Tsodilo se kliporrel

1107

January 2019


Beste Grootneef

Ou Neef, gisteraand met die ou jaar in die wieke, het die gedagtes pad gevat tot by Tsodilo. Tsodilo is nie ’n plek nie, dit is ’n reis. In toeka se dae moes jy jou eie water en brandstof saamneem, want dit was ver en afgeleë. ’n Tweespoorpaadjie na Tsodilo kronkel van die Delta deur gebroke mopanie- en doringveld. By party kolle moes jy vet gee om deur die sand te kom.

En dan skielik, deur bosse, begin jy Tsodilo op ’n afstand sien. Drie bykans loodregte soliede klipheuwels wat uit die vlaktes verrys. Jy kan nie anders as om ’n oomblik te stop en die grootsheid van die natuur in te drink nie, want hierdie is Afrika se Notre-Dame.

Die legende van Tsodilo is dat die drie heuwels ’n gesin voorstel: Die vader, moeder en kind. Die Tsodilo-heuwels is besaai met skeure en holkranse, met verskeie skilderykranse vol kunsuitstallings van die San wat deur die eeue hul merk hier kom maak het. Die ou mense vertel dat Tsodilo vir die San-swerwers ’n plek van aanbidding was. Hier het hul ’n wyle vertoef om verhale van jagtogte en reise in die holkranse te boekstaaf. Oerkuns, in dowwe kleure met eenvoudige hale van oker op klip.

Ou Neef, op die een plek in ’n geslote vallei vind jy vele potskerwe in die vlak sand – elke skerf ’n stille getuie van ’n beskawing wat eens daar was. Selfs ou vishoeke van been is daar uitgesif. Aan die oostekant van die heuwels kan jy spoelklippe sien van die groot waters wat eens op ’n tyd tot teen Tsodilo se voete gespoel het. Daar word vertel dat ná die verskuiwing van Afrika se grondplate, die water ’n ander pad na die Delta gevind het, waar dit nou tot in die middel van Botswana stoot.

Ons het die middag laat die tent so ’n entjie van die klipgesin opgeslaan. Met die vuurtjie aan die brand, was die son se laaste strale uit die weste ’n skouspel van rooi en roesbruin oor Tsodilo se loodregte klipkranse. Van die ander kampeerders het hul tente knus in die vallei tussen die rotskoppe opgeslaan.

Ou Neef, op daardie wintersaand was ons in die eensaamheid van ’n Afrika-nag omgeef deur die helderste van die sterre in die hemelruim. Met die laaste flikker van die vuur het ons ingekruip. Dit was ’n lang dag.

Dit was omtrent so twee-uur die nag toe ons die vreemde oerkreun die eerste keer gehoor het. Eers sag en fluisterend ver en toe dringender tot ’n oorweldigende bulderende dreuning. En toe buig die tent vooroor op sy penne onder die aanslag van die wind met sand, blare en takke wat die tentseil meedoënloos geslaan het. Ons het die wind verder oor die vlaktes hoor weghardloop die weste in en die kinders geroep om in ons tent te kom skuil.

Die aarde het ná hierdie kragvertoon stil gewag – totdat die volgende kerm en klag uit Tsodilo se rotse weerklink het. Eers veraf soos ’n dier in pyn en later met die kreet van siele in nood wat jy aan niemand kan oorvertel nie. Die volgende windstoot met blare en sand het ons daarna met volle geweld getref. Na elke windstoot, kon ons hoor hoe die wind westekant toe oor die vlaktes wegjaag – tot dit weer stil geword het in afwagting op die volgende stormwind wat Tsodilo laat kreun het.

Die volgende oggend met eerste lig is die omvang van die wind se krag eers besef. Tafels en kampstoele het die wêreld vol gelê. Van die mense wat in die Tsodilo-vallei tussen die koppe kamp opgeslaan het, se tente was totaal vernietig. Die oostewinde is in ’n sleur tussen die heuwels vasgedruk, wat die wind daar nog erger gemaak het. Die meeste van die mense het die nag in hul voertuie deurgebring.

Die veldwagter het dit later so verduidelik: Met ’n koeëldoppie voor sy lippe het hy saggies in die doppie geblaas en toe harder, met ’n een-toon fluit wat eers saggies en later skerper uit die doppie weerklink het. Sy antwoord was dat Tsodilo net so werk. Wanneer die wind van die Delta sterk genoeg waai, fluit dit deur Tsodilo se holkranse en skeure. En so word die drie heuwels ’n magtige kliporrel.

Soms dink ek weer aan die nag by Tsodilo met die wind se skouspel deur die ou klipskeure. En oor die San wie lank reeds van Tsodilo weggetrek het, maar wie se stemme daardie nag helder weerklink het, terwyl hulle die eeue-oue woestyndans op die maat van die oostewind doen.

Ou Neef, 2019 lê voor ons. Die wind gáán waai en die storms sál woed. Maak seker dat jou lewenstent by die Vaste Rots opgeslaan is. Op jou eie kan jou tentwoning uitmekaar gepluk word.

Groete op die Oosgrens.

Publication: January 2019

Section: Features