Die 4R-voedingsbeheerraamwerk en Kynoplus Pro®

Gepubliseer: 1 Junie 2025

283

Die 4R-voedingsbeheerraamwerk, naamlik regte bron, regte hoeveelheid, regte tyd en regte plek, is ’n baie bekende, wêreldwyd erkende raamwerk wat ontwerp is om boere en landboukundiges te lei tot doeltreffende, volhoubare en omgewingsverantwoordelike voedingstofbestuur. In graangewasse soos mielies, koring en gars is behoorlike stikstofbestuur van kritieke belang om opbrengste te maksimeer, stikstofgebruiksdoeltreffendheid (NUE) te verbeter en omgewingsverliese te verminder. Die toepassing van die 4R’s op stikstofbemesting in grane help verseker dat die voedingstof op ’n manier gebruik word wat beide gewasproduktiwiteit en omgewingsrentmeesterskap bevoordeel.

1. Regte bron: die keuse van die toepaslike stikstofkunsmis
“Regte bron” verwys na die keuse van ’n stikstofkunsmis wat by die graangewas se behoeftes en die grond se chemiese en fisiese eienskappe pas.

Verskeie opsies is in die mark beskikbaar, byvoorbeeld ureum, ammoniumsulfaat, ammoniakgas, KAN, gestabiliseerde stikstof en stikstof met beheerde vrystelling. Elk het sy eie unieke voor- en nadele. Die keuse van die regte bron help om verliese te verminder deur vervlugtiging, loging en denitrifikasie, wat almal algemeen in graanstelsels voorkom, veral onder hoë reënval- of swak gedreineerde toestande. Kynoplus Pro®, die nuutste generasie urease-inhibeerder, bied ’n oplossing deur ’n hoog gekonsentreerde, koste-effektiewe stikstofbron te gebruik sonder die hoë risiko van vervlugtiging.

2. Regte hoeveelheid: die toediening van die korrekte hoeveelheid stikstof
Die toediening van die korrekte hoeveelheid stikstof is van deurslaggewende belang om in die gewas se voedingsbehoeftes te voorsien sonder om ’n oormaat toe te dien, wat tot vermorsing en omgewingskade kan lei. Te min stikstof lei tot swak groei, laer stoelvermoë (in graansoorte soos koring) en laer graanopbrengste. Te veel stikstof kan oormatige vegetatiewe groei, vertraagde volwassenheid, omval en verhoogde vatbaarheid vir siektes veroorsaak.

Produsente bepaal dikwels die regte hoeveelheid deur die volgende te doen of te gebruik:

  • grondontledings om bestaande stikstofvlakke te bepaal
  • opbrengsmikpunte om stikstofbehoeftes te skat
  • inagneming van bestuurspraktyke wat stikstof tot die sisteem kan byvoeg
  • in-seisoen-sensors of modelle om die hoeveelheid aan te pas soos gewasse groei

Deur meer toegediende stikstof in plantbeskikbare vorm te bewaar, verbeter Kynoplus Pro® die stikstofgebruiksdoeltreffendheid (NUE), wat beteken dat laer dosisse dieselfde werking as byvoorbeeld ureum verrig.

3. Regte tyd: koppel die stikstoftoediening aan die gewasaanvraag
Graangewasse het spesifieke groeistadiums wanneer stikstofopname die hoogste is. By mielies vind die meeste stikstofopname tussen V6 (sesblaarstadium) en tosselverskyning plaas. By koring word stikstof die meeste benodig tydens stoelvorming en weer tydens stamverlenging. Indien die tyd van stikstoftoedienings met hierdie stadiums saamval, verbeter die opname en verminder die verliese. Tydsberekeningstrategieë soos om die stikstof in kleiner toedienings op te deel kan gebruik word. ’n Gedeelte kan tydens plant toegedien word en ’n ander gedeelte kan byvoorbeeld tydens vroeë groei of piekopname toegedien word. Topbemesting kan aangewend word vir opbrengskorreksie en om vroeëseisoenverliese te vermy. Kynoplus Pro® verlaag vervlugtiging en bied meer buigsaamheid met die toedieningstyd.

4. Regte plek: posisionering van stikstof vir effektiewe opname
Plasing van stikstofkunsmis beïnvloed die toeganklikheid tot plantwortels en die blootstelling aan omgewingsverlies. Dikwels word stikstof breedwerpig op die oppervlak uitgestrooi. Die praktyk kan tot verliese lei indien die stikstof nie behandel is nie of dit nie ingewerk word nie. ’n Ander praktyk is bandplasing waar die stikstof in ’n gekonsentreerde sone naby die plantwortels geplaas word. Dié praktyk verbeter opname maar kan vervlugtiging bevorder. Kynoplus Pro® bied die produsent die geleenheid om die stikstof op die oppervlak toe te dien terwyl die vervlugtiging beheer word. Dit beheer ook die vervlugtiging in n gekonsentreede sone.

Die 4R-voedingsbeheerraamwerk is noodsaaklik vir volhoubare en produktiewe stikstofbestuur in graangewasse. Dit verseker dat stikstof toegedien word op ’n manier wat die opname van gewasse maksimeer terwyl omgewingsverliese so ver moontlik beperk word. As ’n urease-inhibeerder is Kynoplus Pro® ’n waardevolle hulpmiddel in hierdie stelsel, veral wanneer ureum die stikstofbron is, omdat dit die doeltreffendheid van oppervlaktoegediende stikstof verbeter, beter aansluit by plantstikstofaanvraag en algehele doeltreffendheid binne die 4R-beginsels verhoog. Kontak gerus ons span kundige landboukundiges vir verdere inligting en hulp.

International Plant Nutrition Institute (IPNI). 2012. 4R plant nutrition manual: A manual for improving the management of plant nutrition. Norcross, GA: IPNI.

Kynoplus Pro® korrels in ‘n drone.