Wisselbou kan gewasproduksiese wins verhoog

23

Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Gewasrotasie is ’n aspek wat dikwels bespreek word en waarvan die eindresultaat nog steeds nie duidelik is nie. Op vele plase word die wisselbou-effek onderbenut om risiko’s te verminder en finansiële voordeel te trek. Verskeie alternatiewe en rotasiestelsels kan gevolg word en elk het hul eie voordele en soms ook nadele.

Gegewe die fokus op bewaringslandbou, is daar nuwe feite wat in ag geneem moet word. Die hoofvoordele van wisselbou sluit onder meer die volgende in:

  • Dit verhoog grondvrugbaarheid en produktiwiteit.
  • Die stikstofinhoud van die grond kan verhoog.
  • Dit beperk die impak van plae en siektes in die grond bloot omdat hul lewensiklusse verbreek word.
  • Die geleentheid word geskep om onkruid beter te kan beheer en onkruidweerstand te bestuur.
  • Aangesien die gewasse op verskillende tye geplant word en dus op verskillende tye maksimum vog benodig, kan dit die kapitale uitleg en die risiko vir die besigheid verlaag.
  • Dit versprei die werkslading.

Ongelukkig bring gewasrotasie ook probleme mee. As dit nie korrek en behoorlik geïmplementeer word nie, kan dit maklik tot baie skade aanleiding gee. Wisselbou verg kundigheid oor meer gewasse van die produsent en vereis gewoonlik ook ’n groter belegging in gewasspesifieke toerusting.

Gewasrotasie is die afwisseling van verskillende soorte bywortel- en penwortelstelselgewasse. Die penwortelgewasse word verdeel in peulgewasse – wat stikstof kan bind – en nie-peulgewasse.

Die bywortelgewasse sluit gewasse soos mielies, sorghum en koring in. In die peulgewasreeks kan gewasse soos grondbone, sojabone, droëbone en erte ingesluit word. Nie-peulgewasse sluit sonneblom en katoen in. Met die inkorporering van bewaringslandbou kan die effek van dekgewasse ook ingesluit word en deur die inbring van diversiteit en die beweiding van vee kan die effek van wisselbou nog verder verhoog word.

Daar is verskeie maniere om die gewasse te roteer, maar die implementering van ’n kwartstelsel is dalk nie ’n slegte plan nie. Al drie hierdie groepe gewasse kan in dié stelsel verbou word. Dit kom daarop neer dat daar op 50% van die plaas graangewasse verbou word, terwyl die ander helfte penwortelgewasse op het.

Die graangewasse sal deur beide peul- en nie-peulgewasse opgevolg word en die peul- en nie-peulgewasse sal weer deur graangewasse opgevolg word. Deur die peulgewasse en nie-peulgewasse af te wissel, behoort ’n opbou van siektes nie voor te kom nie. Hierdie is slegs ’n basiese riglyn. Grondvog, siektedruk, meganisasie en finansies kan die planne dramaties laat verander.

Indien dekgewasse verbou word, sal die grond ook in kwarte verdeel moet word. Die peulgewasse sal deur graangewasse opgevolg word, waarna die nie-peulgewasse die graangewasse opvolg. Dekgewasse kan dan hierdie nie-peulgewasse opvolg.

Maak net seker dat hierdie wisselbouprogramme met die chemiese verteenwoordiger bespreek word sodat die onkruiddoderprogram hiervolgens aangepas kan word om die effek van onkruiddoderskade tot die minimum te beperk.

In die keuse van die gewasse om te verbou, is dit belangrik dat produsente hul beperkings en die doelwitte wat hulle met die gewasse wil bereik, in ag neem. As ’n spesifieke tipe onkruid ’n probleem is, kies die gewas waarvan die chemie hierdie onkruid die beste sal beheer.

Gewaswinsgewendheid speel die belangrikste rol in die keuse van watter gewasse verbou moet word. Deur egter net na ’n gewas se ekonomiese prestasie te kyk sonder om die sinergistiese invloed wat gewasse in wisselbou op mekaar uitoefen, in ag te neem, sal ’n groot fout wees.

Wisselbouresultate
Resultate van verskeie proewe wat oor verskeie jare en lokaliteite gemeet is, toon ’n gemiddelde styging van 12% in die opbrengs van mielies indien dit ná ’n peulgewas verbou word. Na sonneblom is die opbrengs van mielies gewoonlik dieselfde as dié van monokultuurmielies, mits die sonneblom betreklik vroeg geplant is. Na koring en ’n oorlêperiode van sowat tien maande was die opbrengs van mielies 33% hoër as dié in monokultuur by die LNR-Kleingraan.

In hierdie resultate kom daar jaarliks groot variasie in die wisselbou-effekte voor. Soms het peulgewasse die daaropvolgende mielies se opbrengs onderdruk, waarskynlik omdat die grondprofiel heeltemal droog was. Sonneblom is veral in staat om meer vog in die grond as mielies te benut en die daaropvolgende mielies hierdeur te benadeel.

Dit vind veral plaas indien die peulgewas of sonneblom laat geplant is en onvoldoende reën voorgekom het om die grond behoorlik nat te maak. In sommige jare verhoog sonneblom die opbrengs van die daaropvolgende mielies asof dit ’n peulgewas is. Ongelukkig is die wisselbou-effek nie orals teenwoordig nie en dit wil voorkom of dit minder gereeld op kleigrond as op sandgrond voorkom.

Tabel 1 toon nege jaar se opbrengsresultate van ’n wisselbouproef wat by LNR-Kleingraan gedoen is. Beide mielies en koring het sterk op wisselbou en oorlê gereageer. Die opbrengs van koring in ’n oorlêstelsel van 18 maande het dié van koring in monokultuur met 40% oortref. Koring is ook direk na droëbone in ’n mielies-droëbone-koringstelsel verbou waar die koringopbrengs ook 31% hoër was as dié van monokultuurkoring. Weens die reënval was dit slegs moontlik om koring in ses uit die nege jaar ná droëbone te plant.

Impak op die ekonomie en risiko
Wisselbou vereis ’n groter bestuursinset en tegniese kennis van die produsent. Die stelsel moet die winsgewendheid van ’n plaas verhoog en die kans vir risiko’s verlaag voordat dit sin maak. Met wisselbou kan dieselfde implemente op verskillende tye gebruik word en daarom kan daar met ’n kleiner kapitale belegging weggekom word.

Om die sinvolheid van wisselbou te toets, is die opbrengsresultate van die LNR-Kleingraanproef gebruik om die netto marge van stelsels te vergelyk. Die gewasbegroting vir die 2018/2019-seisoen wat deur Graan SA gepubliseer is, is gebruik en word in Tabel 2 getoon.

Dié direk toedeelbare kostes en graanpryse soos tydens die opstel van die begrotings, is gebruik om marges vir die verskillende gewasse en wisselboustelsels met die opbrengste wat behaal is, te bereken. Waar ’n braakperiode in ’n stelsel voorkom, is aanvaar dat dit R942/ha kos om dit onkruidvry te hou.

Ten einde die winsgewendheid van die stelsels te vergelyk, is ’n denkbeeldige plaas van 400 ha gebruik en verskillende stelsels is op die plaas gemoduleer. Stelsels wat mielies, sojabone, droëbone, sonneblom en koring asook kombinasies hiervan insluit, is gemoduleer en met monokultuurmielies vergelyk. Die verskillende stelsels en hul resultate word in Tabel 3 aangetoon.

Die winsgewendheid van al hierdie stelsels word deur die winsgewendheid van die individuele gewasse bepaal. Die oorlêstelsel se winsgewendheid word deur die oorlêtydperk en die koste daarvan benadeel. Indien daar ’n vangoes geplant kan word, afgesien van die inkomste, word die stelsel se winsgewendheid dramaties verhoog.

Diversifikasie is ’n maatreël om risiko te bekamp. Die produksierisiko, dit wil sê die kans vir ’n mislukking, is ook altyd laer vir ’n wisselboustelsel in vergelyking met ’n monokultuurstelsel. Gewasstelsels se risiko’s verskil ook en beide die risiko’s en marges behoort in aanmerking geneem te word by die beplanning van ’n stelsel.

Elke produsent sal sy eie stelsel vir sy plaas moet ontwerp en kyk of dit werk. Die vraag is hoe word die keuse gemaak? Eerstens moet die hulpbronne se potensiaal en gewaskombinasies se opbrengste, winste en rendemente bekend wees. Bepaal hoeveel van watter gewas verbou kan word. Kies dan die gewasse volgens hul winsgewendheid totdat die beperkings intree. Op dié manier kan die beste, mees winsgewende kombinasie vir die plaas bepaal word.

Daar bestaan ook wiskundige modelle wat gebruik kan word. Vir meer inligting oor hierdie modelle, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.