Dis maak of breek met dié stelsel

Gepubliseer: 27 Oktober 2020

685
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Baie produsente oorweeg deesdae die omskakeling vanaf konvensionele produksiestelsels na ’n bewaringslandboustelsel. Bewaringslandboustelsels wérk en die uiteindelike winsgewendheid van hierdie stelsels maak dit ongetwyfeld die moeite werd.

Alhoewel heelwat produsente groot finansiële verliese ly wanneer hulle hierdie tipe stelsel probeer, is daar baie ander wat dit met groot sukses imple­menteer.

Suksesvolle produsente is dit almal eens dat daar op die pad na bewaringslandbou verskeie kritieke besluite was wat die stelsel kon maak of breek. Een produsent wat oor tyd ’n bewaringslandboustelsel suksesvol geïmplementeer het, is Danie Joubert van Koster. Die meerderheid gronde waarop hy en sy seuns saam boer, is redelik vlak met ’n relatief lae klei-inhoud. Die gemiddelde reënval vir die streek is ongeveer 630 mm per jaar. Danie het die stelsel reeds vir die afgelope agt seisoene suksesvol geïmplementeer en in die laaste seisoen het die stelsel die plaas se opbrengste na nuwe rekordvlakke geneem.

Hierdie resultate het egter nie oornag gekom nie – die verbetering het oor tyd plaasgevind. Volgens Danie het hulle die proses om oor te skakel van ’n konvensionele stelsel na die bewaringsboerderystelsel van die begin af reg aangepak. Die hoofrede vir die oorskakeling was nie om meer geld te maak nie, maar eerder om die volhoubaarheid van die boerdery te verseker – een deel hiervan was om die winsgewendheid oor tyd te verhoog.

Danie is ’n opgeleide akkerbouer en het altyd gewonder hoekom lande bewerk moet word, terwyl die natuurlike veld elke jaar sy opbrengste vanself lewer. Dié vraag het hom by geenbewerking gebring. Dit was hier waar die groot vraagstukke na vore gekom het en waar die belangrikste besluite geneem moes word. “Genadiglik het ons oor tyd die regte besluite geneem, want as ons verkeerde besluite geneem het, was ons onder deur,” vertel hy.

Verder moes hy sy denkwyse aanpas om aan die nuwe stelsel se vereistes te voldoen. Eensklaps het die kennis wat hy oor produksie gehad het nie noodwendig meer gegeld nie. Danie en sy seuns het ’n diep­testudie oor geenbewerkingstelsels gedoen en al die deurslaggewende suksesfaktore geïdentifiseer en ontleed. Vinnig het hulle agtergekom dat ’n nuwe geenbewerkingsplanter nie noodwendig die stelsel suksesvol sou maak nie. Bewaringslandbou gaan oor baie meer as net die ysters en daarom moes hulle be­sin oor hoe om te begin.

Goeie bestuur ’n vereiste
Vir Danie is kennisvlakke van kardinale belang. Foute kan nie sommer met ’n bewerking reggestel word nie – die regte besluite moes reg geïmplementeer word. Hy noem dat goeie boerderypraktyke reeds in plek moet wees voordat oorskakeling oorweeg word. “Goeie bestuur bly die belangrikste vereiste. Jy moet dáár wees, weet wat aangaan en optree wanneer pro­bleme opduik. Grondkompaksie en ploegblaaie asook die regstelling van pH- en ander bemestings­vlakke moet ’n prioriteit wees. As dit nie reg is nie, is die stelsel gedoem en is finansiële probleme vir seker jou voorland,” voeg hy by.

Danie het die basiese beginsels wat nodig is om bewaringslandbou ’n sukses te maak, aanvaar en deel gemaak van sy boerdery. Daar is besluit om die grond so min as moontlik te versteur, om die grond ten alle tye bedek te hou, gewasrotasie te implementeer en laastens om dekgewasse deel van die boerdery te maak.

Finansiële implikasies
Vir Danie en sy seuns was dit duidelik dat die nuwe bewaringstelsel nie goedkoper as die konvensionele stelsel sou wees nie. Dit was inteendeel duurder aan die begin. Nuwe implemente moes aangekoop word, met nuwe paaiemente om te betaal. Daar was definitief besparings in die brandstof- en herstelwerkafdelings, maar die chemiese rekening was aansienlik hoër aan die begin. Oor tyd het die chemiese koste afgekom, maar dit is steeds meer as met ’n konvensionele stelsel. As ’n produsent dus na bewaringslandbou wil oorskakel omdat dit goedkoper lyk, wag daar ’n verrassing op hom.

Voordat Danie-hulle na die nuwe stelsel kon oorskakel, moes die grond se ploegblaaie opgehef word. Die pH van die grond is ook reggestel – dit het die grond se makro-elemente los en beskikbaar gemaak. As regstellings nie gedoen en verdigtings nie opgehef word nie, sal die stelsel nie presteer nie. Verder moet pH oor tyd in stand gehou word en kalk moet meer gereeld toegedien word.

Plantestand
Die keuse van rywydte asook plantestand was die volgende groot besluite wat geneem moes word ten einde die grond ten alle tye bedek te hê. Aanvanklik is in die konvensionele stelsel op die plaas met 90 cm-rye geboer. Danie het besef dat die plantmateriaal wat hierdie stelsel produseer, te min was om die grond te bedek. Meer plantmateriaal per hektaar moes geproduseer word – óf deur dekgewasse aan te plant óf deur die plantestand per hektaar te verhoog. Daar is toe besluit op rywydtes van 52 cm, wat die meeste plante met die minste interplantkompetisie daargestel het. Dié rywydte sorg verder dat die plante vinnig die grond sowel as die onkruide oorskadu. Hierdie stelsel was sonder twyfel voordelig. Meteens het 5 mm reën ’n impak begin maak en het die reënvaldoeltreffendheid gestyg. Die waterafloop het dramaties verminder – sodoende was meer water vir die plante beskikbaar en die opbrengste het gestyg.

As die plantestand nie die grond vinnig oorskadu nie, is chemiese onkruidbeheer noodsaaklik en dit laat die koste per hektaar styg. Verder verlaag onkruid die gewas se opbrengs en veroorsaak dit dat die stelsel nie werk nie. ’n Verdere voordeel van die grondbedekking is dat dit die grond beskerm en die vog bewaar. Dit verhoog ook die reënvaldoeltreffendheid. ’n Gedeelte van Danie se plaas het ’n jaar of wat na die oorskakeling afgebrand en tot vanjaar is hierdie gedeelte agter die deel wat nie afgebrand het nie. Dit bewys net weer eens die waarde van oesreste. Verder word die organiese materiaal in die grond meer, wat op sigself die opbrengste verhoog.

Om doeltreffend te wees, moet meer plantmateriaal per hektaar geproduseer word – óf deur dekgewasse aan te plant óf deur die plantestand per hektaar te verhoog.

Werktuie en toerusting
Die volgende groot besluit was die tipe planter wat aangekoop moes word. ’n Vereiste vir die stelsel is dat die sade gelyk moet ontkiem en opkom.

Die planter moet dus die saad op die regte diepte plant en saadgrondkontak moet bewerkstellig word. Boonop moet die grond so min as moontlik versteur word en bemesting moet volgens presisiebeginsels toegedien kan word. Gegewe hierdie vereistes is op ’n snyskyfplanter besluit. Planters met tande versteur die grond te veel en laat ’n voor in die grond wat die plant se wortelstelsel kan benadeel. Onthou egter dat die planter nie die stelsel is nie, maar slegs binne die stelsel werk.

Dit is ook van kritieke belang dat die produsent in staat moet wees om onkruid betyds te bestry. Daar moet voldoende spuitkapasiteit wees en die spuit moet die vermoë hê om die onkruid raak te spuit. Kennis rakende die instelling van die spuit asook watter spuitpunte om te gebruik, is noodsaaklik.

Die eweredige verspreiding van die oesreste is baie belangrik in die stelsel.

Onkruiddoders
Vervolgens moet besluit word watter onkruiddoders om te gebruik asook hoeveel. Danie glo dat onkruide in die winter beheer moet word. Verder poog hulle om die onkruide so klein as moontlik met so min as moontlike chemie te beheer. Die onkruid mag nie die gewas se potensiaal benadeel nie – indien hierdie reël oortree word, is die begin van die einde in sig. Die belangrikheid van winteron­kruidbeheer kan nie genoeg beklemtoon word nie. Onkruidweerstandigheid is sonder twyfel ’n moontlikheid en daarom moet die onkruiddoderaktiewes gereeld afgewissel word.

Langtermyngewasrotasie moet ook in ag geneem word, wat sake kompliseer. Die onkruiddoderprogramme asook die stroperbeskikbaarheid en plantvensters raak dan van deurslaggewende belang. Grondbedekking kan deur verskillende gewasse benadeel word. Dit is so dat sonneblomme en sojabone heelwat minder oesreste agterlaat as mielies. As die seisoen skeef draai, moet die produsent bereid wees om aan te pas. As gevolg van ’n paar droogtejare, waar dit net te laat geraak het vir mielies, het Danie sonneblom op sonneblom geplant. Hy sal dit egter glad nie aanbeveel nie. Hulle plant tans mielies in rotasie met sojabone en sonneblomme. Dit wil vir hulle lyk of hulle die sonneblom dalk moet verminder en die sojaboonaanplantings eerder moet uitbrei.

Stroop- en planttyd
Danie noem verder dat die begin van die bewaringslandboujaar nie soos by ander praktyke met die bewerking van die lande begin nie, maar wel met die oes van die vorige gewas. Die stroper speel hier ’n kritieke rol en moet die vermoë besit om die oesreste so wyd as die tafel te versprei. Indien dit nie gebeur nie, word die volgende gewas baie benadeel. Die gedeelte onder die dik laag oesreste is dan te nat om te plant en die ander gedeelte is weer te droog om te plant. Die eweredige verspreiding van die oesreste is dus ononderhandelbaar. Die tyd van plant is net so belangrik. Grond wat vir die konvensionele produsent nat genoeg is om te plant, kan dalk vir bewaringslandboustelsels té nat wees. Bewaringslandbou bied die voordeel om met die eerste reën al te plant, terwyl die ander stelsels nog moet bewerk en dan eers kan plant. Maak egter seker dat die grond nie te nat is nie – dit sal vir seker die oes benadeel.

Kultivarkeuse
Kultivars reageer verskillend in hoë plantestande en dit maak kultivarkeuses nog moeiliker. Die kultivar wat geplant word, moet binne die stelsel kan werk. Dit maak sin om enkelkoppige kultivars wat nie spruit nie te oorweeg, omdat hulle dikwels beter presteer in hierdie tipe stelsel. Danie-hulle gebruik ’n plantestand van ongeveer 60 000 plante per hektaar in 52 cm-rye en dit beteken dat die plante ongeveer 32 cm in die ry uit mekaar is. Indien hierdie plantestand in konvensionele 90 cm-rye geplant word, is die kans op mislukking baie groot.

Danie en sy seuns het eers in die 2019/2020-produksiejaar begin om dekgewasse en vee in hul stelsel te inkorporeer en hulle het dus nog geen resultate om in hierdie verband te deel nie.