Planters wat wérk in die Wes-Kaap

Gepubliseer: 5 Februarie 2021

364
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

‘n Planter is een van die belangrikste implemente – indien nie dié belang­rikste – op enige saaiplaas, ongeag of die produsent koring, kanola, gars, hawer, mielies of sojabone verbou.

As die planter reg werk, is dit die eerste stap om die potensiaal vir ’n goeie oes te vestig. Die teendeel is ook waar: As daar ’n fout met die planter kom, kan dit nie maklik reggestel word nie.

Produsente in die Wes-Kaap wonder dikwels wat die beste planter is om in dié streek aan te skaf. ’n Mens kan die fout maak om te dink ’n planter moet mos maar net die saad in die grond kry, maar dit behels soveel meer. Die saad moet op die regte diepte en ewe ver uitmekaar geplaas word. Die planter moet dit vasdruk en die saad so toemaak dat dit beskerm is en goeie grondkontak het om gelyke ontkieming en opkoms te verseker. Dit het ’n direkte effek op die opbrengs: As die saad reg gespasieer is en gelyk opkom, sal die opbrengs vir seker beter wees.

In sommige areas moet die planter die saad op die regte diepte in droë grond kan plaas en toemaak sodat dit kan opkom as die eerste reën val. By bewa­ringslandbou moet die ekstra materiaal natuurlik ook hanteer word. Verder moet die planter die grond so min as moontlik versteur en die oesreste weer bo-op die rytjie kan plaas.

Met ’n enkelskyfplanter is dit belangrik dat die druk van die vere reg gestel is om die grond te kan penetreer.

Die Wes-Kaapse Departement van Landbou se bewaringslandbounavorsingspan toets tans vier verskillende skyfplanters, nadat die proewe vir 14 jaar met ’n tandplanter geplant is. Al die planters kan die werk doen, maar in die geval van skyfplanters is residue bo-op die grond van belang. In areas waar daar nie genoegsame materiaal is nie, kan ’n skyfplanter sukkel om die grond te sny. Hoe meer materiaal egter bo-op die grond lê, hoe makliker plant ’n skyfplanter.

Om reg te werk, moet die planter ’n voortjie maak om die saad in te plaas. Die saad moet korrek op die regte diepte geplaas, vasgedruk en toegemaak word. Hier moet ’n paar aspekte aandag kry. Daar is verskeie maniere om die voortjie te maak, insluitende die volgende:

  • Tande wat die saad agter plaas.
  • Gladde of gehapte snykouters.
  • Geriffelde snykouters of turbokouters.
  • ’n Dubbelkouter wat die voortjie maak nadat die snykouter die grond gesny het en die saad agterin plaas.
  • Enkelkouters wat ’n voortjie sny en die saad agter die skottel insit.

Volgens dr Johann Strauss van die Wes-Kaapse Departement van Landbou het hulle al ’n gladde en ’n gehapte snykouter gebruik en beide het hulle goed van hul taak gekwyt. By nie een was daar regtig ’n pro­bleem met hairpinning (waar stoppel vasgevang word in die saadbuis en ’n lugleegte om die saad vorm) nie. Die moontlikheid van hairpinning kom effens meer voor as die residue natter is. Beide die gladde en gehapte kouter het gemaklik deur die stoppel gesny en kon die voortjie vorm wat nodig is om die saad op die regte diepte te plaas. Tandplanters in die Wes-Kaap het hulleself al oor en oor bewys. Daar word egter al hoe meer gesien dat die skyfplanters ook die taak goed kan verrig en uiters goeie opbrengste lewer.

’n Dubbelskyfplanter het ’n snykouter voor die saadkouters asook die seed firmer wat in die saadvoor loop om die saad vas te druk.

Die voordeel van ’n dubbelskyfplanter, veral as die skywe effens uitklok na agter, is dat die materiaal ’n bietjie uit die plantry verwyder word en dat saailinge dan meer lig ontvang. Dit is veral wanneer kanola geplant word dat ’n verskil sigbaar is. Wat tandplanters betref, is daar die opsie om die saad regaf in die groef neer te sit of deur middel van enkel- of dubbelsaadlepels in die walletjie te plaas. Laasgenoemde twee soorte gee dalk ’n beter een­vormige saadplasing as die regaf tand. Die skyfplan­ters se akkuraatheid by die pla­singsdiepte van die saad is beter as die tandplanters. Tande skeur die grond nie egalig nie en alhoewel die saadstel­ling reg gestel is, word die saad nie ewe diep geplaas nie.

By snykouters is daar ’n paar tersaaklike punte om in ag te neem. Sodra die snykouter te klein of te groot is, het dit ’n negatiewe effek op die werking van die planter. Beide ’n te klein en ’n te groot snykouter sny die stoppel nie reg nie en dit kan hairpinning veroorsaak. Hoe groter die kouter, hoe meer krag is ook nodig om die kouter in die grond te kry. Dit beteken dat die planter swaarder moet wees om te sorg dat die groot snykouter die grond kan penetreer. As die snykouter te klein is, sny hy nie die stoppels nie, maar sleep dit saam.

Die stelling van die voorste snykouter is baie belangrik. As die kouter te diep loop, kan dit lei tot saad wat swak opkom. Verder kan dit veral by penwortelgewasse aanleiding gee dat die wortel draai en saam met die voortjie groei. Die snykouter moet net so diep werk as wat geplant word.

Verder speel planterspoed ’n deurslaggewende rol – te vinnig en te stadig is ewe nadelig. By eersgenoemde is die saadplasing verkeerd en word die grond te veel versteur. By laasgenoemde kry die produsent nie die nodige aksie van die kouters nie. Daar kan vinniger geplant word met skyfplanters en minder energie word gebruik as met tandplanters.

Om goeie saadgrondkontak te verkry, is ’n drukwiel van kritieke belang. Daar is heelwat verskillende toetrap- of vastrapwiele beskikbaar. Dit wil voorkom of ’n vastrapwieletjie direk agter die saadbuis voordelig vir goeie en gelyke ontkieming is.

’n Voorbeeld van ’n dubbelskyfplanter met skottels wat wyd uitmekaar is. Die skottels maak ’n wye voor en dit is belangrik om dit weer toe te maak.

Die toekrapwiele aan die agterkant speel ook ’n groot rol. Dit moet die plantervoor toemaak en die saad met grond bedek. Afhangende van die gewas, is dit ook voordelig indien die wiele die stoppel op die ry kan plaas. Daar is tans verskeie toetrapwiele in die mark beskikbaar. Elke soort het sy voor- en nadele wat ’n impak op die opkoms het. Bestudeer die verskillende verskaffers se handleidings en stel die wiele volgens die voorskrifte. As die wiele nie reg gestel is nie, het dit ’n groter impak as die soort wiele wat gebruik word.

Wanneer daar na bewaringslandbou oorgeskakel word, is ’n tandplanter dalk die regte opsie. Soos die grondstruktuur verbeter en stoppel opbou, kan produsente oorweeg om na ’n skyfplanter oor te skakel, maar dit is nie verpligtend nie. Planters bly ’n groot uitgawe, maar dit sal nie verkeerd wees om meer as een tipe planter op ’n plaas te gebruik nie.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.