Trekkerverkope weerspieël die huidige landbou-ekonomie

2206
Corné Louw
Senior ekonoom, Graan SA,
corne@grainsa.co.za

Trekkerverkope is gewoonlik ’n baie goeie barometer om die toestand van die landbou-ekonomie mee te meet. Vir die jaar tot dusver, tot en met Junie 2019, is trekkerverkope 21,4% laer as verlede jaar dieselfde tyd. Stroperverkope is 10,5% minder.

Vir die agtereenvolgende twaalf maande is trekkerverkope 12% laer as die vorige twaalf maande. Hierdie negatiewe syfers dui beslis aan dat dit tans taai in die landboubedryf gaan.

Jaar-op-jaar-landboumasjineriepryse
Die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van die verskillende kategorieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landboumasjineriepryse het gemiddeld vanaf Junie 2018 tot Junie 2019 met 0,5% gestyg, terwyl trekkerpryse gemiddeld met 0,5% afgeneem het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 9,3% verswak.

Omdat die grootste deel van hierdie landboumasjinerie ingevoer word, is ’n skerper stygende tendens in pryse verwag.

Bekostigbaarheid van trekkers oor tyd
Om te kyk na die bekostigbaarheid van trekkers oor tyd, is ruilvoetberekeninge van trekkers en graan gedoen.

Grafiek 1 toon aan hoeveel mielies benodig word om ’n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die huidige seisoen kan dit ’n produsent 324 ton mielies uit die sak jaag om ’n trekker van hierdie grootte aan te koop, terwyl dit tien jaar gelede 357 ton gekos het.

Die gemiddelde ruilvoet sedert 1990 is 304 ton mielies vir ’n trekker van tussen 70 kW en 80 kW. Trekkers is tans minder bekostigbaar as die gemiddeld sedert die 1990/1991-produksieseisoen, maar meer bekostigbaar as tien jaar gelede.

Grafiek 2 dui aan hoeveel koring benodig word om ’n trekker van tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Vir die huidige seisoen kan dit ’n produsent 193 ton kos om so ’n trekker aan te koop, terwyl ’n trekker van hierdie grootte op lang termyn (sedert 1990/1991) gemiddeld 195 ton koring gekos het.

Trekkerverkope
Trekkerverkope vir 2018 het 6 714 eenhede beloop – 4% hoër as die vorige jaar se verkope. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 beloop 5 466 eenhede (Grafiek 3). Stroperverkope van 198 eenhede vir 2018 was 1,5% hoër as in 2017.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se algehele trekkervloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar) word in Grafiek 4 geïllustreer, terwyl Grafiek 5 die ouderdomuiteensetting daarvan weergee.

Algemene gevolgtrekkings ten opsigte van die grootte en ouderdomverspreiding van die trekkervloot (Agfacts, 2019):

  • Die algehele trekkervloot het die afgelope 13 jaar aansienlik toegeneem sedert ’n laagtepunt in 2005 bereik is.
  • Die huidige trekkervloot van 90 470 eenhede, is 1,8% groter as die vloot van bykans 89 000 eenhede 20 jaar gelede.
  • Die trekkervloot is tans 45% groter as die laagtepunt wat in 2005 bereik is.
  • Die totale hoeveelheid trekkers jonger as tien jaar oud, is tans ongeveer 61 900 eenhede – 68% van die huidige trekkervloot. Die persentasie trekkers jonger as tien jaar was op ’n laagtepunt in 1993, toe 35,8% van die trekkervloot jonger as tien jaar was. In 1995 het die totale trekkers jonger as tien jaar 36,7% van die vloot uitgemaak waarna die grootte van die trekkervloot jonger as tien jaar toenemend begin groei het.
  • Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot staan tans op sewe jaar.

Trekkrag van trekkers in die vloot
Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 7,05 miljoen kW (Grafiek 6). Dit het skerp toegeneem sedert die trekkrag ’n minimum van 4,26 miljoen kW in 2003 bereik het.

In die afgelope paar jaar het die gemiddelde krag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot geleidelik toegeneem. Hierdie styging in gemiddelde krag kan in Grafiek 7 gesien word: Dit het vanaf 73,5 kW (tien jaar gelede) tot die huidige 77,9 kW gestyg.