Trekkerverkope nog verder onder druk

Gepubliseer: 3 Augustus 2020

1324

Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA corne@grainsa.co.za

Volgens ’n onlangse studie van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) was landboumasjinerie tussen 2017 en 2019 die enkele grootste insetinvoerproduk in waarde. Dit sluit trekkers, stropers, implemente, masjinerie, onderdele en parte in.

Van dié invoer vorm trekkers groter as 130 kW die grootste gedeelte teen 32%, terwyl parte 20% uitmaak. Om en by 50% van die invoer is afkomstig van die Europese Unie, terwyl tussen 16% en 25% van die Verenigde State af kom.

Trekkerverkope is gewoonlik ’n baie goeie barometer om die toestand van die landbou-ekonomie teen te meet. Vir die jaar tot dusver – tot en met Junie 2020 – is trekkerverkope 6,3% laer as verlede jaar dieselfde tyd. Stroperverkope is egter 5,4% hoër. Hierdie syfers kom nadat verlede jaar se verkope ook relatief laer was.

Jaar-op-jaar-landboumasjineriepryse
Die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van die verskillende kategorieë landboumasjinerie kan in Tabel 1 waargeneem word. Landboumasjineriepryse het gemiddeld vanaf Junie 2019 tot Junie 2020 met 4,8% gestyg, terwyl trekkerpryse gemiddeld met 5,7% toegeneem het. Oor dieselfde tydperk het die wisselkoers met 17,5% verswak. Omdat die meerderheid van hierdie landboumasjinerie ingevoer word, is ’n skerper stygende tendens in pryse verwag.

Bron: AGFACTS nuusbrief

Trekkerverkope
Trekkerverkope vir 2019 het 5 270 eenhede beloop – 21,5% laer as die vorige jaar se verkope. Die gemiddelde trekkerverkope per jaar sedert 1995 beloop 5 458 eenhede (Grafiek 1).

Stroperverkope van 198 eenhede vir 2019 was ook 25,3% laer as in 2018.

Grafiek 1: Jaarlikse trekkerverkope.

In Grafiek 2 word trekkerverkope per kW-reeks uitgebeeld. Uit die grafiek is dit duidelik dat die meeste van die trekker­verkope trekkers is wat kleiner as 70 kW is – gemiddeld 58% van alle verkope oor die afgelope twaalf jaar. Die trekkrag van trekkers tussen 70 kW en 120 kW het gemiddeld 32% van verkope oor hierdie tydperk beslaan. Oor hierdie tydperk het verkope van trekkers groter as 120 kW net meer as 10% van totale verkope uitgemaak.

Grafiek 2: Trekkerverkope per kW-reeks.

Grootte en ouderdom van trekkervloot
Die verandering in die grootte van Suid-Afrika se algehele trekkervloot (die aantal trekkers in Suid-Afrika jonger as 20 jaar) sedert 1983 word in Grafiek 3 geïllustreer, terwyl Grafiek 4 die ouderdomsuiteensetting daarvan sedert 1991 weergee.

Grafiek 3: Grootte van trekkervloot.
Grafiek 4: Verspreiding van trekkervlootouderdom.

Algemene gevolgtrekkings ten opsigte van die grootte en ouderdomsverspreiding van die trekkervloot (AGFACTS, 2020):

  • In die laaste 14 jaar het die algehele trekkervloot aansienlik toegeneem.
  • Die huidige trekkervloot van 91 256 eenhede is 11% groter as die vloot van bykans 82 000 eenhede 20 jaar gelede.
  • Die trekkervloot is tans 46% groter as die laagtepunt wat in 2005 bereik is.
  • Die totale hoeveelheid trekkers jonger as tien jaar oud, is tans ongeveer 61 486 eenhede – 67% van die huidige trekkervloot. Die persentasie trekkers jonger as tien jaar was op ’n laagtepunt in 1993, toe 35,8% van die trekkervloot jonger as tien jaar was. In 1995 het die totale trekkers jonger as tien jaar 36,7% van die vloot uitgemaak, waarna die grootte van die trekkervloot jonger as tien jaar toenemend begin groei het.
  • Tans is die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot sewe jaar.

Trekkrag van trekkers in die trekkervloot
Die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot staan tans op 7,05 miljoen kW (Grafiek 5). Dit het skerp toegeneem sedert die trekkrag ’n minimum van 4,26 miljoen kW bereik het.

Grafiek 5: Totale trekkrag van trekkervloot.

Daar was ’n geleidelike toename oor die afgelope paar jaar van die gemiddelde krag (kW) van trekkers in die totale trekkervloot. Hierdie styging in gemiddelde krag kan in Grafiek 6 gesien word; dit het vanaf 74,5 kW (tien jaar gelede) tot die huidige 77,3 kW toegeneem.

Grafiek 6: Gemiddelde trekkrag van trekkervloot.
Klik op die ikoon om na ‘n potgooi te luister waarin Corné ‘n kort opsomming van hierdie artikel gee.