Herstelwerk – maak jou somme só

Gepubliseer: 3 Augustus 2020

1951
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Dit is amper weer tyd om die jaar se groot besluite te neem. Watter gewasse moet geplant word en hoeveel gaan dit kos om hierdie gewasse te verbou?

Een van die belangrikste aspekte om in aanmerking te neem, is die meganisasiekoste. Hoeveel moet begroot word vir diesel en herstelwerk? Moet dieselfde vir elke gewas begroot word?

Die koste tussen die gewasse sal vir seker verskil. Nie alle gewasse het dieselfde bewerkings nodig nie en daarom sal die brandstof per hektaar verskil. Herstelwerkkoste is egter ’n perd van ander kleur. Daar is definitief ’n verband tussen die hoeveelheid diesel verbruik en die herstelwerk wat benodig word. Hoe meer diesel, hoe meer herstelwerk. Die vraag is hoe hierdie berekening gedoen moet word.

Verskeie metodes kan gebruik word om die koste van herstelwerk te bepaal en toe te deel. Die geskiedenis is een bron wat hiervoor gebruik kan word. Deur die verhouding tussen brandstof en herstelwerk oor tyd te bepaal en dit sinvol te ontleed, kan die herstelwerk redelik voorspel word. Elke area en elke plaas se gronde, bewerkingsvensters en topografie verskil, wat die brandstofverbruik beïnvloed. Dan sal die trekkermaak en -ouderdom ook vir seker die herstelwerk laat verskil. Om net te aanvaar dat ou trekkers baie meer herstelwerk as nuwe trekkers het, is nie noodwendig waar nie. Indien die instandhouding en/of die herstelwerk self gedoen word, sal dit ook ’n groot impak op die herstelwerksom hê.

Gebruiksreëls
Daar is ook gebruiksreëls om hierdie herstelwerk teen te meet. In die Oostelike Hoëveld is die herstelwerk gewoonlik bietjie hoër as die dieselverbruik as gevolg van die hoër kilowatt per hektaar (ongeveer 1 kW/ha) en die topografie van die lande. Gewoonlik kan ’n addisionele 10% bo brandstof begroot word.

Op die vlaktes van die Vrystaat en Noordwes word daar gewoonlik minder kilowatt per hektaar gebruik (ongeveer 0,75 kW/ha), bloot omdat daar ’n langer bewerkingsvenster is. Hier speel die grondsoorte ook ’n rol en word die diesel as persentasie van herstelwerk gewoonlik gelyk aan mekaar gestel.

’n Ander gebruiksreël is om 1% van die nuwe trekker se prys as herstelwerk toe te deel en dit dan na die gewasse toe te deel volgens die hoeveelheid diesel wat per hektaar per gewas gebruik word.

Daar is al baie navorsing oor herstelwerk van trekkers en toerusting gedoen. Landbou-ingenieurs en landbou-ekonome het al ’n geruime tyd gelede die volgende norme saamgestel om die herstelwerk en onderhoud van trekkers en toerusting te bepaal. Die hoofdrywers vir die koste is:

  • die gemiddelde investering of die kapitaalbelegging in die nuwe trekkers of toerusting;
  • verwagte lewensduur van die trekkers en toerusting;
  • die verwagte jaarlikse gebruik; asook
  • ’n herstelpersentasie oor die lewensduur van die trekkers en toerusting.

Tabel 1 toon die meeste trekkers en implemente se verwagte lewensduur asook hul herstel en onderhoud as persentasie van kapitaalbelegging oor lewensduurherstelwerkpersentasie van nuwe pryse.

Oor die algemeen is trekkers se lewensverwagting twaalf jaar en dié van die meeste implemente tien jaar. Hierdie inligting word gebruik om die herstelwerk te bereken. In sommige streke soos die winterreënvalgebied is die werklike ure op die trekkers heelwat minder as 1 000 uur per jaar. Met die groot trekkers is dit ook moeilik om 1 000 uur per jaar te haal, mits die trekker nie in werktyd 24 uur aaneen werk nie. Groot trekkers het net te min werktyd per jaar om 1 000 uur te doen.

Selfs met al hierdie maniere is dit steeds net ’n skoot in die donker. Daar is baie ander faktore wat die herstelwerk beïnvloed, met die drywer en die eienaar die grootste rolspelers.

’n Drywer bepaal tot ’n groot mate hoeveel diesel en hoeveel brekasie toerusting sal hê. Deur hierdie persone behoorlik op te lei en streng te kontroleer, sal die dieselverbruik en herstelwerk binne die norme gehou kan word. Met vandag se elektroniese toerusting in trekkers is dit moontlik om baie goeie kontrole te hê en sodoende sal toerusting heelwat langer hou.

Uitdagings
Om trekkers en toerusting te besit, het sy eie uitdagings. Arbeid, waardevermindering en herstelwerk is maar net ’n paar hiervan. Sekerlik een van die belangrikste punte is die hoeveelheid kapitaal wat in hierdie deel van die boerdery opgesluit word. Hierdie toerusting moet ook een of ander tyd vervang word. Die besluit oor wat vervang moet word en wanneer om dit te doen, kan ’n moeilike een wees.

Die grootte van die trekkers en hoeveel daarvan aangeskaf moet word, kan die produsent verder laat kopkrap. Moet net groot trekkers gekoop word of een groot trekker met ’n paar kleiner trekkers? Of moet daar net klein trekkertjies in die vloot wees? Dis voorwaar ’n moeilike keuse en elke boerdery se samestelling sal verskil.

Hier is dit ook belangrik om te bepaal watter bewerkings binne watter tydsduur gedoen moet word. Vir elke aksie moet ’n produsent weet hoe lank die bewerkingsvenster is en hoeveel hektaar per dag met watter trekker bewerk kan word. Die koste van die spesifieke trekker moet ook in gedagte gehou word.

Inligting beskikbaar
Daar is heelwat publikasies wat die meeste van die inligting rondom die bewerkings­koste asook die bewerkingstempo’s verskaf, soos die Direktoraat Landbou-ekonomie se publikasie Guide to machinery costs en die meganisasiegids saamgestel deur JP le Roux. Die landboudienste-afdeling by die meeste landboubesighede kan ook gekontak word. In die winterreënvalstreek het die landboubesighede en ander rolspelers saamgewerk en ’n kostegids vir die streek saamgestel. Hulle kan vir meer inligting gekontak word.

In Tabel 2 word die koste en werkstempo van 70 kW- tot 80 kW-vierwieldryftrekkers getoon, terwyl die koste en werkstempo van ’n 250 kW-trekker in Tabel 3 getoon word.

Trekkerlewensduur op 12 000 uur bereken en jaarlikse gebruik op 1 000 uur
Skrootwaardes van trekkers en implemente 10% van aankoopprys
Waardevermindering per uur is die aankoopprys minus die skrootwaarde gedeel deur die lewensverwagting
Rente is bereken teen 8% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Trekkerversekering en lisensies is bereken teen 1,75% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk is by trekkers gebruik teen 120% van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van die trekker
Implementversekering is bereken teen 1,5% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk by implemente is bereken teen die persentasie van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting
Trekkerlewensduur op 12 000 uur bereken en jaarlikse gebruik op 1 000 uur
Skrootwaardes van trekkers en implemente 10% van aankoopprys
Waardevermindering per uur is die aankoopprys minus die skrootwaarde gedeel deur die lewensverwagting
Rente is bereken teen 8% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Trekkerversekering en lisensies is bereken teen 1,75% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk is by trekkers gebruik teen 120% van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van die trekker
Implementversekering is bereken teen 1,5% van die gemiddelde belegging gedeel deur die uur per jaar gebruik
Herstelwerk by implemente is bereken teen die persentasie van aankoopprys gedeel deur die lewensverwagting van die implement

Tabel 2 is opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs en ander meganisasiegidse en is aangepas volgens 2020 se gemiddelde nuwe pryse. In Tabel 2 word aangetoon dat ’n 78 kW-trekker 15,1 ℓ diesel gebruik om ’n hektaar te ploeg en dat ’n trekker 1,07 uur benodig om een hektaar te ploeg. Dieselfde 78 kW-trekker behoort 5,22 ℓ diesel te gebruik om een hektaar met ’n 6-ry-no-till-planter te plant en so ’n kombinasie behoort ongeveer 27 hektaar in tien ure te kan plant. Die totale koste om ’n hektaar te dis, behoort R239,92 te beloop.

Die meeste produsente dink hulle trekkers werk tien ure per dag, maar as die uurmeters nagegaan word, is daar groot afwykings. In die meeste gevalle is die werkstyd heelwat minder. Die arbeiders mag dalk tien ure by die werk wees, maar net die tyd wat die trekker staan omdat die drywer eet en ander staantyd, maak dat die trekker minder ure op het. Maak die trekker vol met diesel en nog ’n halfuur is weg.

Graan SA/Sasol fotokompetisie

Tabel 3 is ook opgestel deur gebruik te maak van Guide to machinery costs asook ander meganisasiegidse wat met gemiddelde pryse vir nuwe trekkers en implemente aangepas is.

Uit hierdie inligting is dit vir ’n 250 kW-trekker moontlik om 23 hektaar in tien ure te ploeg en 42 hektaar per tien ure te beitel.

Graan SA/Sasol fotokompetisie

Gegewe hierdie inligting en die kennis dat die lande binne 15 dae geploeg moet wees en daar 1 000 hektaar is om te bewerk, sal daar 66 hektaar per dag geploeg moet word. As aanvaar word dat die trekker tien ure per dag kan werk, sal daar drie 250 kW-trekkers benodig word om die werk binne die tyd afgehandel te kry. Ten einde dieselfde plaas met 70 kW- tot 80 kW-trekkers te ploeg, sal daar om en by sewe trekkers benodig word.

In Grafiek 1 word die koste van die verskillende trekkers – tweewieldryf, vierwieldryf, vierwieldryf met ’n kappie en trekkers wat met rusperbande toegerus is – vergelyk.

Grafiek 1: Koste per kilowatt van verskillende trekkers getoon.

Hierdie grafiek is saamgestel uit prysinligting van 311 verskillende modelle van die meeste groot trekkervervaardigers. Uit die grafiek is dit duidelik dat die kleiner trekkers per kilowatt die goedkoopste is. Soos die trekkers se kilowatts toeneem, neem die koste ook toe. Gegewe hierdie inligting is dit duidelik dat hoe groter die trekker is, hoe hoër die herstelwerk per uur behoort te wees. Ongelukkig werk hierdie koste deur na koste per hektaar. Produsente moet seker maak dat die trekkers en toerusting so effektief as moontlik werk, anders gaan die koste per hektaar nog hoër wees.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir enige navrae oor trekkerkoste.