Benut die natuur se gratis dienste

Gepubliseer: 4 Februarie 2021

1929

Izak Dreyer,
produsent, Dreyer en Dreyer Bdy Bk
Andre Naudé,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Marnus Strydom,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Japie Delport,
plaasbestuurder, Dreyer en Dreyer Bdy Bk

Hierdie is die eerste van twee artikels waarin Dreyer en Dreyer Bdy Bk se reis van ’n konvensionele gemengde boerdery na ’n bewarings­landboustelsel vanuit hul eie perspektief beskryf word.

Die boerdery is ’n gemengde boer­dery in die Vrede-distrik in die Noordoos-Vrystaat, wat bestaan uit akkerbougrond (20%) en natuurlike veld (80%), tipies van dié Hoëveldstreek. Diversifikasie word bevorder deur ’n braaikuiken­vertakking, wat nie verder in hierdie artikel bespreek sal word nie.

Ervarings in die reis
Tien jaar gelede het ons begin met geenbewerking op die bestaande wisselboustelsel, wat bestaan het uit mielies (50%) en sojabone (50%). Daarna is begin om winterdekgewasse (WD) ná sojabone te plant om sodoende reënval meer doeltreffend te benut en die grond beter te bedek (Foto 1). Op sowat 10% van die grond het ons ook begin eksperimenteer met somerdekgewasse (SD). Ons moes deurentyd aanpassings maak soos wat ons ondervinding en kennis verbreed het.

Na ’n besoek aan dr Dwayne Beck van die Dakota Lakes-proefplaas in Noord-Dakota, VSA, het ons besef dat te veel peulplante in ’n wisselboustelsel koolstof in die grond kan afbreek. Daar het ons ook die positiewe impak van dekgewasse – veral SD – op grondvrugbaarheid gesien. Ons wou graag meer SD plant, maar was bekommerd oor die verlies aan inkomste weens die vermindering in oppervlakte waarop kontantgewasse verbou word.

Voordele en uitdagings
Om die vele voordele van dekgewasse te benut, moes ’n manier gevind word om inkomste daardeur te genereer. Dit het ons gedoen deur die dekgewasse met produserende lewende hawe te benut. Eers is begin met slegs speenkalwers, wat daarna in ’n voerkraalstelsel afgerond is voordat hulle deur normale kanale bemark is (Foto 2).

Hierdie stelsel was egter besonder intensief wat betref finansiële en arbeids­hulpbronne, wat aanleiding gegee het tot ’n verande­ring in ons bemarkingstrategie. Speenkalwers is teruggehou en op 500 kg as vrylopende diere (free range) bemark (Foto 3). Verder word jong ooie wat gepaar word asook ooie wat lam tans op die dekgewasse geakkommodeer. Hiervoor moes ons stelselaanpassings maak, maar dit het verdere voordele soos groter diver­siteit mee­gebring. Die afgelope twee jaar was die vee op dekgewasse meer winsgewend as die kontantgewasse. Ons beplan om in die toekoms selfs meer dekgewasse aan te plant asook om te begin om meerjarige dekgewasse te vestig.

Van al die uitdagings met bewaringslandbou, is die grootste sekerlik om ’n mens se eie kop agter die stelsel te kry. Ure se navor­sing (veral op die Internet), heelwat eie waarnemings en proewe, gesprekke met medebewaringslandbouprodusente, bywoning van die jaarlikse kongresse, oorsese besoeke en ’n ondersoekende gees het alles gehelp om die pad vir ons oop te maak. Al die inligting, konsultasies en op-die-plaas-navorsing wat vanaf Graan SA se bewaringslandbouprogram gekom het, het vir seker die grootste bydrae tot ons boerdery gelewer.

Elke dag wat ons met bewarings- of herlewings­landbou besig is, voel dit of daar nog ’n blokkie in die legkaart inpas. Hierdie waarneming en bewuswording van hoe die natuur sy werk doen, maak boerdery besonder bevredigend. Dieselfde beginsels wat ons op die saaiboerdery toegepas het, het ons nou net so oorgedra na ons veeboerdery op natuurlike veld met hoëdrukbeweiding. Ons glo dat nieselektiewe beweiding en veral langer rus­periodes (12 maande tot 14 maande) beter en meer in lyn met die natuur se manier van doen gaan wees. Deur meerjarige plante die kans te gun om hulle fisio­logiese behoeftes te bevredig en terselfdertyd die diere se voedingsbehoeftes te bevredig, hoop ons dat drakrag tot so ’n mate kan verhoog dat eko­stelseldienste soos waterinhoud- en voedingselementsiklusse sal verbeter (Foto 4).

’n Kort beskrywing
Fase 1: Die vereiste bedekking van die grondoppervlak was moeilik bereikbaar. Dit het ons genoop om mie­lies op te volg met mielies. Mieliereste breek weens ’n wye koolstof-tot-stikstof- (C:N-)verhou­ding stadig af.Wisselbou met sojabone, SD en weer sojabone het daarna gevolg. Intensifikasie deur die plant van WD na beide van die gewasse is moontlik, veral as kortgroei­seisoensojabone geplant word.

Fase 2: Na ’n besoek aan die VSA het ons besef dat daar te veel peulgewasse in die wisselboustelsel is. Dit is toe verkort deur een sojaboonaanplanting weg te laat. Sojabone as ’n gewas los min reste op die grond en weens ’n noue C:N-verhouding breek dit vinnig af. Mikrobes kan stikstof (N) wat gemineraliseer word dan gebruik om grond- organiese materiaal af te breek – wat nie ideaal is nie. Op hierdie stadium is ons in ’n herstelfase en vinnige opbou van koolstof in ons grond is die hooffokus (Foto 5).

Fase 3: Die bemarking van ons manlike aanteel op ’n 2,5-jarige ouderdom maak dit vir ons moontlik om meer dekge­wasse te plant, wat verseker dat ons vir langer lewende wortels in ons grond kan hê. Sonlig word hierdeur optimaal benut en foto­sintaat, wat ongeveer 40% van die produk van fotosintese uitmaak, word deur die wortels in die grond afgeskei waar dit vir mikrobes as voedsel dien. So verbeter grondstruktuur en -vrugbaarheid ook. Die stadige afdroog van mielies voordat dit gestroop kan word, skep weens ’n tekort aan grondvog probleme met die WD-aanplantings. Op­slagrog- en -korogsaailinge wat ontwikkel indien die vorige WD gelos word om saad te skiet, hou belofte in. Dit sal insetkoste en werkslading verminder (Foto 6).

Fase 4: Verandering is die enigste konstante op hierdie stadium. ’n Toekomstige stelsel kan moontlik die volgende behels: Mielies > SD > sojabone > SD met WD na elkeen. Ons wil ook in die nabye toekoms meerjarige dekgewasse vestig. Daarna sal meerjarige en eenjarige dekgewasse dit maar vir die eerste plek moet uitspook na aanleiding van die somme. Ons hoop eintlik meerjarige dekgewasse wen, aangesien die groter wortelstelsel die potensiaal het om heelwat meer koolstof in die grond vas te lê. Sou dit so wees, sal ons die huidige praktyke vereenvoudig en volhoubaar bevorder. Ultrahoëdrukbeweiding op natuurlike veld toon uitstekende poten­siaal en is dalk die volhoubaarste op lang termyn. ’n Verdere opsie is om meer diversifikasie met verskillende spesies diere te bewerk­stellig. Markkragte en verbruikersvoorkeure sal hier leiding verskaf.

Opsomming
Die belangrikste les wat ons geleer het, is dat ons die ekostelsel­diens­te wat die natuur gratis verskaf, moet gebruik. Vind uit hoe dit werk en doen navorsing. Boerdery saam met die natuur is uiters bevredigend – dit is werklik boer!