
SA Graan/Grain-medewerker
Sommige produsente word gedwing om die omskakeling van konvensionele produksiestelsels na bewaringslandboustelsels te oorweeg. Ongeag die rede waarom hulle wil oorskakel, bly die vraag rakende winsgewendheid altyd ’n kwessie.
Vir Danie Joubert van Koster en sy seuns, Pieter en Lourens, wérk bewaringslandbou. Boonop is die winsgewendheid van hierdie stelsel ongetwyfeld vir hulle die moeite werd. Tog is daar baie produsente wat dit probeer implementeer en dan groot finansiële verliese ly.
Die gronde waarop die Jouberts boer, is oorheersend redelik vlak met ’n relatief lae klei-inhoud en die jaarlikse gemiddelde reënval vir die streek is ongeveer 630 mm. ’n Bewaringsboerderystelsel word al suksesvol vir die afgelope 13 seisoene hier geïmplementeer. Die laaste paar seisoene het die stelsel die plaas se opbrengste na nuwe rekordvlakke geneem, ongeag of dit ’n nat of droë jaar was. As ’n mens oor die stelsel se winsgewendheid getwyfel het: Die Jouberts kon dit regkry om hul eie gronde mettertyd uit te brei, hulle het aanplantings op hul eie grond met 46% verhoog, nuwe implemente op skuld gekoop en betaal en genoeg geld oorgehou om hul veevertakking ook uit te brei. Goeie reënjare was daar, maar die meeste van hulle was aan die droë kant.

Doeltreffende boerderypraktyke
Volgens Danie en sy seuns begin die suksesvolle oorskakeling van ’n konvensionele stelsel na ’n bewaringsboerderystelsel nie met nuwe implemente nie, maar met doeltreffende boerderypraktyke. Bewaringsboerdery gaan nie suur gronde, verdigtingslae of swak voedingstatus regmaak nie, maar die regstelling van dié probleme is wel nodig om die suksesvolle implementering van bewaringsbewerking te verseker.
Die hoofrede vir hulle oorskakeling was nie om meer geld te maak nie, maar eerder om die volhoubaarheid van die boerdery te verseker deur die winsgewendheid met verloop van tyd te verhoog. Hulle moes binne hulleself ook baie veranderings deurgaan, onder meer om hul denkwyse aan te pas, kennisvlakke op te skerp en te gaan leer hoe om aan die nuwe stelsel se vereistes te voldoen.
Eensklaps het hul kennis oor produksie nie meer noodwendig gegeld nie. Foute kon nie meer met ’n bewerking reggestel word nie en dus moes hulle sorg dat die regte besluite geneem word en natuurlik reg geïmplementeer word. Danie noem wel dat behoorlike boerderypraktyke reeds toegepas is voordat hulle oorskakeling oorweeg en geïmplementeer het. Effektiewe bestuur bly die belangrikste vereiste: Die produsent moet daar wees, weet wat gebeur en optree as probleme opduik.
Danie en sy seuns het ’n dieptestudie oor geenbewerkingstelsels (no-till) gedoen en al die suksesfaktore geïdentifiseer en ontleed. Vinnig het hulle agtergekom dat ’n nuwe geenbewerkingsplanter nie noodwendig die stelsel suksesvol gaan maak nie. Die stelsel gaan oor baie meer as net die ysters (masjinerie) en daarom moes hulle besin oor hoe om te begin.

Kennis is noodsaaklik
Vir Danie is die kennisvlakke rakende die stelsel van kardinale belang. Grondkompaksie en ploegblaaie asook die regstelling van pH en ander bemestingsvlakke moet ’n prioriteit wees. As hierdie dinge nie reg is nie, is die stelsel gedoem en finansiële probleme sonder twyfel die produsent se voorland.
Hulle het die basiese beginsels wat nodig is om bewaringslandbou ’n sukses te maak, aanvaar en dit deel van die boerdery gemaak. Daar is besluit om die grond so min as moontlik te versteur, om dit ten alle tye bedek te hou, nouer rye met ’n hoër plantestand asook gewasrotasie te implementeer en laastens om dekgewasse en vee deel van die boerdery te maak.
Vir Danie en sy seuns was dit duidelik dat die nuwe bewaringstelsel nie goedkoper as die konvensionele stelsel is nie – inteendeel, dit is duurder aan die begin. Nuwe implemente moes gekoop word en meteens was daar nuwe paaiemente wat betaal moes word. Alhoewel besparings in die brandstof- en herstelwerkafdelings gerealiseer het, was die chemiese en saadrekening aansienlik meer in die begin. Sedert die oorskakeling het die chemiese rekening verminder, en op die oomblik is dit laer of gelyk aan dié van ’n konvensionele stelsel. Saad het duurder geword omdat plantestand drasties gelig is.

Sedert die Jouberts oorgeskakel het na bewaringsboerdery was daar groot veranderinge in hul praktyke. Mettertyd het hul doelwitte begin verander: eers was dit grotendeels om te oorleef en meer wins te maak. Tans gaan egter dit meer oor langtermynwinsgewendheid asook die implementering van grondgesondheidsbeginsels om die vrugbaarheid van die grond te verhoog en weg te beweeg van die gebruik van onkruiddoders, plaagdoders en chemiese kunsmis. Hierdie doelwitte is met verloop van tyd haalbaar, maar op die oomblik lyk dit of die winsgewendheid dalk ’n bietjie stilstaan terwyl die ander doelwitte behaal word.
Om net binne ’n stelsel te verander sonder ’n plan kan produsente duur te staan kom. Ten einde altyd grondbedekking te verseker, het die Jouberts die mielieplantestand van 50 000 plante/ha verhoog na ongeveer 72 500 plante/ha. Kultivarseleksie het wesenlik verander van meerstammige, meerkoppige kultivars na enkelstammige, enkelkoppige kultivars. Daar is ook gefokus op kultivars wat meer siektebestand is. Op die oomblik ondersoek die Joubert-broers dit om oopbestuifde kultivars in die stelsel in te bring met die hoop dat dit die saadkoste mettertyd sal verlaag. Hulle reken dat oopbestuifde kultivars baie goed binne hul visie en stelsel gaan inpas en dat dit hulle eventueel in ’n beter posisie sal laat.
Die Jouberts plant al hul gewasse in 52 cm-rye om die son van die grond weg te hou. Die gewasse maak die rye vinnig toe en sodoende word die grond oorskadu. Die gebrek aan son veroorsaak dat laat ontkiemende onkruide les opsê. Die hoër plantestand lei verder
tot baie meer oesreste wat op die grond agterbly en ook die onkruide opdraande gee. Die grondbedekking het boonop ’n groot verhoging in winsgewendheid vir die boerdery gebring. Sedert hulle vroeër kon begin plant, het opbrengste wesenlik gestyg. Hul opbrengste is beduidend hoër as die bure s’n wat net kan plant wanneer die grond klaar bewerk is.
Dekgewasse
Daar word tans met dekgewasse geëksperimenteer – iets wat vir seker voordele inhou. Vir grondgesondheid is dit van kardinale belang om altyd lewendige wortels in die grond te hou.
Hul onkruiddoderprogram het ook met verloop van tyd beduidend verander. Aanvanklik is die lande met glifosaat bespuit om die onkruide dood te kry. Daarna is dit met ’n standaardmielie-onkruiddoder bespuit en later is glifosaat weer gebruik om laat ontkiemende onkruide te beheer. Soos die gronde verbeter het, kon daar reeds op die gebruik van onkruiddoders bespaar word. Tans word daar net een vooropkomsonkruiddoder gebruik, sonder enige opvolgbespuiting. Daar is ook weggedoen met ’n algehele doodspuit voor die planter.
Die bemestingsprogram het net so radikaal verander. Aanvanklik het hulle soos alle produsente in die omgewing ’n chemiese bemestingsprogram gebruik, maar tans word daar byna in totaliteit van biologiese produkte gebruik gemaak. Die ontleding van blaarmonsters is die bepalende faktor om te besluit watter middels gespuit word. Die afgelope jaar was die bemestingsprogram vir mielies as volg: 3 liter/ha PopUpTM en 2 liter/ha RealCal beide van RealIPM se voedingsreeks; Johnson/Su-komposekstrak; asook 140 kg/ha ureum as topbemesting. Die biologiese bemestingsprogram maak tans die toedien van kalk onnodig.
Dekgewasse asook die wisselbouprogram wat mielies en sojabone insluit, dra verder by tot die biologiese bemesting van die gewasse. Daar word gepoog om nie meer chemiese bemesting te gebruik nie. Hou net in gedagte dat die gronde se voedingstatus reeds op ’n hoë peil was voor die oorskakeling na bewaringsboerdery. Die status word deurentyd gemonitor om seker te maak daar kom nie ongewensde verrassings nie.
Die belegging in ysters is ook met bewaringsboerdery verminder. Die gebruik van ’n geenbewerkingsplanter met net skywe maak die kilowatt-vereiste vir die boerdery baie laag. Die spuit werk in hierdie boerdery taamlik gereeld. Die trekkers doen omtrent geen werk nie en daarom is die vervangingstyd van masjiene ver uitgeskuif. Die Jouberts sorg wel dat die toerusting in ’n uiters goeie werkende toestand gehou word. Die boerdery maak gebruik van hommeltuie vir bespuiting en om die dekgewasse in die rye te saai voor die gewasse gestroop word.
Vir die Jouberts was die oorskakeling na bewaringsboerdery definitief die moeite werd – en dit sluit hulle persoonlike groei in. Deesdae sien hulle nie meer probleme raak nie, slegs nuwe uitdagings, meer geleenthede en oplossings. Harde werk is dit egter sonder twyfel.
Vir meer inligting kontak vir Pieter Joubert by 084 359 5754 of vir Pietman Botha by
082 759 2991.
