Hoe jy onthou wil word

Gepubliseer: 5 Februarie 2021

665

Beste Grootneef

Buskruit het die mensdom verander. Onherroeplik. Van Kublai Khan se tyd af. Die vreemde ding is dat buskruit lank reeds deur die Sjinese gebruik is vir oorlog en vuurwerke voordat die Europeërs daarvan te hore gekom het. Die Westerse nasies het eers ná Marco Polo se reise agtergekom dat iets verder as ’n pyl en boog kan skiet.

Maar toe die Weste eers hul hande op die buskruitformule lê, was alles anders. Want ’n kanon kan op enige heuwel of skip staangemaak word om ’n dodelike lading teen die vyand te slinger.

’n Besondere man is in 1833 in Stockholm, Swede, gebore. Dit was in dieselfde jaar wat sy pa, Immanuel, se besigheid bankrot gespeel het. In 1842 verhuis die gesin na Sint Petersburg in die destydse Rusland. Ons besondere man se pa bring ’n nuwe nywerheid op die been en bou seemyne vir die Russiese vloot.

In 1853 beëindig die Russiese vloot egter alle bestellings vir land- en seemyne – en ons jongman se pa se besigheid gaan vir ’n tweede keer tot niet. Ons besondere jongman was egter teen dié tyd vyf tale magtig en onderneem uitgebreide reise na Parys, Italië, Duitsland en die VSA.

Die krag van seemyne wat skepe in ’n watergraf laat verdwyn het, het egter ’n saadjie by ons jongman geplant. In 1863 trek hy terug na Stockholm en registreer die eerste patent vir die kommersiële gebruik van nitrogliserien as nywerheidspringstof. In 1864 ontwikkel en patenteer hy ’n slagdoppie om ontploffings te beheer. Sy broer, Emil, verloor egter sy lewe in een van hierdie toetsontploffings.

Na 1865 was die pad oop vir ons besondere man. Die gebruik van springstof is wêreldwyd gepatenteer. Dit – saam met die slagdoptegnologie – het dit moontlik gemaak om kommersieel beheerde ontploffings te laat plaasvind. Mynbou sou nooit weer dieselfde wees nie. Een ontploffing kon tonne grond skuif. Gewapende magte het ook die nuwe tegnologie benut om beter en verder te skiet. Wie wil nou sukkel met ’n swaard as jy die vyand op ’n afstand kan afmaai!

In 1867 registreer ons besondere jongman dinamiet in sy tuisdorp, Stockholm. Dit het finaal die verskil gemaak aan hoe die wêreld springstof sou gebruik. In 1873 – op 40-jarige ouderdom – was die jongman een van die welvarendste persone op aarde, met ’n totaal van 355 patente wêreldwyd.

Die verhaal word vertel dat die besondere man in sy laaste jare sy eie doodsberig in ’n koerant gelees het. Die berig het egter grootliks gehandel oor die dood en verwoesting wat uit sy navorsing gespruit het en nie oor die prestasie daarvan om nuwe grond te breek nie.

Die koerantman het egter ’n groot flater begaan. Die man wat oorlede is, was ’n neef en nie die ware bekende Jakob nie! Maar wat ’n verskil het die foutiewe doodsberig nie gemaak nie! Die besondere man wou anders onthou word. Nie as die persoon wat buskruit tot springstof ontwikkel het nie, maar as iemand wat ’n verskil in mense se lewens gemaak het.

Hy is uiteindelik op 63-jarige ouderdom oorlede. Maar voor sy dood in 1896 het hy die besluit geneem om bykans sy hele rykdom in ’n spesiale fonds te plaas, wat jaarliks erkenning aan uitnemendheid sou gee. Erkenning vir grootsheid op die terreine van fisika, chemie, die mediese wetenskap, letterkunde en vir wêreldvrede.

En dít is die werklike rykdom wat hy nagelaat het. Mense onthou hom nie vir die verwoesting wat uit sy werk voortgevloei het nie, maar wel vir die grootste prys vir vrede op aarde.

Die besondere man se naam was Alfred Nobel. As jy vandag sy naam hoor, wat onthou jy – vrede of verwoesting?

So ook bied 2021 die uitdaging vir ieder en elk. Om ’n verskil te maak aan hoe jy deur die mense om jou onthou sal word.

Groete op die oosgrens.

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.