Opbrengs baat by fokus op grond- en plantgesondheid

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

448

Vanjaar se wenner in die afdeling vir mie­lieproduksie in KwaZulu-Natal in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie was Bertus Albertse en sy twee seuns van die plaas Hansford naby Dundee. Dit was die eerste keer dat hulle aan die opbrengskompetisie deelgeneem het.

Die Albertses het die wenposisie beklee met die Pioneer-baster P 1197R waarmee hulle ’n opbrengs van 16,94 t/ha gerealiseer het. Dit is die derde jaar dat hulle dié baster plant en het in totaal 300 ha daarmee geplant.

Faktore vir groter opbrengs
Alhoewel die land wat ingeskryf is teen ’n plantpopulasie van 70 000 plante/ha geplant is, beplan hulle om in die komende seisoen die plantpopulasie na 80 000 plante/ha op te skuif. Bertus sê hulle het eers op kleiner skaal proewe gedoen om te sien wat werk om die opbrengs te verhoog – dié praktyke word dan op die res van die lande gebruik. Na hulle mening is die belangrikste faktore grond-pH, grondgesondheid, eweredige opkoms en plantgesondheid.

Hoewel hy op ’n plaas grootgeword het, het Bertus homself as rekenmeester bekwaam en eers later na die landbou teruggekeer en sy eie boerdery begin. Sy twee seuns het in 2017 en 2019 by die boerdery aangesluit. Vandag behartig hulle die Al-Di Agri-boerdery, waar hulle met beeste en geel­mielies boer. Hy plant grotendeels konvensionele mie­lies, maar wanneer daar lande is waarvan die onkruiddruk besonder hoog is, sal hy mieliebasters met glifosaattoleransie plant om te help met die onkruidbeheer.

Volgens hom het die afgelope seisoen se reën en die oneweredige verspreiding daarvan uitdagings meegebring. “Benewens die feit dat ons baie reën ontvang het, ongeveer 1 200 mm vir die seisoen, was die verspreiding daarvan oneweredig met swaar buie wat van tyd tot tyd geval het. Hierdie baie reën het gunstige toestande geskep vir swamme en plantsiektes en die stronkboorderdruk was ook geweldig hoog.”

Op die spesifieke land wat vir die kompetisie ingeskryf is, het Graan SA bereken dat Bertus se opbrengs gemeet met betrekking tot reënval 12,7 kg graan/mm reën was. Die direkte insetkoste op die gedeelte het R1 590/ton beloop.

Volgens Bertus is daar drie aspekte wat deurslaggewend is in sy boerdery. “Grond- en plantgesondheid is vir my van kritieke belang en wat daarmee gepaard gaan, is om strestoestande en -tydperke by mielies so ver moontlik te mitigeer deur voortydig sekere bestuurs­aspekte in plek te kry. Ek maak staat op weervoorspellings en het my eie weerstasie om juis daarmee te help.”

Bertus Albertse is die wenner in die afdeling vir mielieproduksie in KwaZulu-Natal. Hy word hier gelukgewens deur dr Pieter Taljaard.

Omstandighede eerder as kalender
Hy sê dat die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is aan die einde van November 2021 geplant is, maar noem dat spesifieke plantdatums nie vir hom van soveel belang is as om te plant wanneer die toestande gunstig is nie. “Die omstandighede wanneer ek plant, is belangrik en daardie omstandighede bepaal my plantdatum, nie ’n kalender nie. Ek plaas klem op goeie ontkieming en eweredige opkoms van die mielies. Plantstres begin die oomblik wanneer ’n mens die saadsak oopsny en die saad uitgooi. Grond- en lugtemperatuur wat wissel, veroorsaak stres van saailinge wat op die ou einde die opbrengs negatief kan beïnvloed.”

Bertus doen elke drie tot vyf jaar presisiegrondontledings wat hy wegstuur vir analise. Volgens daardie uitslae – in kombinasie met die jaarlikse breë ontledings wat Brian Hesom en Corné Davel van Omnia doen – bepaal hy sy bemesting. Hy strooi ’n derde van sy lande breedwerpig met kalk en gee ‘n lae toediening van gips.

Die res van die bemesting word met plant en na opkoms toegedien. “Ek bandplaas ’n 2:3:2-korrelmengsel van Omnia.”

Wat plantvoeding betref, voel hy dat die eertydse norme verouderd raak veral soos kultivars verbeter, opbrengste verhoog, verbouingspraktyke verander en beter tegnologie beskikbaar word. Daarom is hulle genoodsaak om hul eie data in te samel sodat hy sy eie norme kan bepaal.

Holistiese benadering
Hy volg ’n verminderdebewerkingsbenadering, maar doen ’n diep tandbewerking van 400 mm tot 420 mm met ’n skeurtandimplement waarvan die tande wyd uitmekaar versprei is. Tydens die bewer­kingsaksie plaas hulle ook ammoniakgas op ’n diepte van 220 mm tot 240 mm. Op die lande waar kalk toegedien is, word gedis om die kalk met die grond te meng. Na strooptyd sal hy die beeste op die lande sit om die oesreste te bewei.

Afhangend van die onkruid- en insekdruk sal hy sy spuit­programme aanpas. Bertus sê dat hy waar nodig normaalweg ’n algehele onkruidbespuiting sal doen voor plant, maar dat hy ’n grondkondisioneerder van Omnia saam met die onkruidbespui­ting sal toedien. Hy sal na plant opvolg met ’n bespuiting. Hy spuit gemid­deld vier keer vir swamsiektes aangesien die plantsiektedruk in hulle omgewing hoog is. “Ek probeer my mielies so lank as moontlik groen hou. Hoe gesonder die mielieplant is, hoe meer verminder jy die risiko van opbrengsverlies.”

Hy noem egter dat hy in die komende seisoen die insekbeheer wil aanpas en met alternatiewe spuitprogramme wil eksperimenteer.

Hoewel hy opbrengs najaag, is dit nooit ten koste van wins nie. “Meer kunsmis is nie die antwoord vir hoër opbrengste nie, maar eerder ’n holistiese benadering, waarvan kunsmis ’n klein deel uitmaak en aandag seker die grootste deel is. Natuurlik is ’n mens afhanklik van baie genade en gunstige weersomstandighede ook. Maar as jou plante en grond gesond is, stel dit jou in staat om sekere van die omgewingsinvloede ook beter te mitigeer.”

Sy raad aan jong produsente wat nou die boerderybedryf betree, is om navorsing te doen. Hy lees graag navorsingsdokumente oor mielieverbouing en kyk ook na wat produsente in ander dele van die wêreld doen. “Deeglike navorsing is belangrik. Daar is verskeie bronne op die internet beskikbaar. Jy moet weet hoe dit waarmee jy wil boer werk, sodat jy presies kan verstaan waarom sekere beginsels van belang is.”