Wurmplae wat kan pla

Gepubliseer: 5 Februarie 2021

758
Dr Gerhard Verdoorn,
bedryfs- en rentmees­terskapbestuurder, CropLife SA

Water is ’n lewegewende element waarsonder geen organisme op aarde kan bestaan nie. Wanneer water egter aan sekere temperature gekoppel word, kan dit tot landbouplae lei. Dis alombekend dat weerpatrone plantpeste se voorkoms en insidensie beïnvloed.

Goeie neerslae, hoë humiditeit en warm weer is bevorderlik vir plaaguitbrekings. Produsente moet dus die langtermynweer fyn dophou om voorbereid te wees op die aankoms en uitbreek van plantplae. Die trope van Afrika is teen einde September gekenmerk deur besonder hoë humiditeit en neerslae. Al wat Suid-Afrika benodig om daardie vogtige tropiese lug hierheen te lok, is warm binnelandse toestande met laedrukstelsels. Dit sal nie net help om reën te bring nie, maar sal ook die ontwikkeling van plaagkomplekse aanwakker en selfs nuwe vlae van ’n plaag soos die bekende herfskommandowurm kataliseer.

Suid-Afrika het onlangs ’n ernstige vier jaar lange droogte beleef. Toe die reëns uiteindelik aan die einde van 2019 opdaag, het die motte en wurms ’n skrikbewind begin voer. Die lang droogte gevolg deur goeie reën en warm weer het die wurmplae laat ontplof. Dit was ook nie verbasend dat die eer­ste sprinkaanuitbreking in meer as tien jaar vroeg in 2020 ervaar is nie. Grondvog was genoegsaam en die grond- en lugtemperatuur was so te sê reg – toe broei die sprinkane uit! Dit raak deesdae al hoe makliker om korttermyn- en langtermynweerpatrone te monitor – dit is die produsent se eerste wapen teen plantpeste.

Die mot van die herfskommandowurm.

Monitering van wurmplae
Voorkoming is beslis goedkoper en meer suksesvol as beheeraksies. Die enigste manier om te voorkom dat plantplae gewasse invaar en grootskaalse skade veroorsaak, is om te weet waar en wanneer daardie plae gaan opdaag. Verkenning is ewe belangrik vir kontantgewas- en boordprodusente. Daardie tyd van die dag wanneer almal reeds in die huis is en vir aandete begin voorberei, is wanneer die motte aktief raak en rondvlieg.

Of dit nou jong mielies of kanola is wat op die land staan, die produsent móét teen sononder ver­kenning doen. Kyk oor die landerye heen en soek na beweging. Wurmplae soos die herfskommandowurm se motte beweeg in “wolke” en vaar dan die landerye in waar hulle paar en eiers lê wat die gewasse later van tyd beskadig. Moet ook nie vergeet dat motte na die plaasopstal se helder ligte aangetrek word nie. ’n Groot aantal motte op die voorstoep of onder die sekerheidslig by die stoor is gewis ’n rede tot kommer.

Afrika-bolwurm

Die verskillende motspesies is egter moeilik om te onderskei. Die produsent moet dus fyn oplet na die bepaalde kenmerke wat die spesies sal identifiseer. Goeie hoëresolusiefoto’s kan via WhatsApp na 082 446 8946 (CropLife SA se Goggagroep) gestuur word, waar die kenners ten minste kan aandui of dit herfskommandowurm, Afrika-bolwurm, patatadder, bolwurm of ’n verwante spesie is. Verder moet produsente van feromoonlokvalle gebruik maak wat redelik spesiespesifiek is. As daar meer as ’n sekere aantal mannetjiemotte per nag gevang word, moet die produsent voorberei op beheeraksies.

Visuele verkenning in gewasse is noodsaaklik. Dit is moeilik vir CropLife SA om raad te gee oor plaaginvalle as die wurms “al so groot soos lui­slange is”. Sulke wurms was al vir etlike weke in die gewas teenwoordig en die skade wat hulle veroorsaak, is enorm. ’n Produsent behoort elke tweede dag in die landerye te soek na eierpakkies op blare en motte wat in ongewone getalle waargeneem word. Dit is alreeds rede tot kommer. Eierpakkies kom nie altyd bo-op gewasse se blare voor nie en verg dus moei­te om op te spoor. Die herfskommandowurm se eier­pakkies sit bo-op die mielieblare en lyk soos wit miniatuurvuurhoutjies wat styf saamgebondel is.Slegs ’n paar dae verloop voordat die wurmpies uitbroei en die produsent gereed moet wees om beheeraksies toe te pas.

Daar is gelukkig reeds verskeie van die GM-mieliekultivars wat benewens die stronkboorder ook die herfskommandowurm self beheer. Mielies wat nie die Bt-geen bevat nie, is egter steeds uiters kwesbaar vir dié plaagspesies en monitering is noodsaaklik.

Herfskommandowurm

Vroeë beheer is beter as krisisbestuur
Inseklarwes soos wurms in hul eerste en tweede instars (groeifases) is hoogs sensitief vir die meeste plaagdoders, terwyl die latere groeifases hardnekkig teen plaagdoders baklei. Dit is welbekend dat die herfskommandowurm teen piretroïede en sommige organofosfate weerstandig is en dat selfs swaar dosisse van sulke middels nie die volwasse wurms beheer nie. Middels soos indoksakarb en emamek­tienbensoaat is wel suksesvol, maar dit moet aangewend word voordat die larwes die koppe invaar omdat die skutblare penetrasie van plaagdoders totaal onmoontlik maak. CropLife SA word jaar na jaar gebombardeer met navrae van produsente oor grootskaalse infestasies van wurmplae in kanola en mielies wanneer die wurms al heeltemal volgroeid is. Teen daardie tyd is dit feitlik onmoontlik om die gewas te red, selfs al word die “hardste” chemie gebruik.

Vroeë plaagbeheeraksies beteken dat produsente “sagter” middels soos biologiese produkte kan gebruik. Biologiese middels, soos die verskillende Bacillus thuringiensis-bakterieë, het nie ’n onmiddellike uitklopaksie soos chemiese middels nie. Hulle veroorsaak egter dat die klein wurmpies ophou om aktief te vreet en verminder so die moontlike skade. Vir latere instars moet produsente middels soos indoksakarb oorweeg, wat ’n besonder vinnige terminering van eetlus by die wurms veroorsaak.

Wanneer wurms reeds die lengte van ’n pinkie is, verg hulle harde chemie wat dikwels nie gespuit kan word nie omdat die onttrekkingsperiode (die tydperk voor die gewas geoes mag word) onvoldoende is. Vroeë beheer is dus definitief die antwoord. Onthou dat geen middel op ’n gewas of plaag aangewend mag word as dit nie daarvoor geregistreer is nie. Al die inligting oor plaagdoders is beskikbaar op www.agri-intel.com. Die webtuiste is maklik om te gebruik, met ten minste 20 soekfunksies wat die produsent kan lei na die korrekte plaagdoder om aan te wend.

Rol van meganiese en geenbewerking in plaagbiologie
Die landbousektor het reeds jare gelede besef dat jaar-op-jaar-bewerking niks goeds vir die grond inhou nie. Daar word stadig maar seker oorgeskakel na minimum of geenbewerking ter wille van die grond. Ongelukkig is dit so dat geenbewerking sekere insekplae kans gee om maklik te oorwinter en so die volgende jaar die gewas weer met mening aan te val. Die ploegaksie het plae, siektes en onkruide help onderdruk, maar daardie meganiese beheeraksie vind nie meer plaas nie. Selfs die nagmuise trek voordeel uit geenbewerking en dit vererger jaar op jaar! Produsente behoort so dan en wan die grond te ploeg om die plae, siektes en onkruide net weer ’n slag te wys wie is baas.

Onkruidbeheer rondom gewasse
Dit is haas ondenkbaar dat ’n produsent onkruide buite om gewasse moet beheer. Dis egter noodsaaklik wanneer dit by spesies soos die herfskommandowurm kom, omdat heelwat onkruidspesies as gasheer vir dié plaag optree. As onkruide welig om die gewaslanderye staan, het die herfskommandowurm ’n veilige hawe om sy bevolking te vestig, aan te teel en dan die gewas op die regte tyd in te val en skade aan te rig. Meganiese sny met ’n trekker en snyer is goed genoeg om die onkruidvolume te verminder sodat die motte nie daar eiers kan lê nie.

Teikengewasse vir die herfskommandowurm
Alhoewel mielies altyd die grootste kommer is wanneer die herfs­kommandowurm kop uitsteek, is dit nie die enigste gewas wat skade kan opdoen nie. Die onlangse verlede het bewys dat sonne­­blomme, sojabone, droë bone, suikermielies en verskeie groentesoorte ook deur die herfskommandowurm geteiken word. Alle produsente, ver­al diegene wat gemengde boerderye het, moet op die uitkyk wees na dié pes in die volgende paar maande.