Insetkoste – die waarde lê in grondchemie

Jaco Erasmus, Ph.D. Pr. Sci. Nat, SA Kalk en Gips

107

Die onlangse gesamentlike mediavrystelling deur Graan SA en FERTASA het ’n duidelike en belangrike boodskap aan die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap gerig: Insetkoste, veral kunsmis en brandstof, is onder druk en produsente moet waak teen ongeregverdigde kostestygings en opportunistiese gedrag in die mark. Daar is egter ’n dieper waarheid wat nie oor die hoof gesien moet word nie – die grootste finansiële verlies op ’n plaas lê nie noodwendig nét in die prys van insette nie, maar in die ondoeltreffende benutting daarvan.

Grondgesondheid begin by pH en katioonbalans
Die grond se vermoë om stikstof (N), fosfor (P) en kalium (K) effektief vir benutting deur plante beskikbaar te stel, word in die eerste plek bepaal deur optimale grond-pH en ’n gebalanseerde katioonuitruilkompleks (KUK). In die geval van grondversuring word aluminium toksies, essensiële katione word uit die wortelsone geloog, fosfaat word vasgelê en mikrobiese aktiwiteit word onderdruk. Wanneer kalsium (Ca²⁺) vanaf die KUK verlore gaan en deur waterstof- en aluminiumione vervang word, verswak aggregasie. Dit lei tot strukturele ineenstorting en dus verminderde porositeit, grondverdigting en swak waterinfiltrasie. Die resultaat is finansieel rampspoedig: ’n groot deel van die produsent se duur kunsmis word eenvoudig nie benut nie. In ’n tyd waar insetkoste tot 50% van produksiekoste kan uitmaak, is dit nie meer bekostigbaar om hierdie verliese te ignoreer nie.

Die fout wat produsente soms maak
Ten spyte van die realiteit hierbo genoem, word bekalking dikwels steeds uitgestel of bekalkingsdigtheid word deur die gelewerde prys per ton gedikteer. Dit is juis hier waar die gevaar lê; nie alle bekalkingsprodukte is ewe effektief nie. Die werklike waarde van ’n produk word bepaal deur reaktiwiteit (fynheid), chemiese kapasiteit (KKE), kinetika (reaksiespoed), mobiliteit (dieptewerking) en uiteindelik die balans van Ca-, Mg- en S-voedingswaarde wat gelewer word.

Van prys per ton tot waarde per hektaar
Om hierdie beginsel te illustreer, word drie produkte in Tabel 1 hieronder vergelyk vir aflewering op ’n fiktiewe plaas in die Noordwes-provinsie:

Data wat tref waar dit saak maak
Op die oog af lyk Dolomiet B uiters mededingend teen R640/ton. Wanneer die werklike chemiese effektiwiteit egter in ag geneem word, moet 53% meer produk toegedien word vergeleke met SA Kalk en Gips se Ottoshoop Dolomiet en word daar boonop geen bykomende voedingswaarde gebied nie. Dit illustreer presies die tipe markgedrag waarteen Graan SA in hul mediaverklaring gedateer 25 Maart 2026 waarsku.

’n Wetenskaplike benadering tot bekalking
Die oplossing is nie méér kalk nie — dit is béter kalk! By SA Kalk en Gips word bekalkingsprodukte nie bloot ontgin en verkoop nie. Dit word ontwerp, getoets en deurlopend geoptimeer met een doel voor oë, naamlik om grondchemie sistematies te herstel en om plantvoedingskapasiteit te maksimeer. Die strategie is eenvoudig, dog kragtig:

  1. Identifiseer die aktiewe chemiese komponente
  2. Kwantifiseer elk se konsentrasies en funksies
  3. Bepaal elk se ekonomiese waarde per hektaar
  4. Integreer dit met logistieke koste soos gelewer op die plaas

Die resultaat is ’n deursigtige en wetenskaplik verdedigbare waardeproposisie.

’n Nuwe kalkparadigma en produkte wat daarmee in ooreenstemming is
Die era van “Wat kos bekalking per ton?” is vir goed verby. Die vraag wat elke produsent eerder behoort te vra is: “Wat kos dit my per hektaar om my grondchemie werklik reg te stel?” SA Kalk en Gips se Ottoshoop Dolotop 80/20 PLUS is ’n puik voorbeeld van ’n goed nagevorste en effektiewe bekalkingsbron. Die produk kombineer hoë reaktiwiteit met sulfaatgedrewe mobiliteit om nie net bogrondsuurheid nie maar ook ondergrondsuurheid effektief aan te pak. Dit lewer kalsium en magnesium diep in die grondprofiel, neutraliseer aluminium en ontsluit wortelontwikkeling waar dit die meeste saak maak. Wanneer die addisionele waarde van die sulfaatkomponent van hierdie uitnemende produk teen R244/ha afgetrek word van die werklike koste, is dit die mees koste-effektiewe dolomitiese voorskrifmengsel teen die laagste insetkoste van slegs R720/ha, soos in Tabel 1 uiteengesit.

In ’n omgewing waar insetkoste onder druk is en marges krimp, is dit juis die fundamentele beginsels van grondchemie wat die grootste geleentheid bied om winsgewendheid te beskerm. Bekalking is nie ’n koste nie. Dit is die sleutel tot die ontsluiting van elke rand wat aan kunsmis bestee word. Moenie dat prys jou mislei nie. Bestuur jou grond soos ’n stelsel: oor tyd, oor die grondprofiel en oor die katioonbalans!