Identifiseer tekorte vroeg vir beter voorsorg

Gepubliseer: 3 Augustus 2020

1474
Hendrik Linde,
landboukundige, Pannar

2020 is verklaar as die internasionale jaar van plantgesondheid. Dit was dan ook Pannar se tema tydens vanjaar se Extravaganzas. Maar wat beteken plantgesondheid?

Plantgesondheid handel oor ekosisteemgesondheid – met ’n spesiale fokus op plante. Dit behels die beheer van plantplae, -siektes en -patologie, byvoorbeeld deur plantsiektes te voorspel en die nodige voorsorgmaatreëls te tref.

Ekosisteemgesondheid word gebruik om die toestand van ’n ekosisteem te beskryf. Ekosisteemtoestande kan wissel as gevolg van oorstromings, droogtes, klimaatsveranderings en ander redes.

Hierdie artikel fokus op die abiotiese faktore wat plantgesondheid kan affekteer. Abiotiese faktore is alle nielewende faktore wat die aard van die omgewing bepaal. Dit is belangrik om skade en siekte- of gebreksimptome reg te identifiseer om sodoende op die regte oplossing te besluit. Dit is altyd beter om voorkomend eerder as regstellend op te tree. Dit is ook belangrik om te onthou dat wanneer simptome op die plante waargeneem word, daar vir seker reeds ’n oesverlies sal wees. Die persepsie bestaan verder dat mielies wat op ’n vroeë groeistadium droogtestremming ervaar ’n beter wortelstelsel sal ontwikkel. Dit is egter glad nie waar nie.

Bemesting
Bemesting is ’n baie belangrike faktor waaroor die produsent wel beheer het. Die benadering tot bemesting behoort te wees om eerstens te sorg dat die grondstatus in balans is deur gebruik te maak van ’n grondontleding. Daarna behoort aandag gegee te word aan die onttrekking deur die vorige gewas en die voedingsbehoeftes en opbrengspotensiaal van die gewas wat gaan volg.

In die seisoen is dit baie belangrik om enige voedingstekorte reg te identifiseer. Figuur 1 is die ideale hulpmiddel om te sien watter elemente waar op die plant tekorte sal wys. Die akkuraatste manier is om in die seisoen van blaarontledings gebruik te maak om moontlike tekorte wat kan voorkom, eerder voorkomend as regstellend te hanteer.

Figuur 1: Voedingstekorte kan deur middel van die diagram geïdentifiseer word deur te kyk watter elemente waar op die plant tekorte sal wys.

Makro-elemente
Stikstof (N)
Stikstof is een van die belangrikste elemente wat opbrengs bepaal. Op die sandgronde van die Wes-Vrystaat is die bestuur hiervan baie belangrik, omdat die gronde baie arm is aan N en laag gebuffer is as gevolg van die lae klei-inhoud en stikstof wat maklik uitloog. Wees waaksaam waar hoë peile van N en K saam gebandplaas word. Die gesamentlike hoeveelheid moet nie 60 kg/ha tot 70 kg/ha oorskry nie, aangesien hoër peile die wortels kan brand as gevolg van ’n te hoë soutindeks.

Verder is stikstof ’n komponent van alle essensiële proteïene en ensieme. Dit speel ’n deurslaggewende rol in ’n plant se groei en ontwikkeling en dra by tot chlorofilproduksie. Te hoë N-bemesting te vroeg in die plant se ontwikkeling kan egter veroorsaak dat die energie eerder gebruik word vir bogrondse vegetatiewe groei ten koste van graanproduksie. Tekortsimptome begin by die punt van die onderste blare deur geel verkleuring en nekrose en beweeg in ’n V-vorm na die kraag van die blaar (vandaar die beskrywende naam – omgekeerde-V-voorkoms).

Fosfor (P)
Fosfor dra veral by tot goeie wortelontwikkeling. Dis baie belangrik by vroeë groeikragtigheid van die saailing, wat basies beteken dat P ’n energiebron is. Behalwe N is P die mees beperkende faktor in grond en die beskikbaarheid daarvan word deur die grond se pH beheer (Figuur 2). Fosfor is betrokke by fotosintese en respirasie, dit is ook ’n komponent van DNS en RNS en speel ’n noodsaaklike rol in energiemetabolisme. Fosfaattekortsimptome word tipies aangetref by jong mielieplante na ’n tydperk van koel grondtemperature. Tekortsimptome kom op ’n jong stadium voor, waar verpersing/verbruining van die blaarpunte terugwaarts op die blaarrande van die ouer blare op die plantjie voorkom. Baie keer is die simptome sigbaar by plante waarvan die wortelontwikkeling nie na wense is nie.

Figuur 2: Die effek van pH op nutriëntbeskikbaarheid.

Kalium (K)
Alhoewel kalium oor die algemeen in hoë vlakke in gronde aangetref word, beteken dit nie dat dit in ’n opneembare vorm voorkom nie. Dit is een van die duurste elemente om met bemesting toe te dien en daarom word dit maklik afgeskeep. Waar kalium selfs in klein hoeveelhede bemes word, word daar gewoonlik goeie reaksie gekry, wat uiteindelik geld in die produsent se sak sal beteken. Daar is twee bronne van kalium, naamlik KCl en K2SO4. KCl is die goedkoopste en algemeenste vorm, maar waak daarteen om dit op gronde wat hoog in natrium is, toe te dien. Dit kan NaCl (tafelsout) vorm en sodoende die grond verbrak. Kalium aktiveer ook baie ensieme tydens fotosintese, respirasie en tydens stysel- en proteïensintese. Dit speel ’n belangrike rol by die stomata- of huidmondjiebeheer en dit hou die sel se osmotiese potensiaal en dus die staat van turgordruk intakt. Dit help verder met die groei en ontwikkeling van plantwortels. Tekortsimptome verskyn eerste op ouer blare en dit kan die vorm van vergeling en later nekrose van blaarrande aanneem. N- en K-tekortsimptome kan wys waar koppe nie volledig gevul is nie (pitte wat op die punte van koppe terugspeen).

Kalsium (Ca)
Kalsium is essensieel vir normale membraanfunksies in alle selle. Dit speel ’n rol in selwandvorming sowel as seldeling by meristeme en wortelpunte. Tekortsimptome kan maklik met grasdoderskade verwar word, omdat die blaarpunte ook sweepslagsimptome toon deurdat die punte van al die blare vasgeknyp word.

Magnesium (Mg)
Magnesium vorm deel van die chlorofilmolekule en is noodsaaklik vir chlorofilproduksie. Dit verhoog die aktiwiteit van adenosientrifosfaat (ATP) in baie chemiese reaksies en tree op as ensiemaktiveerder vir baie ensieme betrokke by fotosintese en respirasie asook vir DNS- en RNS-sintese. Tekortsimptome word op die onderste blare aangetref met geel verkleuring tussen die blaarnerwe (kraletjies). Die blaarrande verkleur later pers tot rooi. Sandgronde is meer geneig tot Mg-tekorte.

Swael (S)
Swael is ’n komponent van twee aminosure, naamlik sisteïen en metionien en is dus ’n komponent van vele proteïene. Dit is ook ’n komponent van twee vitamiene, naamlik tiamien en biotien en vorm deel van die koënsiem-A-struktuur wat essensieel is vir respirasie en die afbreek van lipiede (vette). Swael is nie baie beweeglik in die plant nie en tekortsimptome kom voor met die boonste, jonger blare wat gewoonlik ligter van kleur as die ouer blare is. Dit kan voorkom as algehele chlorose en selfs tussen-nerfse vergeling. Dit kom meer algemeen op sanderige gronde met ’n lae organiesemateriaalinhoud voor. Koue, nat toestande is bevorderlik vir tekortsimptome en die plant herstel gewoonlik sodra dit warmer word.

Mikro-elemente
Indien daar genoegsame aandag aan mikro-elemente gegee word, behoort dit ’n bydrae te maak tot die suksesvolle verbouing van mielies. Aandag aan mikro-elemente gee die geleentheid vir fyner instellings om so vir ’n beter opbrengs te sorg.

Sink (Zn)
Sink is betrokke by chlorofilproduksie en die voorkoming van chlorofilafbraak asook sintese van die groeihormoon ouksien (IAA). Dit is dus essensieel vir normale groei. Zn tree ook op as kofaktor wat meer as 80 ensieme aktiveer. Tekortsimptome kom voor as ligte strepe op die blare wat saamloop tot groter simptome op beide kante van die hoofnerf, wat partykeer veervormig kan wees. Blaarnerwe en die hoofnerf bly groen, maar blaarrande kan soms rooi of bruin verkleur. Plante is gewoonlik dwergagtig.

Boor (B)
Boor is essensieel vir DNS- en RNS-sintese en speel ’n rol by seldeling in die wortel- en stingelpunte. B is ook nodig vir stuifmeelvitaliteit, om te kan ontkiem en om die stuifmeelbuis te verleng. Tekortsimptome kan voorkom in die vorm van koppe wat onvolledig gevul is, met die punte van die koppe wat gebuig is of ’n groot aantal koppe wat by die primêre kop vorm (bokspene), met baie min pitte wat op die kop sal voorkom.

Molibdeen (Mo)
Molibdeen vorm deel van die ensiemnitraatreduktase en speel ’n rol in die reduksie van NO3- na NO2-. Mo speel verder ’n rol in die omskakeling van absisiensuur-aldehied na die hormoon ABA (absisiensuur) en moontlik ook by droogteweerstand. Tekortsimptome kan as uitloop van pitte op die kop voorkom of jong blare wat verwelk en langs die rande vrek.

Chemiese skade
In die praktyk is chemiese skade ’n groot opbrengsdief en probleme hiermee kom elke jaar voor. Dit is van kardinale belang om die etikette van chemiese middels te lees, want dit is die kontrak wat die chemiese maatskappy met die verbruiker het. Indien daar enigsins van die aanbevole dosisse afgewyk word, word die persoon wat die aanbeveling gedoen het, verantwoordelik gehou. Saam met die dosis word die tyd van toediening en sekere toestande wanneer die middel nie toegedien behoort te word nie, ook op die etiket uiteengesit. Alhoewel dit uitstekend is om ’n onkruidvrye land te hê, beteken elke simptoom wat op plante waargeneem word skade aan die oespotensiaal. Dit is in die meeste gevalle raadsaam om eerder nie plante met chemiese middels raak te spuit nie, maar dit is nie altyd prakties haalbaar nie.

Figuur 3 toon ’n paar voorbeelde van chemiese toksisiteit. In Foto 1 sien ’n mens die effek van Euro-Lightning-oordrag, waar die onkruiddoder baie laat gedurende die vorige seisoen toegedien is en toksiese simptome op die koppenente van die lande voorgekom het waar dit dubbel toegedien is. Foto 2 toon mesotrioonskade, wat basies ’n fotosintese-inhibeerder is. Op Foto 3 is sulfonielureumskade en meer spesifiek nikosulfuronskade sigbaar. Foto 4 wys glifosaatskade waar die onkruiddoder na die V8-stadium in die kelk toegedien is. Foto 5 toon grasdoderskade wat met koue toestande gepaard gegaan het en sweepslagsimptome veroorsaak het. Die rede hiervoor is dat grasdoders deur die koleoptiel van grasse opgeneem word en ontkiemende mielies langer neem om in koue toestande bo die grond te verskyn. In die proses neem die plantjie meer van die onkruiddoder op en vorm dan sweepsterte. In Foto 6 is flumetsulamskade en in Foto 7 is 2.4D-onkruidskade sigbaar.

 

Figuur 3
1. Euro-Lightning, 2. Mesotrioon, 3. Sulfonielureum, 4. Glifosaat, 5. Metholachlor (grasdoder), 6. Flumetsulam, 7. 2.4D

Slotsom
Produsente moet die basiese beginsels van gewasverbouing in gedagte hou, maar ook gebruik maak van die geleenthede wat tegnologie bied. Die bogrondse groei van ’n gewas weerspieël in die meeste gevalle die ondergrondse wortelontwikkeling. Gesonde plante is baie minder geneig om vatbaar te wees vir peste en plae. Dit is waarom dit so belangrik is om alles waaroor daar beheer is, reg te probeer doen om sodoende die kans vir sukses te verbeter.

Vir meer inligting kontak Hendrik Linde by 079 527 7695 of hendrik.linde@pannar.co.za.