Stropers, balers jaag mekaar

2260
Karina Muller,
SA Graan/Grain medewerker

Sewesyferbedrae en stropers is sinoniem – daarom is die aanskaf van een van hierdie kolosse nie ’n saak wat ligtelik benader word nie. Produsente het nodig om die stropers in aksie te sien en ook om dié van verskillende vervaardigers met mekaar te vergelyk. Dieselfde geld vir balers.

Dit is een van die redes waarom Suid-Afrika se jaarlikse stroper- en balerresies soveel belangstelling lok.

Grootpan-studiegroep se stroperresies
Wat 15 jaar gelede as ’n gesellige boerebraai en -kuier begin het, het deur die jare tot ’n betekenisvolle geleentheid op die landbou­kalender ontwikkel wat wêreldwyd met belangstelling dopgehou word.

Mnr André du Preez van die Grootpan-studiegroep op wie se plaas die stroperresies jaarliks aangebied word, vertel dat FNB hom en sy broer, Kobus, destyds genader het om ’n kuierdag vir produsente in die omgewing te reël. “Jy weet mos hoe moeilik dit is om ’n klomp produsente byeen te kry. Ek en Kobus het toe besluit om ’n stroperresies met ons eie twee stropers te hou om hulle daarheen te lok.”

Sedert daardie dag het die stroperresies net momentum gekry en die 2019-resies wat op 3 Mei gehou is, is deur 570 mense bygewoon.

Verskaffers bring jaarliks hul topklasstropers na die resies. ’n Nuwe toetreder vanjaar, die Russiese Rostelmash-stroper, het veral beïndruk en ’n paar daarvan is sommer op die dag verkoop.

Beoordeling word volgens hierdie kriteria gedoen: Spoed (35%), mors van graan agter stroper (30%), vreemde materiaal in graantenk (15%), gruis onder sif (15%) en koppe gelos of geknip (5%).

Stropers ding in twee klasse mee – Klas 6 en Klas 8. In Klas 6 was vanjaar se deelnemers die Case 6140, die Claas 570, die John Deere S760, die New Holland 6-80 en die Rostelmash 595. Met ’n gemiddeld van 87,71% het die Claas 570 die eerste plek losgestroop.

In Klas 8 het die Case 8240, die Challenger 560, die John Deere S780, die New Holland 980 en die Rostelmash 785 deelgeneem. Hier het John Deere met 90,71% sand in die oë van die ander deelnemers gestroop. Die wenners ontvang wisseltrofeë.

André beklemtoon dat die doel van die resies nie is om enige stroper af te kraak nie, maar wel om aan produsente die geleentheid te bied om ’n ingeligte keuse te maak wanneer hulle ’n stroper wil aanskaf.

Balerresies
Suid-Afrika spog sedert 1 Februarie vanjaar ook met sy eie balerresies.

Mnr André Groenewald van Farmboek en organiseerder van die Valtrack & Farmboek-balerresies vertel dat Valtrack hulle genader het om ’n balerresies, soortgelyk aan Grootpan-studiegroep se stroperresies, aan te bied. “Ons het nie op ons laat wag nie en binne drie weke was alles gereël,” lag André.

Dit is op die plaas Vlakfontein van mnr Jonathan van Aswegen in die omgewing van Parys in die Vrystaat gehou.

Die idee van die resies spruit uit die oortuiging dat verkooppraatjies en blink implemente op ’n landbouskou nie genoeg inligting aan produsente bied om ’n ingeligte produkkeuse te kan maak nie. “Dit is nodig dat produsente self sien wat ’n baler kan doen,” sê André.

Claas, John Deere, Krone, Kuhn, Massey Ferguson, McHale en Welger het hul balers by die geleentheid op die proef gestel. Balers kon in twee klasse – vaste kamer en wisselbare kamer – deelneem. Die vastekamerklas is deur ’n Welger 245-baler gewen, terwyl Krone se Comprima 180 skoonskip in die wisselbarekamerklas gemaak het.

Wenners het wisseltrofeë ontvang en “natuurlik ’n jaar se spogregte”, volgens André.

Al elf balers – getrek deur trekkers met ’n maksimum van 140 pk. – het gelyktydig in ’n grasland weggespring wat in windrye gehark is. Beoordelaars het spoed en tonne versus tyd in ag geneem en verder op baaldigtheid, omtrek en die volume van die bale gefokus. Dit was ook belangrik dat die bale gemaak word soos wat die eienaar van die plaas dit sou doen.

Reën het so amper die resies in die wiele gery, maar ten spyte daarvan het sowat 250 produsente van so ver as Belfast die geleentheid bygewoon.