Grondbone: Dit gaan oor graad en verbruik

Gepubliseer: 5 Februarie 2021

1020

Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

18/01/2021

Alhoewel die grondboonmark relatief klein in verhouding met ander grane en oliesade is, is dit ’n besonder komplekse mark. Die verskillende grade en kwaliteit asook die spesifieke aanwending daarvan maak die mark inge­wikkeld.

Die verskillende grade en waarvoor dit aangewend word, het ’n impak op die waarde van die grondbone. Dit is nie net die geval by binnelandse verbruik nie, maar geld ook wanneer dit by in- en uitvoer kom. Die bestegraadgrondbone word in baie gevalle uitgevoer na premiemarkte toe watdie uitvoerwaarde van die grondbone in sommige gevalle hoër maak as die binnelandse waarde daarvan. In ander gevalle vind daar weer invoer plaas van grondbone met ’n laer waarde wat in die binnelandse mark kompeteer teen grondbone met ’n hoër waarde.

Produksietendense
Wanneer dit by die kwaliteit van grondbone kom, is daar in die breë drie grade, naamlik keur-, diverse en persgraad. Keurgraad is die grondbone met die beste graad, gevolg deur diverse graad en dan persgraad. Daar is egter ook ’n fyner gradering volgens die grootte van die pitte, ensovoorts, wat nie in hierdie artikel bespreek word nie.

Oor die algemeen produseer Suid-Afrika grondbone van goeie kwaliteit wat hoog in aanvraag is in die internasionale mark. Suid-Afrika was eens op ’n tyd ’n prominente uitvoerrolspeler in die internasionale konteks. Suid-Afrikaanse grondboonuitvoer het egter die afgelope paar jaar drasties afgeneem, wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die wisselvalligheid van plaaslike produksie. Die afgelope vyf tot ses jaar se somergraanproduksietoestande was moeilik, met veral die planttyd wat laat aangebreek het. Grondbone is oor die algemeen langer groeiers en dus moet dit vroeg geplant word. Die laer plaaslike produksie het binnelandse tekorte veroorsaak en Suid-Afrika het nie genoeg grondbone van goeie kwaliteit gehad om aan buitelandse kliënte te verskaf nie. Die land se uitvoermarkaandeel het dus erg gekrimp.

Grafiek 1 toon die bydrae per graad van plaaslike grondbone sedert die 2001/2002-seisoen. Dit is duidelik uit die grafiek dat die meerderheid Suid-Afrikaanse grondbone in die keurgraadgedeelte val. Sedert die 2001/2002-seisoen was gemiddeld 53% van die grondbone wat plaaslik geproduseer is keurgraad, 27% was diverse graad en 20% was persgraad.

Grafiek 1: Verdeling per graad van Suid-Afrikaanse grondboonproduksie.
Bron: SAGIS

Grondboonverbruik
Die binnelandse verbruik van grondbone bestaan hoofsaaklik uit dit wat gaan na die direkte voedselmark, grondboonbotter en dit wat gepers word vir olie en oliekoek. Grafiek 2 toon die tendens van waarvoor die meeste grondbone aangewend word sedert die 2001/2002-seisoen. Dit is duidelik dat die grootste gedeelte van plaaslike grondbone oor tyd in die direkte voedselmark opgeneem is, met die hoeveelheid wat vir die produksie van grondboonbotter aangewend word die tweede meeste. Oor tyd het die tendens reeds verander met grondboonbotter wat ’n groter rol begin speel het as die direkte voedselmark. Die hoeveelheid grondbone wat vir olie en oliekoek gepers word, het baie afgeneem.

Grafiek 2: Verdeling van binnelandse verbruik van grondbone.
Bron: SAGIS

Verbruik per graad
Verskillende grade word vir verskillende doeleindes aangewend. Die aanwen­ding van grondbone vir die verskillende gebruike het ook ’n impak op die waarde daarvan. Grafiek 3 toon die persentasie van die verskillende grade wat vir verskillende doeleindes gebruik word. Dit is duidelik uit die grafiek dat die meeste van die keur­graadgrondbone in die direkte voedsel­mark gebruik word, terwyl die meeste van die diversegraadgrondbone in die produksie van grondboonbotter gebruik word. Alhoewel daar in totaal baie min grondbone vir olie en oliekoek gepers word, is dit hoofsaaklik die swakker grade wat daarvoor aangewend word.

Grafiek 3: Bydrae van verbruik per graad.
Bron: SAGIS

Daar is verder ’n redelike verspreiding van die verskillende grade wat in- en uitge­voer word. Die grondboonuitvoermark is vir Suid-Afrika meestal ’n premiemark en dus is die meeste van die uitvoer keurgraadgrondbone. Die meerderheid keurgraadgrond­bone word na lande soos Japan en dié in die Europese Unie uitgevoer. Wat invoer betref, maak diversegraadgrondbone die grootste gedeelte uit –ongeveer 65% – terwyl keurgraadgrondbone ongeveer 32% uitmaak.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.