Soos die wêreld in die digitale era vorder, staan die landbousektor in Suid-Afrika aan die begin van ’n transformerende reis. Met tegnologie wat vinnig in elke faset van ons lewens integreer, kan die relevansie van landbou in ’n digitale era nie oorskat word nie.

NAMPO 2024, die 56ste aanbieding van die Oesdag, vind plaas van 14 tot 17 Mei en is gerat om die nuutste neigings en ontwikkelings wat aangebied word ten toon te stel. Die NAMPO Oesdag het sedert sy ontstaan die voortou geneem om landbou-innovasie op ’n eenstop-platform in Suid-Afrika te vertoon.

Die tema “Landbou in ’n Digitale Era” eggo Suid-Afrikaanse produsente wat toenemend die belangrikheid van konnektiwiteit erken om doeltreffendheid, volhoubaarheid en welvaart in boerderypraktyke te bevorder. Deur die krag van digitale gereedskap en platforms te benut, ontsluit produsente ongekende geleenthede om produktiwiteit te verbeter, hulpbronbenutting te optimaliseer en lewensgehalte te verbeter.

“NAMPO speel ’n belangrike rol om die landbousektor te verbind deur aan produsente ’n eenstop-omgewing te bied vir interaksie en om sake met klein en groot besighede en relevante rolspelers te doen. Die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap besef dat om verbind te bly nie net ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir groei in vandag se mededingende agri-landskap. NAMPO is die handelskou wat aan produsente ’n platform bied om toegang te verkry tot inligting en interaksie te hê met dienste en produkte wat verband hou met produksie, masjinerie, voedselverwerking, insette, presisielandbou en finansiële oplossings,” het dr Dirk Strydom, Graan SA se hoof van NAMPO, Bemarking en Navorsingsontwikkeling, gesê.

Wat is nuut?
NAMPO het drie 500 kVA-kragopwekkers geïnstalleer, wat bykomend tot die bestaande 300 kVA-kapasiteit, genoeg elektrisiteit sal verskaf om in die aanvraag tydens die NAMPO Oesdag te voldoen. Baie uitstallers is besig om hul uitstallingsaanbiedinge op te gradeer en uit te brei en die nuut bygevoegde Midas-saal aan die suidoostelike kant van die park huisves ’n bykomende 60 binnenshuise uitstallers.

NAMPO se koskeuses het toegeneem – besoekers kan uitsien na ’n splinternuwe koservaring wat deur die Syngenta-boerekosplaaskombuis aangebied word. Die Plaaskombuis sal watertandgeregte aanbied wat wissel van ’n ekstragroot prego-steakrol tot smullekker nachos, soetsuur lamsribbetjies, smulsagte botterhoendersosaties en geroosterde beesbrosstukplatbrode. Die gereelde NAMPO-kosstalletjies het selfs meer om te bied en strek tot voordeel van skole, kerke en niewinsgewende gemeenskapsorganisasies. Die eksklusiewe restaurant, wat in 2023 geopen is om aan uitstallers die geleentheid te bied om tafels vir kliëntevergaderings te bespreek, sal weer in die Fanie Ferreira-saal geleë wees.

Die kykNET-vroueprogram skuif terug na sy oorspronklike plek by die teetuin en beloof pretbelaaide oggende gevul met plaaslike televisiebekendes en rusbankpraatjies met jou kykNet-gunstelinge. Besoekers kan ’n hele nuwe sintuiglike ervaring verwag wat tot by die vroueprogramvenue lei deur die Starke Ayres-kruietuin en die nuutgestigte kinderspeelpark sal ’n veilige ruimte bied vir klouterpret en speel onder toesig.

Vanjaar bied die NAMPO-toep aan besoekers beter toegang tot uitstallers en hul liggings met die parkuitleg op die punte van hul vingers. Deur dié toep kan besoekers geleenthede merk, uitstallers naslaan en besoeke boekmerk, 3D-virtuele toere deur die park neem en hul pad na enige staanplek vind deur die navigasiefunksie.

2024 se Boereplanne-kompetisie met Omnia en Landbouweekblad het ’n nuwe kategorie in die skole-afdeling bekendgestel vir enige leerders of studente aan ’n onderriginstansie verbonde. Hierdie uitstalling, wat nie misgeloop moet word nie, spog met planne in vyf ander kategorieë, insluitend nuut; gemodifiseerd; gereedskap; huis en tuin en ’n oop afdeling.

Ou gunstelinge
Tradisionele NAMPO-gunstelinge vul steeds die dae, insluitend die gewilde 4×4-voertuigdemonstrasies op die Standard Bank-4×4-baan en die African Group Lubricants-avontuurbaan vir sy-aan-sy-, motorfiets- en quad-roetes. Die saadpersele aan die oostekant van die park bied ’n oorsig oor graan- en voergewasse en grassoorte van Suid-Afrika se voorste saadmaatskappye.

Soos gewoonlik bring die gewilde Nasie in Gesprek-gespreksforum rolspelers in die landbousektor byeen om plaaslike en internasionale onderwerpe te bespreek. Dit word tydens NAMPO verfilm, met die sessies wat regstreeks op verskeie platforms uitgesaai word.

Die vee-afdeling, wat beeste, skape, varke en bokke insluit, verteenwoordig byna 100% van die groot- en kleinveerasse met ’n daaglikse stamboom-veeparadeprogram wat in die TAU Rollermeule-vee-arena geskeduleer is waar biosekuriteit en protokolle toegepas sal word.

Vind jou weg
Die navigasie van die uitgestrekte terrein van NAMPO Park word makliker gemaak deur verskeie vervoeropsies. OFM, NAMPO se offisiële mediavennoot, sal regstreeks vanaf NAMPO Park uitsaai, met ’n toegewyde agri-uur. Verkeersopdaterings deur die loop van die dag sal verseker dat luisteraars veilig na en van die Oesdag reis. Die Mieliehop-pendeldiens sal daagliks tussen NAMPO Park en Bothaville operasioneel wees, en bied langafstand-pendeldienste vanaf OR Tambo-lughawe en omliggende dorpe. Absolute Aviation se lughawesitkamer verwelkom lugreisigers aan die noordelike kant van die park, met ’n pendeldiens beskikbaar na Hek 3. Boonop kan een van die nege trekkersleepwaens gebruik word wat verskillende roetes oor die terrein ry om besoekers te help om tussen verskillende uitstallings te beweeg met aangewese skedules en busstoppe.

Kry jou kaartjies aanlyn
Kaartjies is vanaf vroeg April beskikbaar by TicketPro (www.ticketpros.co.za) met afslag op toegangsfooie vir aanlyn aankope. Hekke open om 07:00 en sluit om 17:00. Roete-aanwysings sowel as besonderhede oor die private vliegveld verskyn op die webwerf en die NAMPO-toep. Geen troeteldiere, fietse, selfaangedrewe karre of motorfietse sal op die perseel toegelaat word nie. Besoekers kan die trekkerssleepwaens wat deur die loop van die dag langs drie verskillende roetes op die terrein beweeg, gratis gebruik.

NAMPO 2024-ikone en -kunswerke sal op die webwerf beskikbaar wees om af te laai. Vir meer inligting, besoek die webwerf by www.nampo.co.za of laai die NAMPO-toep van jou voorkeuraanlynwinkel af.