Presisieboerdery: Die begin van die winspad

2550
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Daar is al heelwat oor presisieboerdery geskryf en vele produsente pas dit toe, maar verskeie foute word steeds begaan. Alle implement- en trekkervervaardigers fokus deesdae daarop om hierdie stelsel geïmplementeer te kry en geld word spandeer om stelsels te vervaardig wat dié tegnologie kan laat werk. Presisieboerdery sal verseker doeltreffendheid, effektiwiteit en wins verhoog, maar teen ’n koste.

Soms is dit nodig om weer te besin en te vra: Wat is die belangrikste aspekte waaraan voldoen moet word? Wat is noodsaaklik en wat is net goed om te hê?

Geld is sekerlik die hoofoorweging. Die vraag is hoeveel die presisiestelsel behoort in te bring en hoeveel hiervan aan tegnologie bestee kan word? Voordat dit bepaal kan word, is daar ’n paar aspekte wat in plek moet wees.

Beginsels van presisieboerdery
Presisieboerdery moet begin by die hulpbron. Dit is van kardinale belang dat die grond eerstens fisies gekarteer moet word. Hierdie kartering moet dan in ’n produksiepotensiaalkaart omgesit word. As die hulpbron baie en vinnig verander, sal die skaal van kartering klein moet wees (1 ha-blokke). Indien die hulpbron egter min verander, kan ’n groter skaal gebruik word.

Dit is duur, maar een van die beste beleggings wat ’n produsent ooit kan maak.

Produksiepotensiaalkaart
’n Produksiepotensiaalkaart kan nie oor tyd verander nie. Die potensiaal van die grond kan dalk verander soos wat die tegnologie en boerderypraktyke aangepas word, maar die feit dat die grond 800 mm diep is, die kleipersentasie 30% en die langtermynreënval 700 mm is, gaan nie sommer verander nie. Hierdie kaart is die hart van presisieboerdery.

Chemiese kartering
Die volgende stap is om die grond chemies te karteer. Die chemiese kaart sal aandui waaraan eerste aandag gegee moet word om die potensiaal van die plaas te bereik. Gewoonlik is die hoëpotensiaalgronde se chemie swak, terwyl die gronde met laer potensiaal se chemie beter lyk.

Begin deur die kolle met swak potensiaal uit te sny en dit so vinnig as moontlik na permanente weiding om te skakel. Dit is hierdie kolle wat die wins opvreet.

Vervolgens sal daar regstellings gedoen moet word. Moet dit nie alles in een jaar probeer doen nie, want dit het jare geneem om die hulpbron só te oorbenut. Begin by ’n punt en stel dit oor tyd reg. Gebruik die Ontvanger se geld om te investeer in die boerdery.

Volgende aan die beurt is die tegnologie. Wins is nodig om tegnologie mee aan te koop. Presisieboerdery is ’n pad wat geloop moet word en die vraag bly altyd hoeveel geld aan tegnologie bestee kan word. Dit sal deur die ekstra wins, indien enige, bepaal word.

Winsgewendheid van presisiestelsels
Om die effek van oorskakeling na ’n presisiestelsel te meet, moet die verandering in die totale direk toedeelbare veranderlike koste en winste vir die totale plaas of land bepaal en gemeet word. Dit word gedoen deur begrotings te gebruik waar die boerdery bestuur word volgens ’n konstante of gedifferensieerde opbrengspotensiaal. In Tabel 1 word die begrotings vir die Noordwes-Vrystaat met die veranderlikes aangetoon.

Soos die produksie styg, verhoog die koste ook. Dit is bloot omdat die koste van diesel, herstelwerk en saad meer word soos hoër opbrengste gekry word. Hierdie inligting is gebruik om die plaas te simuleer.

Verskillende bestuurstyle
Tabel 2 toon die aannames vir die ontleding aan. Dit behels in breë dat ’n plaas van 50 ha met verskillende opbrengspotensiale volgens verskillende bestuurstyle bestuur word. Daar word aanvaar dat opbrengspotensiale in gelyke hoeveelhede op die plaas voorkom. Verder word aanvaar dat die konstante opbrengspeil die gemiddeld van die plaas is.

In dié geval is dit op 4 t/ha gehou, terwyl die gedifferensieerde opbrengspeile volgens die opbrengspotensiaal bestuur word. Daar word aanvaar dat die opbrengs deur die gebruik van slegs 4 t/ha se bemesting beperk word tot 4 t/ha.

Die basiese inligting wat gebruik is om Tabel 2 op te stel, word in Tabel 1 aangetoon. Die inkomste in Tabel 2 is bepaal deur die opbrengste met die prys per ton en die hektare te vermenigvuldig. Die verandering in die koste is bepaal deur die koste konstant te hou vir ’n 4 ton-opbrengs en die res van die insette te laat varieer. Die wins is die verskil tussen inkomste en koste.

Soos verwag toon Tabel 2 groot verskille tussen die bestuurstyle.

Met die gedifferensieerde bestuurstyl is daar ’n verlaging in die koste van die laer opbrengspotensiale en ’n verhoging in die hoër opbrengspotensiale.

Die winsresultate van die gedifferensieerde bestuurstyl is 28% beter as die konstante bestuurstyl. Die koste by die gedifferensieerde bestuurstyl is byna gelyk, maar die inkomste neem met 8,11% toe.

Van ’n 500 ha-plaas met hierdie selfde hulpbronverdeling kan maklik R368 215 ekstra verwag word, wat dan aan tegnologie bestee kan word. Alhoewel dit na baie geld klink, word dit maklik spandeer!

Meet die resultate
Dit is belangrik dat die verandering se resultate gemeet word. Stroperkaarte is belangrik omdat dit die effekte meet en weer gebruik word om die volgende beplanning mee te doen. Indien die produsent nie ’n stroper het met die tegnologie om die kaarte te trek nie, moet daar nie skuld gemaak word om so ’n nuwe stroper te koop nie. Dalk kan daar vir die bestaande stroper ’n stelsel geïnstalleer word wat wel die kaarte kan trek. Wanneer die stroper egter in elke geval vervang moet word, kan een aangekoop word wat oor die nodige tegnologie beskik.

Nie nodig om te veel kapitaal te spandeer nie
Gee klein treetjies aan die begin, maar laat hulle tel. Soos wat wins gemaak word, kan meer tegnologie bekom word. Gebruik in jaar een kontrakteurs om sekere take te vervul, soos die presisietoediening van veral kalk en ander bemestingstofregstellings.

Verdeel die lande volgens potensiaal. Besluit dan op ’n bemestingspeil asook kultivar en plantestand vir elke land en plant daarvolgens. Besluit byvoorbeeld: Dié land word met ’n plantermengsel vir 4 ton geplant – maak net seker dat die fosfaat en kalium genoeg is vir die land. Die stikstof kan voor plant of kort na plant differensieel uitgestrooi word.

Die volgende land het dalk ’n hoër potensiaal, dus word die bemesting met plant verhoog en die stikstof word weer uitgestrooi. Op dié manier word ’n presisiestelsel geïmplementeer sonder om te veel kapitaal te spandeer.

Kapitale items
Soos daar wins gemaak word, kan daar aan kapitale items aandag gegee word. Koop dalk ’n trekker en strooier of pas dalk die planter aan. Dit moet egter uit wins vervang word. Dit is ook moontlik om presisietegnologie op ouer trekkers te installeer. Doen navraag in dié verband.

Die resultaat wat verkry is, moet jaarliks met die beplanning vergelyk word. Hiersonder kan daar nie vir die toekoms beplan word nie. Presisie­boerdery is ’n lang proses: Insetverskaffers moet deel gemaak word daarvan en sodoende sal daar oor tyd goeie resultate verkry word.

Produsente behoort hierdie beginsel op hul boerdery toe te pas en self te bepaal hoeveel geld daar vir kapitale items beskikbaar gaan wees. Koop is maklik, maar betaal is ’n ander saak.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.