March 2015

STEPHANUS RICHTER, produsent, Windheuwel en Genadeshoop Boerderye, Piketberg

“If you base your security in the fulfilment of your own needs, you will enslave yourself – if you base it on your contribution, you will be free.”

Dit is wat my ouers in die tagtigerjare besef het. Die stelsels van ons land in die verlede, het groot skade aan verhoudings en aan ons plattelandse mense se identiteit aangebring.

Dit gaan egter nie oor hoe die lewe begin is nie, maar hoe mens dit eindig. My pa het verantwoordelikheid geneem om regstellings aan te bring en het my daar deur geleer dat wanneer ‘n mens verantwoordelikheid vir iets neem, goed of sleg, dit aan jou sak sal vat. As jy egter die regte dinge doen, sal God dit eer en jou bonatuurlik bystaan.

My ouers het tot die beste van hulle vermoë begin om te bou aan die lewens van diegene rondom hulle en deur hulle naaste se verskillende vaardighede te identifiseer en dit uit te bou. Soos ons weet was dit moeilike tye en aan albei kante “van die draad” was dinge maar deurmekaar. In 1987 het my pa-hulle elke oggend op die plaas met skriflesing en gebed begin. Dit is daar waar die Here in almal se harte, veral my pa s’n, begin werk het.

Vir my as kind, was ons een groot familie op die plaas, al was daar kultuur- en kleurverskille. Toe ek begin boer het, was daar alreeds groot genesing, maar steeds sekere regstellings wat hanteer moes word. Ek self was ook ‘n jong man wat nou moes kies watter rigting ek wou inslaan. Deur die genade van die Here, die beste vrou in die wêreld, goeie vriendskappe op die plaas en die voorbeeld van my ouers, het ek gelukkig gekies om te glo in die liefde.

Dit bring my by die volgende stappe wat gevolg is:

Stap 1: Vergifnis

Ons moes nederig erken dat daar foute in ons lewens was en deur ons families gemaak is. Ons moes vir Jesus om vergifnis vra, alles teruggee aan Hom en ook jammer sê aan mekaar op die plaas. Ons titels en magsposisies moes ons verruil vir die lewens van dienaars. Ons moes ons identiteit vind in Christus. Dit is Hy wat ‘n mens neem na die funksie van jou lewe en jou ook funksioneel maak daarvoor. Nou het ons die voordeel vir mekaar begin soek, bo ons eie begeertes. Ons moes die vakbonde, boere-unies, kerke en invloede almal opsy skuif en fokus op mekaar.

Vanaf 2003 tot 2005 het ons ‘n erge droogte saam meegemaak en het mekaar se belange op die hart begin dra en aan elkeen se roeping begin bou. Daar in die droë jare het ons elkeen genoegsaam in onsself gesterf, om mekaar vir die eerste keer werklik raak te sien en lief te hê.

Hiermee saam het ons dienaars van die grond geword en alles in ons vermoë begin doen om tekorte in die grond reg te stel en die beste praktyke, wat vir die grond goed is (nie noodwendig vir ons sakke nie) toe te pas. Vinnig het ons gesien hoe opbrengste verbeter asook ons vermoë om meer te kan hanteer. Ons moes leer om in geloof te investeer in die grond. Dit het ons voorberei, sodat ons later in geloof in mekaar kon begin belê.

Stap 2: Opoffering

Om deur ‘n onsigbare plafon in ons verhoudings te breek, moes daar iets moois gebeur. Gee dus van wat jy het om vir ander ‘n begin te gee. Hierdie “vredesoffer” is as ‘n beginpunt gebruik om vanaf uit te bou. Moenie jou besluite deur “somme” laat bepaal nie – die somme sal nie vooraf klop as dit geloofstappe is nie.

In my geval was dit die beskikbaarstelling van 100 ha grond en 100 skape (jaar 1), al het ons op daardie stadium R2,5 miljoen droogteskuld gehad. Van die span op die plaas se kant af was dit liefde, vertroue en ondersteuning wat ek weer baie nodig gehad het. In die tweede jaar is 170 ha beskikbaar gestel, in jaar drie 300 ha en in die vierde jaar nog 300 ha huurgrond (in totaal dus 600 ha).

Daar is begin deur streng volgens ‘n begroting te werk en vir die werkersgroep hul eie besigheid te registreer (Genadeshoop BK). Op dié stadium was dit belangrik om drie jaar se finansiële state bymekaar te kry om sodoende vir ‘n produksielening te kon kwalifiseer.

Dit is egter goed vir die vestiging van goeie verhoudings om aanvanklik hulp uit eie fasiliteite te verleen, sonder rente.

‘n Begroting is opgestel en daaruit is die afleiding gemaak dat dit tot finansiële voordeel sou wees indien hulle op daar die stadium steeds vir my besigheid (Windheuwel) moes werk en daaruit salarisse trek. Die persone betrokke moes ook self besluit wat hulle met hul besigheid wou bereik.

Genadeshoop BK se doel was om hulle eie plaas te bekom. Met hierdie skuif moes hulle dienskontrakte met Windheuwel BK beëindig en hulleself aanbied as kontrakteurs. Dit was dus ‘n skuif van werknemer (pligte uitvoer) na kontrakwerker (werk vir hulself). Jy kan nie ‘n eienaar van ‘n plaas word, of in twee besighede vennote wees, as een die werkgewer en een die werknemer is nie. Dit is ‘n groot kopskuif aan albei kante. Die aard van julle verhouding sal die moontlikheid van hierdie tree bepaal.

Daar is konstant bly werk na hulle mikpunte toe, deur korttermyndoelwitte te stel. Die groep het uit eie geledere ‘n voorsitter aangewys, wat ‘n nou pad met die Here gestap het. Hy het soggens begin, terwyl ek Woensdagoggende die Boodskap oorgedra het wat die Here met my gedeel het. Uit ‘n finansiële oogpunt is besluit om ‘n buitepersoon aan te stel om die finansies te hanteer. Hierdie persoon moes beide besighede se werksaamhede binne die begrotings hou en sonder emosie sorg dat mikpunte bereik word en verantwoordelikhede nagekom word.

Stap 3: Opleiding

Opleiding is baie belangrik en daar is gepoog om die begunstigdes volgens hulle verskillende passies, belangstellings en gawes op te lei en aan te wend. Daar is besluit dat die manne een dag per week op hulle eie plaas sou werk.

Hierdie vryheid was nodig om inisiatief aan te wakker, maar ook dat die groep beter as ‘n span sou saamwerk. Die manne se boerdery is egter hanteer soos nog ‘n “kamp” van Windheuwel en hulle plaas is nie slegs een dag ‘n week gediens nie, maar soos nodig.

Die volgende stap was om hul besigheid vir befondsing by die staat te registreer – hiervoor moes hulle ‘n mentor aanstel en dit het my in die posisie geplaas om vorentoe te tree as “pa” van hulle besigheid.

Die staat se mikpunt is dat die besighede ‘n mentor het wat self in die area boer, met dieselfde boerderyvertakkings en wat toesig hou oor die projek, tot almal se voordeel. Tyd is saam met elkeen spandeer, sodat elkeen sy verantwoordelikhede onder die knie kon kry.

Kaap-Agri se Akademie in Porterville bied ‘n baie goeie boerderyontwikkelings/akademieprogram aan wat baie besigheids- en bestuurswyshede asook boerderypraktyke hanteer.

Daar is ook by Graan SA se opleidingskursusse ingeskakel. Die besigheid se behoeftes en tekortkominge is soos volg geïdentifiseer:

  • Masjineriekontrakkostes
  • Sekuriteit: Identifiseer eiendom
  • Onkundigheid: Opleiding
  • Karakterboukursusse
  • Langtermyndoelwitte: Beplanning
  • Kinders se toekoms: Werk met kinders deur hul pa’s

Daar is aan die begin besluit dat winste so ver as moontlik in die besigheid teruggeploeg moes word. Die gedagte was om ‘n deposito bymekaar te maak vir ‘n eerste stap (stepping stone) (‘n bekostigbare plaas), wat kon lei tot ‘n ekonomiese eenheid.

Stap 4: Eie grond/sekuriteit

Dié fase het die aankoop van eie landbougrond behels. Hierdie besit van eiendom het ‘n volwassenheid in elkeen bewerk. Dit vereis nog meer verantwoordelikheid omdat dit dalk maklik is om iets te koop en te onderhou, maar dit is ‘n groot uitdaging om iets te groei tot finansiële onafhanklikheid (met boonop vyf gesinne wat saam in die besigheid is).

Dit is ‘n uitdaging om ‘n paaiement te betaal en ook te ontwikkel op ‘n nuwe plaas. Dit het egter gedien as ‘n verpligte besparing, wat ‘n bate is, om sekuriteit te skep. Om by ‘n ekonomiese eenheid uit te kom, sou ‘n mens egter êrens moes begin.

Nou moes ‘n kultuur van rentmeesterskap geskep word. ‘n Eienaar dink lang termyn, ter wyl ‘n huurder kort termyn dink. ‘n Eie naar investeer, terwyl ‘n huurder onttrek. Identiteitvaslegging en geloofsgroei is waar iemand beweeg vanaf slaaf na seun van God.

Daar sou nou meer op hulle eiendom gewerk word, dus moes goed beplan word, want dit sou beteken dat minder aandag aan Windheuwel spandeer sou word. In ons geval is daar in jaar sewe ‘n plaas van 450 ha aangekoop.

Stap 5: Eienaarskap

Verantwoordelikheid en groei kan nie van iemand verwag word sonder om eienaarskap aan daardie persone te gee nie. Jy kan ook nie oorwinning verwag oor onderliggende persoonlike sake, as jy nie ook bereid is om vryheid en spasie aan daardie persone te gee om hulle eie besluite te maak en die gevolge daarvan te dra nie.

Elkeen moet sy eie kruis optel. Dit is egter ook belangrik om te beweeg van “elkeen vir homself” na “elkeen vir die familie.” Dit is hier waar ‘n paar mense “uit die bus” geval het. Gelukkig hanteer die Here self hierdie ongemaklikhede.

Die familie, die “wedstryd” en ons getuienis is groter as die individu. Tot ‘n groot mate is dit waar die jongmense vashaak. Jy kan nie nou meer mense probeer manipuleer vir jou eie begeertes nie. Jy moet self God jou bron maak en op Hom staatmaak vir die aanmekaarsit van jou toekoms. Ook moet jy nederig besef dat Hy deur hulle rondom jou gaan werk en dat jy hulle sal moet dien, liefhê en jou commitment sal moet bewys.

Kwaliteitverhoudings bewerk ‘n kwaliteit lewe. Dit was nou sinneloos om twee van alles op die plase aan te hou. Toerusting vir hulle boerdery en ook vir joune. Ons het geleer dat die mate van potensiaal bepaal word deur die mate van jou ondersteuning. Die besighede sou beide vinniger verder groei en vooruitgaan deur mekaar te ondersteun as om elkeen ‘n eie pad te loop.

‘n Inventaris van alle toerusting is derhalwe opgestel. Hierdie toerusting is verdeel tussen die vyf pa’s op die plaas. Elkeen van hulle was teen hierdie tyd in elk geval reeds verantwoordelik en werksaam met toegedeelde toerusting.

Die vyf werkende seuns is elkeen na sy pa geallokeer, sodat hulle as ‘n span verantwoordelikheid kon neem. Al die toerusting is in ‘n trust geplaas en finansiering is daarvoor gekry. Aanvanklik het ek niks vir myself uitgehou nie, maar met die oorskakeling na geenbewerking (no-till) op ‘n groot gedeelte van my plaas, het ek toe vir my ook ‘n kontrakbesigheid (‘n trekker met ‘n geenbewerkingsplanter, rolmoer en strooier) gestig. Elke pa het nou sy eie kontrakbesigheid ge had. Die twee besighede (Windheuwel en Genadeshoop) het sewe jaar kontrakte gegee aan die kontrak BK om funksies op die plase te verrig. Hierdie aksie het die pa se outoriteit oor sy seun gevestig.

Ook het die seuns iets gehad waarvoor hulle saam met hul pa’s kon werk om dan later weer by hom oor te neem. Dit gesê, het verhoogde salarisse onmiddellik ‘n impak gemaak op Genadeshoop en Windheuwel. As daar samewerking en respek is, sal Hy dit eer en geleenthede bygee om die somme te laat klop.

Masjinerie sou nou tussen vyf en agt jaar afbetaal word. Nou was daar ‘n motief om harder te werk en ook om hektare by te kry om masjinerie so gou as moontlik af te betaal. Die skuif vanaf vennoot na eienaar word gemaak in die volgende termyn. Die manne wat nie skouer aan die wiel sit nie en nie hul self aandryf om eienaarskap en verantwoordelikheid te neem van hulle besighede nie, sal hulleself in ‘n hoek dryf en uitwerk.

Dit is vir die pa nodig om saam met sy seun te betaal vir wat hulle bekom en sodoende hulle besigheid saam opbou. As my seuns plaas toe kom sal hulle hierdie kontrakbesigheid moet deurwerk voordat hulle meer kan kry. Ons hart is dat ons kinders oorvat, maar hulle sal toetse moet slaag, soos ons hulle moes slaag – dit is deel van karakterbou.

Die afgelope 15 jaar was vol bonuslose jare, swak salarisse, droogtes, uitdagings en groot teleurstellings, maar ‘n mens se karakter is versterk en verbeter om te wys ons staan bymekaar. Ook moes ons wys dat ons die Here toelaat om ons toekoms te bestuur.

Ek wil ‘n beroep op elkeen maak: Ons moes raaksien dat die vryheid en groei in ‘n eie besigheid, die saamwerk en ondersteuning met en vir jou naaste, tyd vir familie en vriende, ‘n geleentheid om iets vir God te doen, ‘n erfenis opbou vir ons kinders, spaar vir ons oudag, spasie om ons probleme (issues) deur te werk en tyd vir God, baie meer as geld werd is. Geld bevredig in die kort termyn, maar los ‘n groot gat in die lang termyn.

In die volgende uitgawe skryf Stephanus Richter verder oor die res van die stappe wat hulle op Windheuwel en Genadeshoop Boerderye gevolg het. – Red.

image

Publication: March 2015

Section: Grain SA