Voorwaarts, al is dit opdraand

Gepubliseer: 9 Desember 2020

135

Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Teen die tyd dat julle hierdie lees, behoort die Kaapse oes afgehandel en die noorde se oes geplant te wees. Is dit nie lekker dat die reën mooi betyds gekom het nie?

’n Beter begin vir die somerseisoen kon ons seker nie gevra het nie! Ek het egter die afgelope twee seisoene net weer intens bewus geword van die reuse-impak wat die klimaat het – nie net op die tonne wat ons produseer nie, maar ook op die kwaliteit. Die Wes-Kaap se pragtige tonne het alreeds laat in Oktober, vroeg in November hier en daar kwaliteitspro­bleme getoon.

Die laaste twee seisoene in die noorde was so laat dat ons persentasie van graad 1-witmielies (WM1) van ’n gemiddeld van 95% na 84% geval het. Dit bly maar soos ’n paal bo water staan – daar is ’n negatiewe korrelasie tussen kwaliteit en opbrengs, maar daar is ook ’n effe swakker negatiewe korrelasie
tussen uiters goeie en/of slegte weer en kwaliteit.
Graanprodusente kan beheer uitoefen oor die kultivars wat hulle plant, die insette wat hulle in die grond sit, spuitprogramme en bewerkingspraktyke, maar hulle kan byna niks aan die weer doen nie. Ek is nie so seker presies wat die verwerkers en verbruikers wil hê ons daaraan moet doen nie. Dus sit graanprodu­sente tans tussen twee brandende vure. Aan die een kant kla ons kliënte as die weer die kwaliteit negatief beïnvloed en aan die ander kant sit ons met suspisie oor die werking van die mark. Dis nie ’n goeie plek om te wees nie. Ten spyte daarvan is die landboutoestande tans vir ons goed en hou ons sektor Suid-Afrika se skip op die water.

As ek na die jaar wat voorlê kyk, bly onsekerheid heel bo-aan staan. Dit is so al asof die ekonomiese onsekerheid die politieke onsekerheid oorskadu. As ons nie volhoubaar kan boer nie, gaan die politieke onsekerheid in elk geval nie saak maak nie. Een ding wat ek die afgelope jare by Graan SA geleer het, is dat ons nie op die simpatie van die regering, kopers of die algemene publiek moet wag nie. Ongeag hoe ons saamwerk of teen mekaar werk, hoe ons beeld bou of jaar na jaar voedselsekerheid lewer, lyk dit nie of die sentiment gunstig wil draai nie. Dit is jammer. Om aan te hou om die regte dinge te doen, bly Graan SA se leuse. Dit bly egter taai om jaar in en jaar uit teen ’n negatiewe skuinste op te werk.

Ek het ook opgelet dat die neiging bly om minder van die staat en sy dienste afhanklik te wees. Dit geld vir navorsing, markinligting, finansie­ring, veiligheid en algemene dienste. Die privaat sektor vind nuwe maniere om die teleurstellings te oorbrug, maar dit kos ons geld en belastingkoerse word nie laer nie.

Laastens droom ek vir 2021 van ’n mooi graanoes en dat die Zondo-kommis­sie en die hofsake wat nog volg, die sentiment in die land sal verander. Ons het nie net ’n stuk herstel in die graanbedryf nodig nie, maar ook herstel in ons harte na al die emosionele letsels van 2020.

Geseënde Kersfees en alle voorspoed vir 2021!