Iets vir almal by vanjaar se Kersmark

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 26 Oktober 2021

1499

Graan SA het vanjaar met OFM as mediavennoot hande gevat vir die OFM NAMPO PARK Kersmark wat vanaf 24 tot 27 November op NAMPO Park buite Bothaville beplan word.

Volgens Toit Wessels, assistentbestuurder: Bemarking en NAMPO, het die NAMPO-administrasie besluit om die Kersmark vanjaar uit te brei en ook uitstallers van buiteleweprodukte, motors, toebehore, meubels asook produkte vir mans by die uitstallings in te sluit.

Oud en jonk sal heerlik kan eet by vanjaar se Kersmark, aangesien daar meer kosstalletjies gaan wees.

“Daar sal vanjaar meer kosstalletjies wees wat wegneemetes bedien sowel as enkele motor- en bakkie-uitstallings. Die manne en kinders kan dus ook saamkom,” het Toit gesê.

Boonop stal Hinterland produkte wat in hul handelstakke beskikbaar is, uit. Daar gaan voorlopig ook die Donderdag sowel as die Vrydag ’n damesprogram aangebied word.

“Alle COVID-regulasies sal streng toegepas word, met slegs een toegangshek waar koors gemeet sal word. Sanitering sal daar sowel as by al die saaldeure en orals op die terrein gedoen word – daar is ook slegs een uitgangshek. Die dra van maskers sal deurentyd verpligtend wees en die getal besoekers per saal sal streng beheer word volgens die toegelate vlakke. Sekuriteits- sowel as Graan Sapersoneel sal hierdie aksies ten alle tye monitor en dophou.

“Hierdie Kersmark beloof om items van goeie kwaliteit teen uiters bekostigbare pryse aan te bied – ons glo die lesers kan al hulle Kersfeesinkopies vir oud en jonk hier op een dag kom doen. Ons beoog vier dae van heerlike ontspanning en inkopies,” het Toit bygevoeg.

Die aanbied van die mark is onderhewig aan COVID-19-regulasies en -inperkings.