Bewaringsboerdery: sleutel tot besparing en wins

Jan Greyling, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 4 Oktober 2021

114
DF Fyfer van Bhetjane Cattle Company by Louwna, digby Vryburg in Noordwes.
Foto: Verskaf

Die slotsom van Landbouweekblad se Herlewingslandbou-webinaar 2021 wat op 27 en 28 Julie plaasgevind het, is dat herlewingslandbou oor meer as net ’n nala­tenskap gaan omdat bewaring reeds terwyl dit toegepas word besparing meebring. Vanjaar se tema was “Die koste van herlewingslandbou”.

Toenemende belangstelling en sukses met herlewingslandbou is deur dr Hendrik Smith van Asset Research bevestig. “Tans doen 25% van Suid-Afrikaanse produsente dit voluit en neem nog ’n verdere 60% op die een of ander manier deel aan bewaringslandbou. Die Wes-Kaap loop voor met aanpassing, gevolg deur Noordwes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Die ideaal waarna ons streef is herlewingslandbou met lae insette en hoë uitsette,” sê dr Smith.

Herstruktureer skuld
Die omgewings- en hulpbronekonoom, prof James Blignaut, glo die vergelyking van die insetkoste van beide konvensionele en herle­wingslandbou en die effek van die onderskeie insetkoste se impak op die netto wins per hektaar is belangrik.

“Onthou produsentepryse het oor die afgelope 35 jaar met 7% toegeneem, maar die waarde van produksie was in die tydperk 8,2% meer, wat ’n netto groei van 1,2% beteken. Insetkoste het egter gemiddeld met 9% per jaar toegeneem oor die 35 jaar. Dus het werklike uitgawes toegeneem, maar so ook die werklike uitsette. In wese is 0,9% meer per jaar oor 35 jaar bestee om dieselfde relatiewe uitset te kry.”

Prof Blignaut sê produsente moet hul boerderyskuld herstruktureer deur koste te verminder en inkomste te verhoog. “Besparings as gevolg van bewaringsboerdery kan hiermee help. Vernuwing van praktyke en die vermeerdering van die aantal inkomstegenererende strome per hektaar is van die maniere om stygende insetkoste teen te werk.”

Hy sê dit word duidelik dat CA/RA (conservation agriculture/regenarative agriculture) nie net ’n internasionale gonswoord is nie.

Almal het ’n nalatenskap
By Carolina in Mpumalanga het Hannes Botha alle tandimplemente uit sy grondbewerkingsarsenaal gehaal. Hy integreer groot- en kleinvee met sojaboon-, mielie- en aartappelverbouing en glo dat ultra­hoëdrukbeweiding (UHDB) en dekgewasse ’n wenkombinasie is. Hannes skort weigange af met fleksiehekke en bewei elke drie ure 800 m² – sowat 16 m² per bees per dag.

Die nadelige impak van konvensionele insette het hom by ’n keerpunt gebring. Deur selfstudie en aanlyn kursusse, aangebied deur Allan Savory en dr Elaine Ingham, het hy in 2019 suksesvol omgeskakel na aanpasbare UHDB. Voorheen het sy beeste konvensioneel 2,5 t/ha se biomassa bewei – met UHDB is dit nou 5 t/ha.

Hannes kon binne net twee seisoene kunsmisbemesting vervang met selfvervaardigde kompostee (Johnson-Su-bioreaktor), dekgewasse en die vee se bydrae tot bemesting. “Deur dit wat ek op die plaas het doeltreffend te gebruik, kon ek ’n volle tweede oes afhaal – met die koste van een oes.”

“Met tussenrydekgewasse – sonder byvoeding – is my mieliewins op 6,3 t/ha tot R16 000/ha verhoog, teenoor my buurman se R12 300/ha met ’n konvensionele 7,5 t/ha-oes. Hannes gebruik glad nie meer swamdoders nie en hy het ’n 70%-besparing op onkruidbeheer. “Ek is opgewonde oor meer na­tuurlike stikstof vir die mielies en oor biologiese insek- en siektebeheerbesparings.”

Nuutste tegnologie betaal
Vir Danie Bester van Rietbult by Balfour in Mpumalanga is die werklikheid van tegnologie in herlewingslandbou kwantifiseerbaar.

Pa Dawie en Danie boer met kommersiële vleisbeeste, soja­bone, mielies en sonneblom. In die eerste drie jaar met dekgewasmengsels het hul sojaboonoes vanaf 3,716 t/ha met presisieboerdery, gegroei na 4,581 t/ha met herlewingslandbou en tegnologie saam. “En dit nogal terwyl ek my eie kunsmis verniet groei.

“Sodra ons nie oor- of onderbemes nie, word wanbalanse uitgeskakel. Ons skok nie die grond nie en die mikrobes funksioneer na­tuurlik. As jou grond lewe, word 2 t/ha 3 ton en 12 t/ha word 15 ton.”

Altyd plantwortels in die grond
Loran Steinlage is ’n Amerikaanse ingenieur en produsent. As die eienaar en bestuurder van die FLOLO-plase, naby West Union in Iowa, pas hy sy praktyke en toerusting deurentyd by spesifieke toestande aan. ‘Getting the right tools right’ is sy leuse.

Tans ontwikkel hulle ’n aflos-geenbewerkingstelsel deur ’n nuwe gewas te plant waar ’n vorige gewas nog nie geoes is nie. “So is daar altyd lewende plantwortels in die grond. Dit help om vog te behou en onkruid te bestuur.

“Omdat ons ook ouers en grootouers is, boer ek en my vrou in harmonie met die natuur. Ek was ’n mielies-op-mielies-man, maar toe word tussenrysaaiery my inspirasie. Die resultate wys ons sukses en nou verstaan ons die waarde van metgeselgewasse (companions) en van voedingsdigtheid van biomassa deur ons dekgewasse.”

Loran is trots op hul vordering met waardetoegevoegde organiese mielies en gekleurde mielies vir die broubedryf (beide teen premiepryse) asook die ontwikkeling van oopbestuifde kultivars en die verbouing van mielies sonder stikstof.

In sy kinderskoene
Weidingsadviseur Frits van Oudtshoorn se werk op Danie Slabbert se plaas, Van Rooyenswoning naby Reitz, het tydens die webinaar die tafel gedek vir die rol van UHDB in die koste van herlewingslandbou.

Hulle het 5 000 grootvee-eenhede (GVE) per uur, oftewel 0,6 ha/GVE/jaar, volgens die drakragnorme van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, vergelyk met kontrolekampe op die buurplaas, Dealdata. Gras­spesiesamestelling (deurlopend) en grasbiomassaproduksie (2021) is gemeet. Die veldtoestand is deur ’n toenemerfaktor bereken, wat veranderings in grassoorte op vergelykbare oppervlaktes meet. Veldtoestandtellings wat drakrag, grasspesieverskeidenheid en die hoeveelheid spesies per meting insluit, is toegeken. Met ’n duidelike toename in nuttige grasspesies en verhoogde biomassa word die waardevolle bydrae van UHDB tot herlewingslandbou en die behoefte aan verdere studie bevestig, sê Frits.

Die natuur bly altyd reg
Dr Gerhard du Preez sê kostedruk kan deur hoër produsentepryse, verhoogde uitsetvolumes, groter produksiegebiede, kostebespa­rings, veelvuldige inkomstebronne of beleggings in natuurlike kapitaal bestuur word.

Hy het ’n PhD in omgewingswetenskappe behaal en werk as ’n senior lektor in landbouwetenskappe by sy alma mater, die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom-kampus). Dr Du Preez is veral passievol oor grondorganismes en die werking van agro-ekosisteme.

Sy studie is gedoen om die herstelimpak van herlewingslandbou op grondgesondheid te meet. Dr Du Preez het die Vrede-studie wat in September 2019 gedoen is, toegelig. Die voorkoms van nematodes en ander biologiese aanwysers is as maatstaf gebruik.

Op drie bewaringslande met konvensioneel bewerkte grond en natuurlike veld as kontrole het die studie gewys dat grondgesondheid weens fisiese en chemiese ontwrigting verswak. “Ons moet meer volhoubare landboustelsels gebruik, wat die natuur en produsente sal bevoordeel. Baie produsente is op koers na volhoubare produksie en ons moet by hulle leer. Onthou, die natuur is altyd reg. So, waarom sal ons in stryd daarmee boer?” sê hy.

Dink groter
In Noordwes, digby Louwna in die Vryburg-omgewing, is DF Fyfer se passie vir sy gesin se toekoms die rede waarom hy UHDB as teenvoeter vir toenemende ekonomiese druk gebruik. Bhetjane Cattle Company boer met die doelgeteelde Adaptor™-vleisbeesras en bly in harmonie met die natuur deur wat DF “stapelvertakkings” noem.

Hul stapelvertakkings behels twee mobiele hoendereenhede – een met lêhenne en ’n ander vir slaghoenders – wat daagliks op wiele agter die vee se weigange aanskuif, asook ’n heuningboerdery. Die hoenderbemesting, wat inkomste oplewer, bespaar op bemestingskoste vir die beesweiding. Die Adaptor is geteel uit ’n kwart elk van die Beefmaster-, Boran-, Nguni- en Mashona-rasse.

“Ons grootste uitdaging is die beeste se liggaamskondisietelling (LKT). Ons oplossings lê in rumen-supplementering, kalftydverskuiwing, bestuursveranderinge en genetika.”

Die supplementering behels onder meer seewier wat meer as 53 mikro-elemente bevat. Kalftyd is aangeskuif na Desember toe om die koei se grootste voedingsbehoefte as gevolg van laktasie te laat ooreenstem met die natuur se beste voedingsbeskikbaarheid in die vorm van groen gras. Die ander voordeel is dat kalwers kontraseisoenaal bemark word deur hulle terug te hou na speen en eers ses maande later te begin bemark.

Akkurate UHDB verseker die optimale benutting van die maksimum biomassa wat geproduseer word. “Ons produseer ’n kommo­diteit, maar bemark ’n handelsmerk deur langer in beheer van die produk te bly en waarde toe te voeg,” voeg hy by.