Faktore wat kanola se olie-inhoud beïnvloed

Gepubliseer: 10 Februarie 2020

17
Jannie Bruwer, areaverkoopsbestuur­-
der, Bayer
Franco le Roux,
hoofbestuurder:
Klipdale Boerdery

Alhoewel produsente in Suid-Afrika nie tans vir kanola se olie-inhoud betaal word nie, is dit steeds ’n baie relevante onderwerp wanneer dit by kanolaverbouing kom.

Daar is basies drie faktore wat die olie-inhoud van kanola beïnvloed, naamlik omgewingstoestande, die genetika van die kultivars wat aangeplant word asook die produksiepraktyke wat toegepas word. Volgens navorsing gedoen deur Balalić et al. (2017), is gevind dat genetika (kultivar) 50,7%, klimaatstoestande in ’n gegewe seisoen 34,4% en plantdatum 4,2% bydra tot die uiteindelike olie-inhoud.

Genetika
Elke kultivar het unieke eienskappe wanneer dit kom by olie-inhoud en proteïensamestelling. Feitlik al die kanolakultivars wat in Suid-Afrika aangeplant word, word vanaf Australië ingevoer. Met die ontwikkeling van nuwe kultivars word daar spesifiek geselekteer vir olie-inhoud, aangesien produsente in Australië vergoed word vir olie-inhoud. Dus sal kultivars wat beskikbaar is vir verbouing voldoen aan minimum vereistes soos deur die mark vereis.

Omgewingstoestande
Alhoewel produsente nie veel kan doen aan die omgewingstoestande nie, is dit een van die grootste faktore wat olie-inhoud beïnvloed. In natter jare is die olie-inhoud normaalweg hoër. Droogtestres gedurende stamverlenging en blom sal lei tot ’n laer opbrengs, hoër proteïen- en laer olie-inhoud.

Temperatuur speel ’n ewe groot rol in die olie-inhoud van kanola. Koeler produksieseisoene (spesifiek tydens die blom- en saadvulperiode) het ’n positiewe effek op olie-inhoud asook opbrengs. Hoër temperature soos algemeen in 2019 ondervind is, kan bydra tot ’n laer olie-inhoud.

Produksiepraktyke
Swael speel ’n rol by die sintese van olie asook proteïen in kanola. Verskeie studies in Suidoos-Australië het bevind dat ’n tekort aan swael groot opbrengsverliese asook laer olie-inhoud (tot en met 20%) in kanola tot gevolg het.

Te veel stikstof kan lei tot ’n hoër proteïeninhoud en laer olie-inhoud. Om opbrengs asook olie-inhoud te maksimaliseer, moet ’n gebalanseerde bemestingsprogram gebruik word wat gebaseer is op grondontledings.

Studies deur die Canola Council of Canada (CCC) het getoon dat daar ’n groot afname in opbrengs en kwaliteit (olie-inhoud) was waar te veel stikstof gegee word sonder die toediening van swael. Verdere studies het getoon dat die verhouding van stikstof tot swael in die omgewing van 7:1 moet wees. Ondervinding in Suid-Afrikaanse toestande het gewys dat daar ongeveer 15 kg tot 20 kg swael in die plantopneembare sulfaatvorm (SO2-4) per seisoen gegee moet word.

Oes- en platsnypraktyke
Olievaslegging vind plaas tot 40% van die sade verkleur het van groen tot die kenmerkende swart kleur van kanola (Edwards & Hertel, 2011). Kanola wat te vroeg platgesny of doodgespuit word, sal dus nie optimale olie-inhoud lewer nie. Data van die CCC het getoon dat daar ’n 1%-verhoging in olie-inhoud was wanneer kanola platgesny is tussen 60%- en 70%-saadverkleuring teenoor wanneer dieselfde kanola gesny is tydens 30%- tot 40%-saadverkleuring.

Ten slotte
Al die bogenoemde faktore speel ’n rol in die olie-inhoud van kanola. Van die faktore kan bestuur word en oor ander het die produsent nie beheer nie. Dit is belangrik dat ’n produsent goeie basiese agronomiese beginsels gebruik in die besluitneming en bestuur van sy kanola om maksimum opbrengs en olie-inhoud te verseker. Let veral op na kultivarkeuse, onkruidbestuur, bemesting, plantgesondheid en platsny (doodspuit) op die optimale tyd.

Olie-inhoud gaan wissel oor verskillende seisoene al word bogenoemde presies reg gedoen, aangesien klimaat en genetika steeds die bepalende faktore is.

Bronne

  1. Balalić et al. 2017. Emirates Journal of Food and Agriculture, 29(6): 404-410.
  2. Edwards, J & Hertel, K. 2011. Canola growth and development. New South Wales Department of Primary Industries, http://www.dpi.nsw.