Maak koring in somersaai­gebiede nog sin?

Gepubliseer: 9 Julie 2021

76
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Droëlandkoring in die somersaaigebied word verbou op vog wat gedurende die somerreënval gestoor word. Tog het die koring ook ’n paar buie reën buite die normale tyd nodig om doeltreffende produksie te handhaaf.

Dit is belangrik dat die koring – veral in die westelike dele van die Vrystaat – net voor planttyd ’n lekker reënbuitjie kry. Nat grond is nodig vir effektiewe ont­kie­ming en om ’n behoorlike stand te verseker. Met die vorming van die sekondêre wortels is daar weer ’n bietjie vog nodig. As hierdie reën nie daar is nie, word die opbrengs dramaties verlaag.

Tydens die blom van die koring in die lente is reën weer baie welkom. Die droogte wat die afgelope paar jare in verskeie dele van die land voorgekom het, het laer opbrengste tot gevolg gehad wat weer tot groot finansiële verliese gelei het.

Die Oos-Vrystaat was in die verlede die somersaaigebied waar die meeste koring geproduseer is. Heelwat produsente is deur koring op hulle voete gehelp, maar die laaste paar jaar het die koringproduksie drasties gedaal en produsente het reuse­verliese met koringverbouing gely. Alhoewel koring dalk ’n bietjie later in die Oos-Vrystaat geplant word, is hierdie koring afhanklik van vroeë lentereën om ’n goeie oes te verseker. Dit wil voorkom of hierdie reën die afgelope klompie jare weggebly het.

Koring in beide die Oos- en die Wes-Vrystaat moet in reëntyd gestroop word. Indien dit in dié tyd reën, is dit besonder moeilik om graan van goeie kwaliteit te lewer. Graadprobleme is elke jaar aan die orde van die dag en produsente voel verontreg omdat hul koring laer gegradeer word.

Uit Grafiek 1 is dit duidelik wat aan die gebeur is. Indien ’n produsent een jaar nie koring geplant het nie, is dit uiters moeilik om weer koring winsgewend te verbou.

Grafiek 1: Droëlandkoringaanplantings in die Vrystaat vanaf 2008 tot 2020.

Gegewe die klimaatsprobleme, wil dit voorkom of daar ’n skuif in die graanvertakking se winsgewendheid te bespeur is. Die mielie-opbrengste het die laaste klompie jare dramaties verhoog, terwyl dieselfde nie van die koringvertakking gesê kan word nie. Dit bly maar opbrengs wat die winste verseker. Koste kan tot op die been gesny word, maar as die been seergemaak word, daal die opbrengs aansienlik.

Die laer winsgewendheid hou produsente onder druk. Om in die graanbedryf te oorleef, moet produsente fyn na die winste van die vertakkings kyk. Ongelukkig kan die koringvertakking nie sommer met mielies vergelyk word nie – die produksiestelsels moet met mekaar vergelyk word. Onthou dat een koringverbouing twee reënjare opneem. Die eerste jaar word gebruik om die koring te produseer en omdat die koring eers na planttyd gestroop word, sal die lande vir nog ’n jaar braak lê. Die gevolg van hierdie braaklande is dat die volgende gewas beter presteer – die opvolgende mielieoes kan tot ’n ton per hektaar beter produseer. Verder kan die verbouing van koring die beskikbare trekkers beter benut. Minder trekkers is nodig omdat hulle op verskillende tye gebruik word.

Tabel 1 toon die vergelyking van oorlê­mielies asook oorlêkoring se winsgewendheid in die Noordwes-Vrystaat.

Uit die tabel is dit duidelik dat die wins­gewendheid van die koring nie bygehou het by dié van mielies nie. Hierdie koringsyfers neem nie die risiko wat met die produksie geneem word, in ag nie.

Daar is tog wel voordele aan die verbouing van koring in die Noordwes-Vrystaat. Die opvolggewasse na koring vaar gewoonlik goed en positiewe opbrengste word verkry. Vir onkruidbeheer werk koring besonder doeltreffend en hierdie aspek moet nie onderskat word nie.

In die Oos-Vrystaat word nog heelwat koring verbou, maar selfs in hierdie area begin produsente wegbeweeg van koringverbouing. In Tabel 2 word die droëland­koring op oorlêlande met droëlandmielies op oorlêlande in die Oos-Vrystaat vergelyk.

Daar is ’n groot verskil in die winsge­wendheid van die twee vertakkings. Indien die risiko van koringverbouing bygetel word, is dit moontlik dat die verskil nog groter kan wees.

Gegewe hierdie winsgewendheidsont­leding is dit duidelik dat produsente onder druk verkeer om nie koring te plant nie.

Die enigste manier om die koringwins­gewendheid te verbeter, is om die inkomste per hektaar te vergroot. Dit wil sê die opbrengs per hektaar moet verhoog of die prys per ton moet verhoog. Die kans dat enigeen van die twee oor die kort termyn dramaties gaan styg, is ongelukkig skraal.

Produsente moet self besluit of koringproduksie nog ’n alternatief is al dan nie.

Stuur gerus ’n e-pos met vrae of kommentaar aan Pietman Botha by pietmanbotha@gmail.com.