Totsiens, maar nie vaarwel

Johan Smit, besturende redakteur: SA Graan/Grain, foto’s: Lizelle Snyman
Gepubliseer: 28 Julie 2023

350

‘n Yskoue Vrystaatse wintersaand is omtower in ’n gesellige hoofbestuursfunksie op NAMPO Park. Dié jaarlikse geleentheid se doel is om erkenning te gee en om behoorlik afskeid te neem van Graan SA-lede wat voorheen in die organisasie se bestuur gedien het.

Dié geleentheid het al ’n instelling geraak tydens die hoofbe­stuursvergadering van Junie op NAMPO Park en op 20 Junie vanjaar was dit weer sulke tyd. Na ’n vol dag van vergadering hou en beraadslaging was hierdie familietyd vir die leierskap en personeel wat deur die jaar die saak van die graanprodusent verteenwoordig en uitdra.

Dr Pieter Taljaard het in sy verwelkoming verwys na Graan SA se kerndoelwit om waarde te lewer aan lede sodat hulle winsgewend en volhoubaar kan bly produseer. “Die tempo van verandering was nog nooit so vinnig soos tans nie, maar dit sal ook nooit so stadig soos nou wees nie. Graan SA gaan die toekoms en tegnologie moet omarm, want as ons dinge vir die regte rede doen, gaan daar ander voordele kom. Die tegnologie wat die afgelope twee jaar in plek geval het, is ongelooflik en ons wil dit aanwend om ons unieke vennootskappe in die waardeketting tot voordeel van ons lede te benut,” het hy gesê.

Graan SA se bestuurspan gee jaarliks erkenning aan ’n hoofbestuurslid vir uitnemendheid en toewyding en dié trofee het vanjaar die voorsitter, Derek Mathews, te beurt geval. “Ek ontvang hierdie toekenning in nederigheid en ek sien dit as ’n geweldige eer. Hierdie organisasie – waarvan my pa ’n stigterslid was – was vir my nog altyd ’n uitsonderlike een,” het hy gesê.

Die rede hoekom hy by die organisasie betrokke geraak het, is dieselfde gevoel van trots en patrio­tisme wat hy ervaar het toe hy as jong man in 1985 in die VSA op plase gaan werk het. Dit is wat hy steeds in Graan SA ervaar. Derek het ook sy vrou, Karin, bedank vir haar ondersteuning.

Hierdie geleentheid is moontlik gemaak deur Bayer. “Ons gesamentlike passie vir landbou is wat Bayer en Graan SA se verhouding spesiaal maak. Saad, gewasbe­skerming en digitale oplossings is belangrik, maar selfs belangriker as dit is die gesamentlike oplossings vir landbou as ’n groeiende bedryf,” het Johan Bibbey, verkoopsbestuurder van Bayer se sentrale streek, gesê.

Derek Mathews (links) is deur die bestuurspan aangewys as die afgelope jaar se Uitnemende Hoofbestuurslid. Hier is hy saam met sy vrou, Karin, en dr Pieter Taljaard.
Afskeid is geneem van Ramodisa Monaisa, uitgetrede visevoorsitter. “Ek is trots om deel van Graan SA te wees, want dit is ’n organisasie wat mense verenig. Mag Graan SA voortgaan om alle produsente byeen te bring sodat die regering uiteindelik kan sê: ’Ons help net boere – nie swart of wit boere nie.’”
Niël Rossouw, wat by Kongres as Streek 6 se hoofbestuurslid uitgetree het, het gesê: “Hier sit ’n familie; mense op wie jy kan staatmaak – elkeen ’n nuwe vriend vir wie ek die hoogste agting en respek het.” Hy sê hy dink nie mense buite besef wat Graan SA vir elke produsent in hierdie land beteken nie.
Die groep Marcato het vir heerlike vermaak gesorg.
Personeel wat langdienstoekennings ontvang het, was (van links): Rialeen Lombard (15 jaar), dr Miekie Human (5 jaar), Liana Stroebel (10 jaar) en Luke Collier (5 jaar).
Jeremia Mathebula, Ramodisa Monaisa, dr Pieter Taljaard, Ramoso Pholo (Streek 28), Patrick Stuurman (addisionele hoofbestuurslid), Thomas Sibiya (Streek 29) en dr Sandile Ngcamphalala.
Van die jonger manne aan die gesels. Van links: Gert Pretorius (Streek 1), Werner Vos (Graan SA-bemarker), MJ Swart (Graan SA-bemarker, Wes-Kaap), Andries Groesbeek (Streek 9) en Will Grobler (Streek 5).