Gevreesde VSA-onkruid nou ook in Suid-Afrika

80

‘n Mens hoor gereeld hoe klein die wêreld geword het en hoe maklik dit nou is om van een kontinent na ’n ander te reis binne ’n kwessie van ’n dag of twee. Ongelukkig geld hierdie gerief ook vir peste en plae, met Suid-Afrika wat gedurende 2018 ’n nuwe Amaranthus-spesie ryker geword het.

Anders as die alombekende Amaranthus-spesies, soos die gewone misbredie (A. hybridus), doringmisbredie (A. spinosus) en rooismisbredie (A. thunbergii) waarmee produsente in Suid-Afrika vertroud is, is Palmer amarant (Amaranthus palmeri) egter ’n perd van ’n ander kleur.

Palmer amarant (A. palmeri) is ’n eenjarige, breëblaar-, someronkruidsoort wat inheems voorkom in die noordelike dele van Mexiko asook die suidwestelike dele van Amerika. Dit het hierdie onkruid net ’n bietjie meer as 20 jaar geneem om te vorder van ’n relatief onbekende onkruid tot een van die mees wydverspreide, moeilik-beheerbare onkruide wat die meeste ekonomiese skade aanrig in al die belangrikste gewasverbouingstreke van die VSA.

Sy vinnige groeitempo, hoë voortplantingstempo, genetiese diversiteit en uitstekende aanpassingsvermoë onder ongunstige toestande is ’n paar van die faktore wat tot sy dominante en moeilik-beheerbare status bygedra het. Teen 2014 was Palmer amarant een van die mees problematiese en ekonomies belangrike onkruidspesies in mielies, katoen en sojabone in die VSA.

Weens sy negatiewe uitwerking op veral hierdie gewasse, is hierdie onkruid tot ’n onwettige, skadelike onkruid in verskeie state in die VSA verklaar. Gedurende Februarie/Maart 2018, is Palmer amarant vir die eerste keer positief in Suid-Afrika in die Douglas-omgewing (Noord-Kaap) geïdentifiseer.

Palmer amarant se vinnige groeitempo (lengtetoename van ± 5 cm per dag) en die vermoë om groot hoeveelhede biomassa te akkumuleer, maak van hom ’n uiters kompeterende onkruid. As gevolg van sy aggressiewe groeitempo is die tydige toediening van onkruiddoders ’n baie groot uitdaging. Onder optimale groeitoestande kan ’n enkele vroulike plant tot 600 000 klein (1 mm – 2 mm), glad en ronde (of diskusvormige) sade produseer.

Saadverspreiding vind plaas deur besproeiing of ander vorme van watervloei, asook deur landboupraktyke soos grondbewerking en oes. Die vermoë van die saad om vir lang periodes in die grond te kan oorleef, word tans nog debatteer. Minder as 50%-lewenskragtigheid is gerapporteer by saad wat vir ’n jaar lank by ’n 10 cm-gronddiepte gelê het. Sommige saad kon vir lang tydperke oorleef, veral by 40 cm en dieper. Dit is dus moontlik dat hierdie saad ’n bron kan wees van nuwe besmetting sou dit na die oppervlak gebring word deur bewerking.

Verskeie internasionale publikasies verwys na die nadelige effek wat die onkruid op opbrengs het. ’n 11%-opbrengsverlies is by mielies waargeneem waar 0,66 Palmer amarant-plante/m2 teenwoordig was. Met 10,5 plante/m2 het die opbrengsverlies verhoog na 91%.

In katoen is opbrengsverliese van onderskeidelik 11% en 59% aangeteken met 0,11 onkruidplante/m2 en 1,1 plante/m2, terwyl 17% en 79% onderskeidelik verkry is in sojabone met 0,33 plante/m2 en 10,5 plante/m2.

Palmer amarant het nie slegs ’n invloed op opbrengste nie, maar kan ook die oesproses van gewasse soos katoen bemoeilik. Die groot hoeveelhede biomassa wat deur die onkruid geproduseer word, veroorsaak dat daar gereeld gestop moet word tydens die oesproses om blokkasies te verwyder. Die onkruid dien ook as gasheer vir verskeie aalwurmspesies, met studies wat getoon het dat dit ’n matige gasheer is vir onder meer Meloidogyne incognita.

Grootste uitdaging
Een van die grootste uitdagings tans verbonde aan Palmer amarant is sy merkwaardige vermoë om weerstand te ontwikkel teen onkruiddoders. Hierdie inherente vermoë word toegeskryf aan die feit dat die spesie onderskeidelik manlike en vroulike plante het (tweehuisig). Dit maak van die plant ’n verpligte uitkruiser, wat verbastering tot gevolg het.

Ander Amaranthus-spesies soos die gewone misbredie, doringmisbredie en rooimisbredie is eenhuisig, met beide manlike en vroulike reproduktiewe organe op dieselfde plant. Tans is daar internasionaal weerstand teen ses groepe meganismes van werking aangemeld: ALS-inhibeerders (Groep B), inhibeerders van fotosisteme (PSII – Groep C1), PPO-inhibeerders (Groep E), HPPD-inhibeerders (F2), EPSPS-inhibeerders (Groep G) en inhibisie van mi­krotobule samevoeging (Groep K1).

Gegewe dat diep- en tussenry-bewerking gesien word as potensiële oplossings vir die beheer van weerstandige Palmer amarant-populasies, hou die evolusie van veral glifosaat-weerstandige populasies (EPSPS-inhibeerders) ’n baie groot bedreiging in vir bewaringsbewerking, waar daar groot afhanklikheid van glifosaat bestaan.

Identifiserende eienskappe van Palmer amarant
Palmer amarant is ’n hoë, regop-groeiende, breëblaaronkruid van tot 2 m hoog, met laterale vertakking. Die blare wat afwisselend op die stam gerangskik is, is haarloos en lansvormig in jong plante. In volwasse plante is die blare eiervorming.

Die groeiwyse van die onkruid is so gestruktureer dat die plant die meeste moontlike sonlig kan opneem, wat dit ’n rosetvormige voorkoms gee wanneer van bo-af gesien word. Die blaarsteel van die eerste ware blaartjies (die ouer blare wat aan die onderste deel van die stam geleë is) is baie verleng. Wanneer die blaarsteeltjie teruggevou word oor die blaarskyf, is dit met Palmer amarant net so lank of langer as die blaarskyf (Foto 1 en Foto 2).

Met gewone (Kaapse) misbredie, is die blaarsteel dieselfde lengte of korter as die blaarskyf. Sommige Palmer amarant-plante se blare bevat ’n wit V-vormige vlek of watermerk (Foto 3). Verder kan sommige plante se eerste twee of drie blare ook ’n enkele haar (amper doringagtig) op die punt van die blaar hê (Foto 4). Nog ‘n spesie met hierdie eienskap is Amaranthus viridus wat algemeen in Suid-Afrika voorkom.

Die blomme van Palmer amarant groepeer saam om ’n silindriese bloeiwyse op die eindpunt van die blomsteel te vorm. Die manlike en vroulike bloeiwyse is baie dieselfde, maar kan tog van mekaar onderskei word. Die manlike bloeiwyse is sagter, terwyl die vroulike bloeiwyse harder en stekelriger is (Foto 5a en Foto 5b). Die manlike bloeiwyse kan ook onderskei word vanweë sy heldergeel stuifmeelsakkies en stuifmeel.

Die meeste van die genoemde eienskappe kan help om die identiteit van Palmer amarant te bevestig, maar produsente moet kennis neem dat sekere eienskappe – soos die blaarvorm, die watermerk en die haar op die blaarpunt – baie varieer binne dieselfde spesie. ’n Kundige moet dus genader word om die spesie te bevestig.

Internasionale beheerstrategieë
Daar is tans nog onsekerheid teen watter groepe onkruiddoders (meganismes van werking) die Suid-Afrikaanse populasie by Douglas weerstand het. Die South African Herbicide Resistance Initiative (SAHRI) by die Universiteit van Pretoria is tans besig met navorsing hieroor en sal spoedig rapporteer in hierdie verband. Pogings word tans ook aangewend om vas te stel of die onkruid beperk is tot die omgewing waar dit waargeneem is en of dit verder versprei het.

Kundiges is dit eens dat die effektiefste strategie teen hierdie onkruid is om dit heeltemal met behulp van grondbewerking te beheer, reeds voordat daar geplant word. Diep skoffel en tussenry-bewerking kan die saad wat in die saadbank teenwoordig is, verminder asook saailinge van weerstandige populasies beheer. Studies het getoon dat saad meer geredelik ontkiem by 2,5 cm en vlakker as byvoorbeeld by 5 cm.

Die klein saadgrootte vereis dus ’n vlak posisionering in die grondprofiel om suksesvol te vestig. Diep ploeg moet egter nie te gereeld gedoen word nie, omdat dormante saad wat diep geplaas is met ’n vroeëre bewerking na die oppervlak gebring kan word en weer kan ontkiem.

Verder word geregistreerde, nie-selektiewe (burndown) onkruiddoders soos dié van Groep D (parakwat) internasionaal gebruik om die onkruid te beheer. Daar is tans verskeie doders geregistreer vir Amaranthus spp., maar dit sluit die spesifieke beheer van Palmer amarant uit.

Internasionaal is daar gevind dat tenkmengsels bestaande uit minstens twee onkruiddoders met verskillende meganismes van werking wat na-opkoms toegedien word, die beste beheer verleen. Produsente moet egter kennis neem dat weens die vinnige groeitempo van die onkruid, daar ’n baie nou (kort) toedieningsperiode of -tydperk is.

Verder moet produsente ook in gedagte hou dat deur gewasrotasie toe te pas, toegang verkry kan word tot ’n groter verskeidenheid onkruiddoders met verskillende meganismes van werking.

Verbouingspraktyke wat ongunstige toestande skep vir ontkieming en groei van die onkruid sal ook bydra tot die beheer daarvan. Enige praktyke wat dus die gewas ’n kompeterende voordeel gee, terwyl die sonlig wat die oppervlak bereik beperk word, moet oorweeg word. Vervroegde plantdatums stel die gewas in staat om vinniger te vestig, wat dit ’n kompeterende voordeel sal gee. Deur vroeg te plant, kan die gewas se blaredak vinniger vorm, met die gevolg dat ongunstige toestande vir die ontkieming en groei van die onkruid geskep word. Nouer rywydtes en optimale plantestand kan ook ingespan word vir hierdie doel.

Dekgewasse kan verder nie net die onkruid onderdruk deur sonlig te weerhou nie, maar meng ook op fisiese wyse in met die groei en ontwikkeling daarvan. Die allelopatiese eienskappe van dekgewasse kan ook ’n addisionele voordeel inhou rakende die onderdrukking van die onkruid.

Alhoewel dit baie duur is, moet handskoffel deel vorm van beheer- en uitwissingprogramme, veral in die vroeë stadia van besmetting wanneer daar nog min onkruidplante teenwoordig is. Verder moet besmette lande laaste geoes word, waarna die stropers deeglik skoongemaak moet word. Onthou dat die water wat gebruik is om sulke apparaat af te spuit, ook kan bydra tot die verspreiding van die saad. Die ideaal is dus om sulke water op te vang en op ’n verantwoordelike manier te verwerk of daarvan onslae te raak. Internasionaal word sulke water “verbrand” (incinerated).

Laastens moet die kante van lande, slote en waterweë gereeld verken word om seker te maak dat alle Palmer amarantplante wat voorkom, uitgeroei word.

Kontak dr Maryke Craven by 018 299 6100 of CravenM@arc.agric.za of prof Charlie Reinhardt by 083 442 3427 of dr.charlie.reinhardt@gmail.com.