Meet en weet hoeveel kunsmis regtig nodig is

27
Jan Greyling,
SA Graan/Grain
medewerker

Die skaal waarmee dr Rick Haney bepaal hoeveel kunsmis werklik per spesifieke stuk grond nodig is vir gebalanseerde en kostedoeltreffende produksie, is een van die beste geskenke ooit aan die produsent. Deur die mikrobiologiese aktiwiteit in die grond se nalatenskap in deeltjies per miljoen (dpm) te kan meet, stel die produsent in staat om presisiebesluite te maak.

Dr Haney, verbonde aan die VSA Departement van Landbou se Landbounavorsingsdiens, het die Haney-toets ontwikkel om grondgesondheid deur sogenaamde “groen chemie” te meet. Die toets kan in enige grondtipe of bestuursopset gebruik word.

Hy is ’n pionier in die hantering van grond as ’n selfbehoudende biologiese stelsel. Hy het een aand in die stort besef dat dit water in die natuur reën en nie sure nie soos wat in grondchemiese laboratoriums gebruik word om nutriënte te ekstraheer. Hy besluit toe om ’n manier te vind om op ’n grondvriendelike wyse die beste moontlike inligting te kry oor wat natuurlik in die grond gebeur.

Gesonde grond voed reeds
Dr Haney het direkte vrae oor grondlewe en die interaksie tussen grondmikrobes gevra. Hy wou dit meetbaar uitdruk om te bepaal hoeveel kunsmis die produsent werklik nodig het. Dit is immers deurslaggewend vir volhoubare gesonde grondlewe.

Volgens prof Buz Kloot, medeprofessor by die Universiteit van Suid-Carolina in die VSA, is die bekende Haney-toets goed vergelykbaar met konvensionele toetse. Hy was vroeër vanjaar ’n spreker op die herlewingskonferensies wat Landbouweekblad saam met die Riemland-studiegroep, die Ottosdal-geenbewerkingsklub, Graan SA en die Soil Health Support Centre op Reitz, Ottosdal en Joostenbergvlakte gehou het.

Dr Haney praat reguit oor grond as ’n dinamiese, lewende, interaktiewe ekostelsel. Sy “groen chemie”-grondgesondheidsontleding behels die meting van mikrobiologiese aktiwiteit deur CO2-grondrespirasie en ’n swak organiese suurmengsel wat worteluitskeidings “namaak” (genoem H3A vir die minerale nutriëntekstraksie en water om die organiese koolstof en stikstof te ekstraheer).

Prof Kloot glo die impak van herlewingslandbou op graanproduksie kan besparing en volhoubaarheid verbeter.

Só werk die toets
Die laboratorium droog die grond vir 24 uur teen 50°C. Dit word dan deur ’n 2 mm-sif fyngemaak. Sowat 4 g droë grond word afsonderlik in twee proefbuise geplaas. ’n Derde monster van 40 g word in ’n geperforeerde houer geplaas wat in ’n groter glasfles met water geplaas word sodat kapillêre aksie die grond tot veldkapasiteit versadig. Na 24 uur word die CO2-konsentrasie gemeet. Die buis met H3A word tien minute lank geskommel om behoorlike ekstraksie en sentrifugale afsaksels te verseker, waarna dit gefilter word.

Dié ekstrakte word ontleed vir nitrate, fosfate en ander noodsaaklike minerale soos onder meer aluminium, yster, fosfor, kalsium en magnesium. Die dpm bevestig dan die hoeveelheid stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) in kilogram per hektaar deur die gebruik van ’n omskakelingsfaktor.

Dit bevestig ook anorganiese nitraatinhoud, ammoniakvlakke, fosfaat uit die H3A-ekstrak, die organiese stikstof sowel as organiese fosfor wat natuurlik deur mikrobiologiese aktiwiteit in die grond voorsien word.

Wat beteken dit?
Die toetsresultate is ’n goeie aanwyser van die hoeveelheid organiese stikstof in die grond wat nooit voorheen in berekening gebring is nie. Dit kan gebruik word om te bepaal hoeveel anorganiese aanvullings nodig is. “Dit is egter geensins die enigste aanwyser nie,” sê prof Kloot. “’n Goeie totale stikstofaanwyser (organies en anorganies) sal ’n lesing van tussen 60 dpm en 150 dpm wees. Weens swak biologiese bestuur is dit dikwels net tussen 25 dpm en 50 dpm.”

Prof Kloot beaam dat grond dinamies is en daagliks verander. “Dit maak voltydse data-insameling noodsaaklik. Organiese materiaal in en bo-op die grond, ook deur dekgewasse, is die kosfabriek van die mikrobes. Dr Haney se toets en nuwe, meer dinamiese grondontledings help produsente om grond beter te verstaan.”

Hy sê baie van die wateroplosbare organiese materiaal in die grond soos aminosure, suikers en koolhidrate kom tussen die gronddeeltjies voor. Dit is belangrike kos vir die mikrobes en is dikwels afskeidings van wortelgroei en dekmateriaal wat vog beskerm en biologiese aktiwiteit bevorder.

Volgens prof Kloot is 200 dpm – 300 dpm ’n baie goeie syfer vir die totale wateroplosbare organiese koolstof vir produksiegrond. Faktore soos sanderigheid maak dit moeiliker om optimale natuurlike stikstof-, koolstof- en kaliumvlakke te bereik en te handhaaf. “Die ideaal is om te sien hoe die presisiegemete hoeveelheid organiese stikstof minstens tot tussen 40% en 60% toeneem terwyl die anorganiese vlakke daal.”

Prof Kloot sê die natuur hou organiese stikstofvrystelling baie meer volhoubaar in stand as in die geval van anorganiese aanvullings. Produsente moet hul organiese grondmateriaal op mediumtermyn meetbaar verhoog om by die natuurlik volhoubare mikrobiologiese aktiwiteit te baat. Die Universiteit van Suid-Carolina doen tans ’n dieptestudie oor die verskillende mikrobegroepe in versteurde en onversteurde grond.

In die landerye van mnr Jason Carter, een van verskeie Amerikaanse produsente wat deur prof Kloot oor herlewingsboerdery geadviseer word, is die organiese stikstofvlakke oor die verloop van vier jaar van 20% tot 60% verhoog.

Oor dieselfde tydperk was daar, weens natuurlike praktyke wat tot beter mikrobiologiese aktiwiteit lei, ’n wisselvallige, maar duidelike toename in die totale organiese koolstofvlakke. “Ons sou hierdie syfer groter wou sien, maar kan in seisoenale gewasse sien dat daar ’n duidelike verband is tussen die hoeveelheid organiese materiaal en wateroplosbare organiese koolstof. Dit word daagliks beïnvloed deur die unieke dinamika van elke stuk grond.”

Toename in kaliumvlakke
Prof Kloot sê wat werklik treffend is, is die toename in die kaliumvlakke waar grond biologies bestuur word. “In 2014 het ons deur konvensionele ontledings ’n toename tot 200 kg K per hektaar gesien. Dit het tot ’n besparing van tot $65/akker (R386,43/ha) gelei asook besparings op verminderde stikstofaanvullings.”

Hy sê die akademiese aanbeveling is dat daar vir elke 1 kg ekstra opbrengs 20 kg meer stikstof per hektaar beskikbaar moet wees. “Dit word ’n baie duur werklikheid wat sinvol afbestuur kan word deur grondvriendelike, biologiese boerdery. In ons navorsing kon die universiteitsaanbeveling van 90 kg kunsmis/ha vir mielies in die VSA, deur die Haney-toetsaanbevelings tot 60 kg/ha verminder word. Dit is ’n aansienlike besparing.”

Prof Kloot meen dr Haney se meting van totale wateroplosbare organiese stikstof, totale wateroplosbare organiese koolstof en totale organiese fosfor is ’n baie nuttige aanwyser. So weet die produsent presies hoeveel kilogram N, P en K aanvullend nodig is om opbrengste te handhaaf of te verbeter, sonder om die grond chemies te oorlaai.