September 2017
Sakkie Koster, agronoom, Pioneer HiBred
Wisselbou het oor ‘n aantal jare getoon dat dit ‘n voordeel vir albei gewasse in die wisselboustelsel inhou en dit daarom ekonomies beter presteer as ‘n monokultuurstelsel. Gewoonlik is die gewas se wortelstelsel in ‘n wisselboustelsel betreklik skoner met minder vlekke op die wortels as in ‘n monokultuurstelsel. Veral waar oorlê in die stelsel teenwoordig is, is die opbrengste aansienlik beter as in ‘n monokultuurstelsel.
In proewe op die Wildebeesfontein Proefplaas is wisselbou en die effek daarvan op opbrengs al sedert die 1979/1980-seisoen ondersoek.
In Tabel 1 is dit ook opvallend dat daar groot variasie tussen seisoene kan wees. In sekere jare was die verskil besonder klein en in ander jare was die verskil weer groter. Uit die ondersoek het dit geblyk dat waar die land skoon gemaak is net nadat die gewas geoes is, die effek op opbrengs met die daaropvolgende gewas groter was.
Die vermoede het bestaan dat oorgedraagde vog ‘n kardinale rol in die wisselbou-effek speel en dit is opgevolg met nog ‘n proef waar daarop gefokus is om vog-oordrag te beheer. In Tabel 2 word die resultate aangedui en is dit duidelik dat hoe meer vog oorgedra word, des te groter was die daaropvolgende mielie-oes.
Ten spyte daarvan dat die grondtipe in die proef ‘n Hutton-vorm is, wat eintlik ‘n droë grondtipe is en nie regtig geskik is vir stoor van vog nie, het dit steeds verskille getoon. Met die braakland is daar gepoog om regdeur die seisoen vog op te gaar. Met die plant van koring vanaf Januarie en met die plant van droëbone vanaf April is vog opgegaar.
Uit die tabel blyk dit ook dat hoe meer vog oorgedra is, des te groter was die opbrengs. Dit is ook opvallend dat die verskille tussen die wisselboupraktyke in die 1989/1990-seisoen, wanneer bo-normale reën aangeteken is, glad nie betekenisvol was nie.
Hierdie proewe is verder opgevolg om te bepaal wat die effek van wisselbou op die opbrengs van droëbone sou wees in só ‘n geval. In Tabel 3 word die data weergegee.
Dit is opvallend dat die effek op opbrengs hoër was waar die persele gelaat is om meer vog te stoor, wat weer eens die vermoede bevestig dat oorgedraagde vog ‘n betreklik groter rol in wisselbou speel as wat die meeste produsente besef.
Hierdie proewe word ook ondersteun deur LNR-Kleingraan, soos deur mnr Pietman Botha gerapporteer in SA Graan/Grain van Mei 2013 en soos opgesom in Tabel 4.
Hieruit is dit nogeens duidelik dat die bruto marges gerealiseer in só ‘n wisselboustelsel, soos deur Botha uitgewys, hoër is as in ‘n monokultuurstelsel en dat daar ekonomiese voordeel daarin opgesluit lê.
Produsente moet in gedagte hou dat daar altyd in ‘n stelsel geproduseer word. Op die einde moet die koste en die wins per hektaar vir die hele plaas uitgedruk word. In die maak van só ‘n som moet nie net die bruto marge per hektaar bestudeer word nie, maar moet die vaste koste ook in aanmerking geneem word. Gewoonlik sal daar met minder masjinerie binne ‘n wisselboustelsel oor die weg gekom kan word.
Dit is bloot omdat die oes en plant, asook die bewerkingsvensters, deur wisselbou verleng word. Daarom kan daar redelik maklik met minder kilowatt en minder of kleiner stropers oor die weg gekom word.
Produsente in die Oos-Vrystaat wat lande laat braak lê vir koringverbouing se kilowatt per hektaar is aansienlik minder as dié van produsente in Mpumalanga, waar die plantvenster betreklik vroeg en uiters kort is.
Dit maak dus ekonomiese sin om ‘n wisselbouprogram te implementeer en in stand te hou.
Vir enige navrae kontak Sakkie Koster by 083 678 8485.
Publication: September 2017
Section: On farm level