Spruite: Goed of sleg?

40
Hendrik Linde,
landboukundige:
Wes-Vrystaat,
Pannar Saad

In beide moeilike en goeie jare wil mielieprodusente die beste moontlike opbrengs wat deur die natuur toegelaat word, behaal. Daar is al vir dekades ’n debat of spruite voordelig is en of dit soos in Engels genoem ’n sucker is wat slegs die hoofplant van water en kosbare voedingstowwe beroof.

Om die vraag te beantwoord, word daar gekyk na hoe spruite ontwikkel. Let egter daarop dat die feite wat hier genoem word meer van toepassing is by laer plantestandtoestande soos wat veral in die westelike produksiegebiede gevind word.

Spruitvorming
Spruitvorming word deur vyf faktore beïnvloed, naamlik genetika, plantdigtheid, beskikbare vog, voeding en omgewing.

Genetika
Mielies is deel van die Poaceae-familie en spruitvorming is deel van hierdie plantgroep se genetika. Daar is egter verskille tussen genetiese groepe ten opsigte van hul geneigdheid tot spruitvorming – sekere genetiese agtergronde is baie meer geneig tot spruitvorming as ander.

Plantdigtheid
Plantpopulasie kan bydra daartoe of ’n mielie gaan spruit of nie. In baie gevalle is dit nie iets soos rywydte wat daarvoor verantwoordelik is nie, maar eerder die spasiëring binne die ry.

Hoe groter die spasie tot ’n plant se beskikking, hoe groter is die kans vir die plant om te kompenseer om die spasie effektief te benut.

Beskikbare vog
Vog is sekerlik een van die produsent se grootste beperkende faktore. Indien daar egter genoeg vog teenwoordig is en toestande is gunstig, kan die mielie moontlik meer spruite produseer.

Voeding
Algehele grondvrugbaarheid kan aanleiding gee daartoe dat mielies spruite produseer. Waar hoë konsentrasies kunsmis gebandplaas word, is mielies geneig om meer spruite te vorm.

Omgewing
Omgewingsfaktore, spesifiek die voorkoms van koue toestande tydens die vroeë ontwikkelingsfase, is een van die belangrikste bydraende faktore vir die produksie van spruite. Dit is ook een van die redes waarom mielies meer geneig is om spruite te vorm by ’n vroeë plantdatum as by later plantdatums.

In die meeste gevalle is dit nie net een van hierdie faktore wat spruite inisieer nie, maar eerder ’n kombinasie van verskeie faktore.

Voordele
Alhoewel die faktore wat bydra tot die voorkoms van spruite bekend is, word die vraag dikwels gevra of spruite goed of sleg is en of daar enige voordeel daarin is om ’n baster te plant wat geneig is om te spruit.

Die afgelope paar seisoene was sekerlik van die moeilikste seisoene ooit in Suid-Afrika en het van uitermatig droog tot nat gewissel.

Onder moeilike toestande gebeur dit soms dat die finale plantestand ’n grensgeval is en ’n besluit word geneem om nie oor te plant nie. In hierdie geval moet die mielie voldoende kan kompenseer sodat ’n gemiddelde opbrengs steeds behaal kan word.

In die geval van ’n nat jaar, onder gunstige toestande, is dit belangrik dat die mielie die beskikbare bronne benut en ’n bogemiddelde opbrengs lewer.

Verdere voordele van spruite sluit die volgende in:

  • Groter blaaroppervlakte (groter fabriek): Die groter blaaroppervlakte van plante met spruite impliseer ’n potensiële verhoging in voedingsbehoeftes en watergebruik, maar verhoog terselfdertyd die hoeveelheid fotosintaat wat geproduseer en gebruik word vir die groei en ontwikkeling van die plant.
  • Groter aantal koppe (hoofstam plus spruite): Sekere genetiese agtergronde se spruite het die vermoë om koppe te produseer wat kan bydra tot die graanopbrengs. Op die ou end is die opbrengs gelyk aan die aantal koppe wat per hektaar geoes word.
  • Indien die sinkronisasie van stuifmeelstorting en baardverskyning uit is, soos dikwels die geval is in droë jare, help spruite met die bestuiwing van die baard. Die rede vir swak sinkronisasie is dat die baard van die mielie hoofsaaklik uit water bestaan en in uitermatige droogtetoestande hou die mielie die baard terug. Droë toestande tydens blomstadium veroorsaak dat die stuifmeel klaar gestort word, terwyl die baard eers verskyn nadat dit ’n ruk later gereën het. Gelukkig gee die voorkoms van spruite in so ’n geval ’n uitkoms, waar die spruite die koppe op die hoofstamme kan bestuif of self volwaardige koppe produseer wat vir ’n gemiddelde opbrengs sorg teenoor ’n misoes. ’n Spruit stort gewoonlik sy stuifmeel tien dae later as die hoofstam se pluim.
  • Enige skade op die hoofstam/spruite veroorsaak translokasie van assimilate (organiese verbindings soos suikers wat deur fotosintese geproduseer word). Dit beteken dat as daar vir een of ander rede skade is aan die hoofplant se koppe wat veroorsaak dat daar nie kopvorming sal plaasvind nie, sal die plant dan die beskikbare voedingstowwe na die spruite translokeer om koppe op die spruite te vul of andersom.

Proef
In ’n proef wat in die Lichtenburg-omgewing gedoen is, is die blaaroppervlakte en opbrengs gemeet van enkelstammige plante, plante met een spruit en plante met twee spruite.

Uit Grafiek 1 kan duidelik gesien word dat blaaroppervlakte en opbrengs direk aan mekaar gekoppel is en dat plante met twee spruite ’n aansienlik hoër opbrengs as dié met net een of sonder enige spruite behaal het.

As daar ’n som gemaak word teen ’n finale stand van 18 000 plante per hektaar is die opbrengste 7,45 t/ha vir plante met twee spruite, 6,08 t/ha vir plante met een spruit en 3,96 t/ha vir enkelstammige plante. Teen ’n graanprys van R2 000/ton is daar R2 740/ha en R7 000/ha verskil by plante met een spruit en enkelstammige plante onderskeidelik. (Erkenning: JF Verwey en PS Hammes)

Daar is by Kroonstad ook ’n proef gedoen wat die voordeel van spruite geïllustreer het. Die baster PAN 5R-791BR, wat geneig is tot spruitvorming, is by drie behandelings getoets. In die eerste behandeling is die spruite verwyder (Foto 1), by die tweede behandeling is die hoofplante heeltemal ontblaar en die koppe van die spruite verwyder (Foto 2) en by die derde behandeling wat as kontrole gedien het, is die plante gelos om natuurlik te ontwikkel (Foto 3).

Die opbrengste is bereken deur ses plante in elke behandeling te oes. Die koptellings sowel as opbrengs per hektaar is bepaal. Grafiek 2 illustreer hoe groot die verskil in koptelling sowel as opbrengs per hektaar van die plante met spruite teenoor die plante sonder spruite was.

Dit is ook baie interessant om waar te neem dat die plante waarvan die hoofstam ontblaar is, nog ’n opbrengs van 1,69 t/ha kon behaal. Dit toon dat die fotosintaat wat deur die spruite geproduseer word, na die hoofplant se koppe getranslokeer is en gesorg het dat daar tog graan geproduseer kon word. Die voordeel hiervan in die geval van haelskade word duidelik geïllustreer.

Die behandelings van plante sonder spruite teenoor plante met spruite moet egter hier vergelyk word. Daar is ’n verskil van 3,5 meer koppe per plant op die plante met spruite, wat vir ’n opbrengsverhoging van 4,05 t/ha gesorg het. Teen ’n graanprys van R2 000/ton is dit ’n verskil van R8 100/ha.

Slotsom
Die slotsom is dat spruite baie meer voordele as nadele inhou. As dit by basterkeuse kom, moet daar egter gewaak word daarteen om meer­koppige basters wat geneig is tot spruitvorming te dik aan te plant. Daarteenoor moet enkelstammige en enkelkoppige basters teen ’n hoër plantestand aangeplant word om dieselfde aantal koppe per hektaar te produseer as meerkoppige basters.

Daar is ’n plek vir enkelkoppige sowel as meerkoppige basters, maar dit moet korrek aangewend word – dan sal beide tot hul reg kom.