde optimaal te reageer. Hierdie aksie het tot gevolg dat die grondstruktuur verander en dat tipiese grondlae oor tyd verdwyn.

Permanente, lewendige plantwortels in die grond het verseker ook voordele vir grond. Lewende gewasse bring koolsuurgas in die grond in, verminder onkruiddruk en beskerm die grond teen die son. Verder verseker hierdie bedekking dat die waterinfiltrasie en reënvaldoeltreffendheid verhoog.

Daar is ‘n groot aantal kombinasies van gewasse wat in die somer en in die winter verbou behoort te word. Hierdie gewasse en oesreste op die grond lewer ‘n bydrae om reëndruppels se energie te adsorbeer sodat die grond nie “toeslaan” nie. Dit verhoog met ander woorde waterinfiltrasie. Die dekgewasse het ook die vermoë om onkruid te onderdruk en sodoende kan daar op onkruiddoder bespaar word.

Lewende hawe
Om lewende hawe met gewasverbouing te kombineer, bring steeds meer voordele. Lewende hawe kan gebruik word om ‘n gedeelte van die plantmateriaal in kontant te omskep en boonop die grond te beskerm.

Dit is belangrik om plantmateriaal in kontak met grond te bring sodat bakterieë, fungi en nematodes hul werk kan doen. Deur vee op een plek te konsentreer, word hulle gedwing om die materiaal (smaaklik en onsmaaklik) te vreet en die diere se pote kompakteer die plantmateriaal.

Die mis en urine van die vee lok weer ‘n nuwe groep insekte, wat die mis in die grond in verwerk en sodoende nuwe elemente in die grond plaas. Maak seker dat die grond nie te nat is as die diere ingebring word nie, anders sal dit lei tot grondverdigting – wat weer nadelig vir graanproduksie is.

Watter stelsel?
Die vraag is: Watter stelsel gaan in hierdie geval die beste resultate lewer? Die kombinering van geenbewerking, dekgewasse en lewende hawe behoort die beste stelsel vir gewasverbouing te wees. Hierdie stelsel behoort die koolstofinhoud in die grond te verhoog, die grondvoedingselemente te verhoog, erosie te verminder, waterinfiltrasie te verhoog, die pH van die grond aan te spreek en ‘n goeie inkomste vir die lewende hawevertakking te bewerkstellig.

Dit is interessant dat bewaringslandbou nie hier stop nie. Dit het die vermoë om ons weer te laat leer, meer aandag aan die omgewing te gee, die natuur meer en meer na te boots en sodoende nie net ons eie selfsugtige behoeftes na te jaag nie.

Die volledige lesings van die sprekers is beskikbaar by https://www.netwerk24.com/landbou/Bedrywe/Bewaringsboerdery/opgewondenheid-op-herlewingslandboukonferensie-20180323.

Publication: July 2018

Section: Relevant