Noukeurige onderhoud verbeter opbrengs

Gepubliseer: 3 Augustus 2020

2161
Andries Botha,
tegniese bestuurder, Cerealis Precision
Lourens van Rensburg,
bestuurder, Cerealis Technology Institute

Die uitsluitlike doel van ’n planter is om saad en kunsmis teen ’n bepaalde hoeveelheid en diepte eweredig oor ’n land te versprei. Aangesien dié implement tydens planttyd die oespotensiaal van ’n land bepaal, is die instandhouding, diens en herstel van planters uiters belangrik.

Dit is noodsaaklik dat planters sonder probleme reg deur die plantseisoen funksioneer, sodat soveel moontlik van die oppervlakte in optimale toestande geplant kan word. Daar moet na die kleiner detail gekyk word, sodat die planter so voortreflik moontlik kan werk. Enige verstelling aan ’n planter na afloop van plant, kan tog nie die potensiaal verbeter nie. ’n Planter is ’n presisiemasjien en moet daarvolgens bestuur word. In hierdie verband is daar ’n paar belangrike aspekte om na op te let voordat planttyd begin.

Saaduitmeetmeganismes
Die saaduitmeetmeganismes is die hart van enige planter. Daar is vandag meters soos die Vset van Precision Planting beskikbaar wat 99,5% akkuraat kan plant. Tydens ’n proef wat by die Cerealis Technology Institute (CTI) gedoen is, is gesien dat daar met ’n meterakkuraatheid van slegs 80% ’n verlies van tot 4 t/ha is.

Daar is MeterMax-kalibrasietoetsbanke beskikbaar om uitmeetmeganismes mee te toets. Teen ’n bepaalde plantestand kan die optimale plantspoed asook foute (byvoorbeeld mispitte en dubbelpitte) bepaal word. Daar kan verder seker gemaak word dat die saadgroottes wat gebruik word, akkuraat geplant kan word. Dit is bewys dat die akkuraatheid van die uitmeetmeganismes met tot 10% kan verbeter as dit op ’n meter soos MeterMax getoets en gediens word. Neem die uitmeetmeganismes en genoeg van die betrokke saad vroegtydig na ’n toetsinstansie of ’n MeterMax-verteenwoordiger om dit te laat toets.

Hoogte van die planterbalk en parallelarms
Die hoogte van die planterbalk van die grond af is ook belangrik. Dit beïnvloed hoe die plantereenheid oor die grond beweeg. Maak ook by opvouplanters seker dat al die balkseksies gelyk is. Die parallelarms van die plantereenhede moet horisontaal met die grond wees. Maak verder seker dat die busse nie geslyt is nie en dat die boute goed vas is. Slytasie hier veroorsaak dat die hoek van die saadbuis verander, wat dan ’n invloed het op hoe konstant die spasiëring van die saad is. Daar kan tot ’n 30%-oesverlies wees indien die spasiëring tussen plante nie dieselfde is nie. Die balkhoogte sal ook die afdrukvere se werking beïnvloed en hoe glad of egalig die ryeenheid oor die grond beweeg. As die planterbalk te hoog is, sal die vere nie die ryeenheid stewig genoeg met die grond laat kontak maak nie. Dit lei daartoe dat die plantdiepte nie egalig is nie, wat ’n onegalige opkoms veroorsaak. Plante wat op dag een opkom se kopgewigte is heelwat hoër as plante wat later opkom. Plante met dunner stamme en kleiner of selfs geen koppe is die gevolg hiervan (Foto 1). As die planterbalk te laag is, sal die vere weer te veel druk op die grond veroorsaak. Die gevolglike grondverdigting sal die wortelontwikkeling van die plant se kroonwortels beïnvloed (Foto 2).

As gevolg van oneweredige opkoms verskil die stamdikte.
As die plantereenheid te swaar op die grond druk, veroorsaak dit grondkompaksie wat wortelontwikkeling beperk.

Planterbalk
Saam met die balkhoogte moet daar ook gekyk word hoe hoog die plantersleepstang aan die trekkersleepstang gehaak is, aangesien dit die oriëntasie van die ryeenheid beïnvloed. Die planterbalk moet ongeveer waterpas met die grond loop. Dit verseker dat die vooroopmakers die regte diepte handhaaf en die saadbuis teen die regte hoek aan die ryeenheid sit. As die planterbalk vorentoe oorleun, kan die plantdiepte te diep wees, die toedrukwiele aan die agterkant kan dan nie reg funksioneer nie en die toedrukaksie kan nie behoorlik plaasvind nie. Die saad sal ook nie “vry” deur die saadbuis val nie, maar die kante tref wat die saadspasiëring sal benadeel.

Aandrywing
Versien alle kettings, laers en ratte en let op na slytasie. Kettings en laers wat geroes, styf of geslyt is, moet vervang word. Probleme of rukkerigheid in die aandrywing veroorsaak swak werksverrigting van die uitmeetmeganismes, wat weer lei tot ’n swak plantestand en spasiëring. Die banddruk van die planterwiele en die kontakdryfwiel is baie belangrik en dit moet volgens die plantervervaardiger se spesifikasies gepomp wees. Dit beïnvloed die plantestand dramaties. Vdrive van Precision Planting is ’n elektriese motor op elke uitmeter wat al die probleme uitskakel en presies die verlangde plantestand plant. Dit kan ook ’n variërende plantestand volgens aanbevelingskaarte plant.

Saadskottels
Gaan die saadskottels (coulters) na. Laers is een van die swak punte en dit moet dus noukeurig nagegaan en vervang word indien nodig. Die onderste kontakpunt, waar die twee skottels aan mekaar raak, moet tussen 25 mm en 40 mm wees. Die deursnee van die skottel self moet nie kleiner as 370 mm wees nie – vervang die skottels indien dit wel die geval is. Neem ook die hoeveelheid hektare wat geplant moet word in ag. Die skottels moet die hele plantproses kan deurgaan. As die skottels se deursnee te klein is, kan dit veroorsaak dat die saadvoor nie reg gevorm word nie, wat die diepte van die saadplasing beïnvloed. Dit is baie belangrik om al die saad ewe diep te plant.

Dieptebeheerwiele
Dit is die dieptebeheerwiele se werk om die plantdiepte te beheer. As die saad nie ewe diep geplaas word nie, is dit nie in dieselfde omgewingstoestande (vog en temperatuur) nie. Dit veroorsaak dat die saad nie gelyk ontkiem nie en dat die plante dus ook nie gelyk gaan opkom nie. Egalige opkoms is van kardinale belang vir optimale opbrengs (Foto 2). Dit is ook belangrik om die ryeenhede op die planter op nul te stel. Plaas die dieptebeheerwiele op blokke hout van 5 cm dik op harde, gelyk grond. Stel dan die dieptestelling tot die saadskottels die grond net raak. Dit word gedoen vir elke ryeenheid en die 5 cm-plantdiepteverstelling is dan bekend. Gewoonlik is nie een van die rye dieselfde nie.

Saadbuise
Ook die saadbuise moet vir slytasie en beskadiging nagegaan word, veral aan die onderste punte en waar die sensors geplaas is. Die saadbuis het ’n groot invloed op die plasing van die saad in die saadvoor. Slytasie kom gewoonlik voor aan die onderpunt van die saadbuis. Vervang indien nodig.

Toetrapwiele
Gaan die toetrapwiele ook na. Vervang busse wat geslyt is, sodat die planterstert met die toetrapwiele stewig is en nie heen en weer skommel nie. Dit sal sorg dat die saad goeie saad-grondkontak het en vinnige wateropname verseker. Kyk dan ook na die sporing van die toetrapwiele. Laat sak die planter en sleep dit vorentoe vir ’n paar meter op ’n harde oppervlak. Kyk dat die streep wat die saadskottels maak presies in die middel van die toetrapwiele is. Dit is raadsaam om van die rubberwiele te vervang met staalspeekwiele om enige smeerlaag of kompaksie wat die dieptebeheerwiele of saadskottels mag veroorsaak, op te breek. Dit sal lei tot beter wortelontwikkeling. Saadvasdrukkers kan ook geïnstalleer word om pitte op dieselfde diepte te plaas, goeie saad-grondkontak te verkry en ’n meer egalige opkoms te verseker. Dit is belangrik dat die werking van die toetrapwiele gekontroleer word tydens die plantproses. As daar lug in die plantvoor is, sal al die saad nie goeie grondkontak hê nie en ’n onegalige opkoms sal verkry word. As die toetrapstelsel te swaar is, kan dit ook die saailinge verhoed om op te kom, met ’n swak opkoms as gevolg.

Ryskoonmakers
Oorweeg die gebruik van ryskoonmakers waar daar in baie materiaal geplant word. Ryskoonmakers, veral dié tipe wat vry beweeg en deurentyd die kontoer van die grond volg, kan aan elke ry geïnstalleer en só gestel word dat dit net materiaal wegvat en nie grond nie. As nat grond bo lê, kan dit veroorsaak dat dieptebeheerwiele pak en die plantdiepte verander. As daar plantmateriaal saam met die saad in die saadvoor lê, sal dit die vog wegneem van die saad af en die pit sal later ontkiem as die ander pitte.

Plantermonitor- of beheerstelsel
Die plantermonitor op die planter is van kardinale belang om te weet wat met die plantproses gebeur. Maak seker die bedrading is nie beskadig nie en indien wel, herstel of vervang dit. Maak die saadbuise en saadsensorogie deeglik skoon. Sien toe dat as daar ’n radarpuls vir spoed gebruik word, dit reg gekalibreer is. Maak ook seker dat die monitor reg opgestel is vir die planter, rywydte, aantal rye en beplande plantestand.

Goeie boerderypraktyke bly steeds van uiterste belang om optimale opbrengs te verseker. Met ’n goed gedienste planter sal die plantproses voorspoedig verloop.

Skakel Andries Botha by 018 632 0362 vir enige navrae.