Trekkerkoop is nie perdekoop nie

Gepubliseer: 2 Augustus 2022

52
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Groot, blink landboumasjiene word gewoonlik geassosieer met goeie winste, maar ongelukkig is dit nie regtig waar nie. Om ’n slim besluit rakende landboumasjinerie-aankope te neem, vereis baie meer boekwerk as wat algemeen aanvaar word. Kopers moet voor die tyd self die volgende uitklaar deur hierdie vrae te beantwoord:

Maak seker die beste belegging word gemaak

  • Hoe word die besluit geneem?
  • Wanneer word ’n trekker vervang?
  • Hoe belangrik is die herverkoopwaarde van die trekker?

Wat is die meganisasiedoelwitte?

  • Hoekom word die masjien aangekoop?
  • Is dit regtig nodig?
  • Kan dit nie gehuur of gesamentlik aangekoop word nie?
  • Is vervanging noodsaaklik?
  • Gereelde vervanging om brekasies in werktyd te verminder, word vereis.
  • Kan die trekker nie eerder herstel word nie?
  • Word daar gemeganiseer om arbeid en afhanklikheid van arbeid te verminder?
  • Dit beteken nuwe, groter trekkers asook ’n reeks groter implemente.
  • Word nuwe tegnologie ingebring om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid te verbeter en uiteindelik wins­gewendheid te verhoog?
  • Moet nuwe trekkers en toerusting aan­geskaf word gegewe nuwe verbouing­stelsels en tegnologie?

Watter take moet die masjien verrig en hoeveel tyd is daarvoor beskikbaar ?

  • Primêre bewerking is uiters belangrik, maar is nie noodwendig net een trekker se werk nie.
  • Die plantvenster bepaal die tyd waarbinne ’n klomp van die ander take gedoen moet word. Die verbouing van meer as een gewas kan die plantvenster verleng.
  • Toediening van onkruid- en plaagdoder is tydgebonde. Maak seker dat hierdie take tydig, effektief en doeltreffend gedoen word.
  • Die insameling van die oes kan baie tydsgedrewe wees, maar meer as een gewas kan ook die oesvenster verleng.

Wat is die vereistes wat aan nuwe trekkers gestel word om take te verrig?

  • Die kragbehoefte waaraan die trekker moet voldoen (kilowatt).
  • Hidrouliese kapasiteit van die trekker en die behoefte van die implemente (vloei en druk).
  • Massa van die trekker (kilogram).
  • Die energieverbruik van die enjin (liter diesel per uur).

Hoe gaan die trekker of toerusting die effektiwiteit van die boerdery verhoog of beskerm?

  • Die beskikbaarheid van tegnici en onderdele as herstelwerk of dienste nodig is, is van kritieke belang.
  • Kan die gemak in die trekker die drywer se effektiwiteit verhoog?
  • Beskik die trekker oor die tegnologie om presisietoerusting soos autosteer te kan hanteer of om data soos verlang op te neem?
  • Hoeveel gaan die aankoop van die nuwe toerusting die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid verhoog?

Al hierdie inligting is natuurlik belangrik, maar uiteindelik speel die prys van ’n nuwe trekker ’n uiters groot rol. Die prys van die ou trekker wat ingeruil word, is net so belangrik. Hoe meer vir die ou trekker gekry kan word, hoe minder kapitaal hoef uitgelê te word vir die nuwe een. Dit lei tot die vraag of ’n paar klein trekkers of een groot trekker gekoop moet word.

Hierdie keuse word bepaal deur hoeveel die verskillende trekkers kos asook hoeveel werk hulle in een dag kan verrig. Een van die maniere om hierdie vergelyking te doen, is om na die koste per kilowatt (kW) te kyk.

In Grafiek 1 word die prysvergelyking van 283 verskillende trekkers tussen 30 kW en 450 kW getoon. Die trekkers is ingedeel in 2-wielaandrywing, 4-wielaandrywing met oop stasie, 4-wielaandrywing met kajuit en dan trekkers met kruipbande wat ook toegerus is met ’n kajuit.

Grafiek 1: Trekkerkoste per kilowatt.

Uit hierdie grafiek is dit duidelik dat die kleiner trekkers per kilowatt die goedkoopste is. Soos die trekkers se kilowatts toeneem, neem die koste ook toe. Die middelslag- 4-wielaangedrewe trekkers met kajuite tussen 100 kW en 170 kW se gemiddelde prys per kilowatt is ongeveer R16 759/kW. Vir die groter 4-wielaangedrewe trekkers met kajuite tussen 170 kW en 300 kW is die koste per kilowatt 17% meer as vir die middelslag- 4-wiel­aangedrewe trekkers. Die rusperbandtrekkers se koste is weer heelwat meer as die ander groot trekkers s’n.

Wat die inruilwaardes van die trekkers betref, verskil dit heelwat tussen die vervaardigers. Daar word altyd gestry oor watter maak en model sy waarde die beste behou. Om hierdie en ander vrae soos wat die waardevermindering vir trekkers behoort te wees te beantwoord, is daar van die prysgids vir gebruikte trekkers wat op ’n gereelde basis deur Agfacts gepubliseer word, gebruikgemaak. In hierdie bron word die meeste trekkers se huidige inruilwaardes aangetoon. Dit is werklike syfers wat op verskillende plekke versamel word om sodoende ’n trekkermodel se tweedehandse waarde aan te toon.

Pryse van tweedehandse trekkers word deur verskeie aspekte beïn­vloed. Een daarvan is die prys van ’n soortgelyke nuwe vervangingstrekker. Hoe hoër die nuwe trekker se prys, hoe hoër is die tweedehandse waarde van die ou trekker. Dit het egter slegs ’n impak op trekkers van een en mis­kien twee jaar oud. Die toestand van die trekker asook die hoeveelheid ure wat die trekker gebruik is, het ’n heelwat groter impak op die waarde. Vraag en aanbod van trekkers beïnvloed ook die waarde baie. Hoe hoër die vraag en hoe laer die aanbod, hoe hoër is die prys.

Die beskikbaarheid van ’n trekkermaak se onderdele het ook ’n wesenlike invloed op die tweedehandse prys. As onderdele maklik bekombaar en gereeld beskikbaar is, sal kopers bereid wees om meer vir hierdie trekkers te betaal as byvoorbeeld vir ’n maak waar dit nie die geval is nie.

Om die trekker se waarde na verloop van tyd teenoor sy aanvanklike aankoopwaarde uit te druk, gee tot ’n mate ’n aanduiding van hoe so ’n trekkermodel sy waarde behou of verloor. Om hierdie syfer te bereken, is daar weer van die Agfacts-prysgids gebruikgemaak.

In Grafiek 2 tot Grafiek 4 word drie verskillende groottes trekkers van vyf verskillende make se waardevermindering teen­oor hul aankoopwaarde vir sewe jaar getoon. Dit is bereken deur die verlies in waarde vanaf hul aankoopwaarde te bereken soos wat dit in Oktober tot Desember 2021 se Agfacts-prysgids aangetoon is.

Grafiek 2: Waardevermindering teenoor aankoopprys van ’n 70 kW- tot 80 kW-trekker oor sewe jaar.
Grafiek 3: Waardevermindering teenoor aankoopprys van ’n 95 kW- tot 105 kW-trekker oor sewe jaar.
Grafiek 4: Waardevermindering teenoor aankoopprys van ’n 250 kW-trekker oor sewe jaar.

Uit hierdie grafiek is dit duidelik dat daar trekkermake is wat meer waarde as ander met verloop van tyd verloor. Beskikbaarheid van onderdele behoort nog nie op hierdie ouderdom regtig ’n rol te speel nie, so ander aspekte het die pryse beïnvloed.

Daar is ook interessante inligting oor die 100 kW-trekkerreeks. Selfs hier is daar groot verskille tussen die trekkermake. In Grafiek 3 word die waardevermindering teenoor die aankoopprys van ’n 95 kW- tot 105 kW-trekker oor sewe jaar getoon. Hierdie trekkerreeks is dikwels goeie verkopers.

In beide Grafiek 2 en Grafiek 3 is daar duidelike tendense. Dit maak nie saak of die variasie as gevolg van die trekker of as gevolg van ander faktore is nie – daar is duidelike verskille. Tog wil dit voorkom of alle make onder beskouing hier in jaar vier omtrent dieselfde persentasie se waarde verloor het.

Wat die groter trekkers betref, is die prysverandering van die 250 kW-trekkers vergelyk. In Grafiek 4 word die waardeverminde­ring teenoor die aankoopprys van 250 kW-trekkers getoon. Hier is baie geld ter sprake en dit is dus vir produsente belangrik om nie te veel deur waarde­vermindering te verloor nie.

In Grafiek 4 is dit duidelik dat een trekkermaak heelwat vin­niger as die ander sy waarde verloor. Tog het al die trekkermake die meeste van hul waarde teenoor hul aankoopprys verloor in jaar vyf. As dit dus die strategie is om die trekkers vinnig te vervang, is daar definitief make wat dalk hul waarde beter behou. As die strategie egter is om die trekker lank te hou, maak dit nie eintlik saak watter maak gekoop word nie.

As daar na die gemiddelde van alle trekkers en klasse gekyk word, kan die volgende afleidings gemaak word: Die verlies aan waarde kan in jaar een 37% wees; in jaar twee 47%; in jaar drie 56%; in jaar vier 66% en in jaar vyf 72%.

Dieselfde oefening is ook gedoen met Julie tot September 2018 se Agfacts-prysgidsinligting. In Tabel 1 word die resultate van die 2018-ondersoek getoon. Volgens hierdie inligting is daar ook duidelike verskille in die waardevermindering oor meer as een jaar.

As daar na die gemiddelde syfers na verloop van tyd gekyk word, kan die verlies in waarde soos volg wees: in jaar een ongeveer 42%; in jaar twee ongeveer 54%; in jaar drie ongeveer 56% en in jaar vier ongeveer 60%.

Dit is belangrik om te onthou dat alle trekkers met verloop van tyd hul waarde verloor, so ekstra voorsiening moet gemaak word om ou trekkers te vervang.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Graan SA-fotokompetisie – Chanéle Beneke, Oktober 2020