Bepaal die werklikheid en neem realistiese besluite

Gepubliseer: 8 Mei 2023

403
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Graanprodusente in die somersaaistreke het in die laaste paar produksiejare oor die algemeen besonder goeie reën ontvang. Hierdie reënval het veroorsaak dat die graanopbrengste uiters goed was.

Produksiepraktyke het ook die afgelope klompie jare ongekende verandering ondergaan met bemesting wat betekenisvol verhoog moes word om hierdie ongekende opbrengste te laat realiseer. Die klimaat het saamgewerk en die resultate van die Groei vir Goud-kompetisie bevestig dat produsente besonder goed gevaar het.

Die probleem is egter dat heelwat produsente hul gewasverbouing baseer op hierdie uiters goeie opbrengste en vergeet van die droë jare wat was en wat dalk weer kan kom. Om weg te beweeg van die realistiese langtermynopbrengste is ’n fatale fout – veral as die reënval begin skeefloop.

Risiko-ontleding
Hoë insetkoste het die risiko wat produsente moet neem drasties verhoog. As daar weer ’n droogte soos in die vroeë tagtigs kom, gaan daar vir seker ’n geween en gekners van tande wees. Die kans dat die staat weer sal instaan en produsente help, is weglaatbaar klein en baie produsente sal in so ’n droogtejaar hul grond moet prysgee.

Die belangrikste aspek wat tydens beplanning in aanmerking geneem moet word, is hoe sterk die produsent finansieel staan – dit bepaal hoeveel risiko hanteer kan word. Solvabiliteit, likiditeit en rentabiliteit is die maatstaf wat die finansiële stand bepaal. Om nie hierdie aspekte te ontleed en te verstaan nie, sal sonder twyfel tot moeilikheid aanleiding gee.

Solvabiliteit
Solvabiliteit gee ’n aanduiding van hoe solvent die besigheid is. Indien die boerdery
solvent is, sal daar altyd ’n kans wees dat die boerdery kan voortgaan. Gewoonlik word daar na die boerdery se skuldlas verwys as solvabiliteit ontleed word. Hierdie verhou­dings word hoofsaaklik met inligting uit die balansstaat opgestel. Maak dus seker dat dié staat volledig opgestel is.

Likiditeit
Likiditeit is ’n aanduiding van hoe maklik korttermynskuld met korttermynbates afgelos kan word. Gewoonlik is dit hier waar boerderye se probleme lê. Weens die koste van mediumtermynbates word dit gewoonlik op krediet aangekoop en na ’n swak jaar kan die paaiemente dalk ’n probleem wees.

Winsgewendheid
’n Verdere ontleding wat gemaak moet word, is om die toekomstige winsgewendheid of rentabiliteit van die besigheid te ondersoek. Hier gaan dit oor hoeveel wins in ’n normale jaar gemaak kan word.

Tabel 1 gee ’n aanduiding van wat die maksimum skuldlas van verskillende tipes boer­dery behoort te wees. Hierdie is egter net norme en dit moet altyd saam met rentabiliteit, likiditeit en terugbetaalvermoë gesien word.

Alhoewel hierdie inligting uiters belangrik is, moet produsente altyd onthou dat maksimum wins en maksimum opbrengs nie noodwendig hand aan hand loop nie. Die wet van meer opbrengs bepaal dat opbrengs aanvanklik vir elke ekstra insetgebruik tot op ’n punt sal toeneem. Daarna sal die opbrengs begin daal vir ekstra insette toegedien. (Dan word ’n swak reënvaljaar nog nie eers in berekening gebring nie!)

Opbrengsmikpunte
Reënval en reënvalverspreiding is die grootste bepaler van opbrengs. Reën op die regte tyd bring die tonne en goeie pryse bring die winste. In ’n produsent se beplanning is dit deurslaggewend dat die regte opbrengsmikpunte bepaal moet word. Dit is hier waar die plaas of die omgewing se reënval as basis van beplanning gebruik moet word.

Grondsoorte se verskillende eienskappe en die verwagte reënval moet die basis wees waarop die beplanning vir opbrengste moet berus. Die grond kan nie verander nie, maar wel die reënval – dit is hier waar ’n produsent inligting moet ontleed om sodoende die beplanning aan te pas.

Om net op gemiddeldes te werk, kan dikwels die verkeerde stra­tegie wees. Reënval moet ontleed word ten opsigte van die waarskynlikheid dat ’n sekere hoeveelheid reën sal voorkom. In statistiese ontleding word daar altyd na die modus, mediaan en gemiddeldes verwys. By reënvalontleding sal die modusreënvalsyfer die millimeter per jaar wees waarvan die waarskynlikheid die grootste is om elke jaar te realiseer. Die mediaanreënvalsyfer sal die millimeter per jaar wees waarvan die waarskynlikheid ten minste 50% per jaar sal wees om te realiseer. Die gemiddelde reënvalsyfer is die gemiddelde reënval wat oor tyd waargeneem word en dié kans om te realiseer is gewoonlik nog minder as die mediaanreënval. Hierdie verwagte reënvalsyfer sal vir seker die verwagte opbrengste beïnvloed. Die gemiddelde reënval se opbrengste sal die hoogste wees en soos die verwagte reënval verminder, sal die opbrengste ook afneem.

Vir produsente met ’n baie lae skuldlas sal dit sin maak om op die gemiddelde reënval van die plaas se verwagte opbrengste te werk. Vir produsente wat dalk van produksiekrediet gebruik maak, sal dit sin maak om op die mediaanreënval se opbrengste te beplan. Indien die produsent nie risiko’s wil neem nie, sal die modusreënvalopbrengs dalk die aangewese opbrengs vir beplanning wees.

In Grafiek 1 kan gesien word dat die modus se persentasie die hoogste is, gevolg deur die mediaan en laastens die gemiddelde reënval.

Grafiek 1: Reënvalverspreiding oor 20 jaar.

Om net te beplan gaan ’n produsent nie ver bring nie. Dit is van kardinale belang dat die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid opgeskerp moet word. Die regte aksies moet die eerste keer reg uitgevoer word. Hoe hoër die skuldlas, hoe meer aandag moet aan effektiwiteit en doeltreffendheid gegee word. Die toepassing van goeie boerderypraktyke is ononderhandelbaar. Sorg dat die gronde se pH-vlakke reg is en hou dit daar. Maak seker dat kunsmistoediening met die beplande opbrengste soos begroot korrespondeer. Dit help nie daar word beplan vir ’n 4 ton-opbrengs, maar kunsmis gegee vir ’n 10 ton-opbrengs nie.

Praat met kenners
Soms verval produsente in ’n groef en maak hulleself wys dinge is werklik soos wat hulle dit wil hê. Dit is uiters belangrik om ’n bietjie afstand van die besigheid te kry en daarom maak dit sin om iemand van buite te kry om te help met beplanning. ’n Onafhanklike buitestaander sal vinnig ’n fout of twee optel wat op die ou end heelwat geld kan spaar. Die meerderheid finansiële instellings en landboubesighede beskik oor vaardige adviseurs om produsente te help. Maak hierdie persoon deel van die besigheid en put uit hul ervaring. Hulle kom op baie plase en sien heelwat geleenthede, probleme asook oplossings. As buitestaanders kan hulle produsente help om die regte besluite te neem – sodoende sal die besigheid se langtermynvoortbestaan verseker word.

Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van verskeie finansie­rings­huise. In ’n volgende artikel sal daar meer aandag aan die be­stuur van ’n verwagte laer reënvaljaar gegee word.

Vir meer inligting kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.