Dis nie waarna jy kyk nie, maar wat jy sien …

Gepubliseer: 29 September 2022

646

Pieter Taljaard
HUB, Grain SA pieter@grainsa.co.za

C Louis Leipoldt sê juis Oktober is die mooiste, mooiste maand – met helder dae, groen aande en die bloue hemel daarbo. Jy kyk dalk na verskeie natuurtonele, ’n suksesvolle oes, die kom en gaan van hartsmense, maar wat sien jy? Sien jy steeds die Hand wat saakmaak, wat alles gemaak het? Die vooruitgang ten spyte van? Die kosbare familietye? Kyk jy nog diep genoeg om waarlik te kan sien?

Om die groter prent te sien, maar steeds die fynere besonderhede te waardeer, is omtrent ’n kuns – veral in die landbousektor. Die groter kuns is om verby die geraas en gemors te kan kyk, veral wanneer jy op daardie uitbreidings besluit of nuwe geleenthede wil aanpak. Die realiteit is die daadwerklike uitdagings; die stagflasiemonster wat die gevreesde koste­knyptang rondswaai, die ongunstige en aanvallende politieke klimaat en dan natuurlik die onbeheerbare klimaatsrisiko’s.

Dis dié realiteite wat ons noop om nouer saam te dink en saam te trek. Net soos vir ’n gedugte toutrekspan is krag belangrik, ja, maar tydig en in gelid is die enigste manier om die “bo-op mekaar in die sloot” te verhoed. Ons kan elkeen daagliks kies om dinge te maak werk of om gate daarin te skiet, maar ons hoofdoel moet wees om ’n impak te maak deur te kan beïnvloed.

Gelukkig is daar steeds die lekker, uitdagende dinge waaroor ons beheer het, soos om met elke nuwe oes meer effektief te probeer wees, die nuwe lesse en ondervinding toe te pas en te bly vernuwe. Ek het op­nuut besef dat daar steeds so baie is wat ons kan bereik toe ek anderdag hoor dat “gemiddeld twee derdes van toegediende stikstof in rygewasse nie deur die gewas self gebruik word nie”. Ons weet gewis dat die Suid-Afrikaanse produsent eintlik bo sy vermoë presteer onder die omstandighede – dis waarom ek in my hart glo daar is ’n blink toekoms vir die wat die vermoë aangeleer het om dit te kan raaksien.

Graan SA kon weer na twee lang COVID-winters fokus op die suksesse van sy graanprodusente. Behalwe vir NAMPO en NAMPO Kaap wat suksesvol plaasgevind het, kon die Dag van Feesviering weer op NAMPO Park aangebied word. ’n Ware skouspel van die suksesse van die landbou-ontwikkelingsprogram, het die vierings weer eens getoon dat die son groot genoeg is om oor almal te skyn! Om die vooruitgang, dankbaarheid en samewerking te sien, is die lonende aspek van die werk wat Graan SA en sy vennote vir die bevordering van ontwikkelende produsente – vir die land, vir die groter prentjie – doen.

Die Groei vir Goud-toekennings – net nog ’n geleentheid om sukses raak te sien – is ’n klinkklare bewys van produsente wat eerder op wat hulle het fokus as op wat hulle nie het nie. Die strewe na beter – na die optimale opbrengs – word raakgesien en dien as voorbeeld vir al die graanprodusente in ons land. Dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na die Graanprodusent van die Jaar-toekennings wat aan die einde van hierdie mooi maand gaan plaasvind. Ons wens al die finaliste sterkte toe! Ons sien wat julle insit in jul besighede; ons sien wat julle vermag het. Ons sien uit om weer as een groot graanfamilie bymekaar te kom om suksesse te vier en geluk te wens.

Kyk ek terug, sien ek inderdaad ’n vol, maar suksesvolle jaar. Dit was goed: baie nuwe dinge is geleer, baie nuwe mense gesien en ontmoet. Dankie vir wie julle is: die ysters, die staatmakers wat die land eintlik dra. Dankie vir die manier waarop julle ons ontvang, die manier waarop julle vrae vra en belangstel en soms met kommer – maar ook met moed – rigting help bepaal.

Ek sien met dankbaarheid en opgewondenheid uit na nog ’n geseënde jaar vir die pragtige land van ons. Kyk mooi, loop mooi en geniet die oes van die wintergrane. En maak seker jou beste poging is daar vir die nuwe someroes!