Ontmoet Andries van der Poll – met vertroue in die hoofstroom

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

561
Jan Greyling,
SA Graan/Grain
medewerker

2019 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar.

Hy is skerp en hy boer skerp. Hy het ’n hart vir kosproduksie. Ook om ’n werkgewer en opleier vir mense te wees om brood en botter vir hul huisgesinne te verdien. Andries van der Poll (47) is gefokus.

Dit sien ’n mens sommer toe hy – nie te vroeg of te laat nie, maar met presisie – die GPS-punt na sy voordeur by Leeuwendrift deurstuur.

Daar is duidelik nie ’n “ek” in Andries se woordeskat nie. “Dit gaan oor ons. Ons verantwoordelikheid teenoor ons mense, ons gemeenskap en die natuur waarin ek, as ’n boer wat ’n klomp beroepe in een beoefen, saam met my vrou en kinders namens die volgende geslag boer,” sê Andries.

Hy sê die Springbokke het voor die Rugbywêreldbeker gesukkel om borge te kry, maar na hul oorwinning staan almal in die ry om aan die wenspan gekoppel te wees. “Dit is ook wat dit vir ons hier op Leeuwendrift beteken om die 2019 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar te wees. Ons en ons boerdery word herken en ons vat graag hande met die besighede en mense wat die pad wil saamstap. Selfs ons kinders word dan as plaaskinders waardeer.”

Droom en dink
Andries is ’n dromer, maar ook ’n denker. Hy troetel gedagtes vir maande lank en het hy die geld gehad, sou sy plaas ’n tegnologiemekka word. Dié boer sien ’n beeld van ’n hommeltuig wat die graanlande deurkruis of vrugtevlieë op die toekomstige sitrusboorde spuit. Andries wil alles van sy selfoon af kan bestuur. Hy droom daarvan om 140%-speenpersentasie-ooie en kwaliteitlammers van bo 45 kg te hê en van tegnologiese voerkrale, waar skape en bokke markgereed gemaak word.

Andries is dankbaar vir die erkenning aan sy Leeuwendrift Boerdery-span.

Net mooi 16 km vanaf Riebeek-Wes, 15 km uit Gouda en 31 km van Moorreesburg, boer Andries. Hier is hy saam met hul oudste seun, Jacqeuon (22) en die span gereed om meer te wys van hul graan- en veeboerdery. Jacqeuon hoop om vanjaar by Elsenburg aanvaar te word. Andries het voorgestel dat hy gaan leer en selfs ’n bietjie in die buiteland werk voordat hy permanent plaas toe kom, sou hy wou.

Andries het in 1994 vir Jackie ontmoet en in 2001 het hulle die knoop deurgehak. Sy het aan die Weskus Kollege studeer en na ondervinding opgedoen by onder meer Goedehoop Sitrusplaas en Cederberg Munisipaliteit, is sy nou kantoorbestuurder op hul plaas. Hul dogter, Adhelle (17), is passievol oor die natuur. Sy sal moontlik in 2021 veeartsenykunde of landbou-ekonomie aanpak. In hul jongste, Joshua (13), se hart klop die landboubloed ook warm. Hy is vanjaar hoërskool toe om sy landbou- en rugbypad by Hoërskool Oakdale op Riversdal af te skop.

Graan is die anker
Op Leeuwendrift, ’n 450 ha-plaas wat van die geskiedkundige Schoenmakersfontein afgesny is, maak graan 55% van die inkomste uit.

Andries en hul oudste seun, Jacqeuon, saam met werkne­mers Niklas Swarts, Donovan Fortuin en Edwin Gordon.

Laasjaar was ’n moeilike jaar. Andries plant met ’n skottelplanter waarvoor nat grond nodig is. “Ons moes wag vir ’n tandplanter wat ek bygehuur het, terwyl die verhuurder self klaar plant. In hierdie streek behoort ons teen 10 Mei klaar geplant te wees, maar ons kon eers die 23ste, ná die laat reën in Mei, begin.”

Die kampe wat op die 23ste geplant is, het 2,8 t/ha en 2,4 t/ha gelewer. Die wat ’n week later geplant is, was tussen 1,6 t/ha en 1,9 t/ha. Gemiddeld is 1,98 t/ha geoes. Op een B3-vrag ná, wat by Overberg Agri se Leliedam Silo te Moorreesburg gelewer is, was die koring van supergehalte.

Hy glo dat hulle met beter grondgesondheid mettertyd opbrengste sal verhoog. “Dit is hartseer om te sien hoe mense boer asof niemand na hulle kom nie. Ek glo aan wisselbou, dekgewasse en herlewing. Dit is waarom ons vanjaar in sommige kampe geen breëblaaronkruiddoder nodig gehad nie. Ons kon, vir dieselfde opbrengs, met 40 kg/ha stikstof klaarkom teenoor 80 kg/ha tot 84 kg/ha. Saam met medics as peulgewas, gaan ons multispesiedekgewasse met voerwaarde begin plant,” sê Andries.

Histories was die gemiddelde reënval 420 mm per jaar. In 2017/2018 was dit 179 mm en in 2019 260 mm. Die beste wat Andries hier beleef het, was 386 mm. Weens rivierlope, klipperigheid en strukture op die plaas word sowat 25 ha nie bewerk nie. Tans beslaan die saaiery 270 ha. Met 42 ha se waterregte uit die Bergrivier, is 10 ha onder lusern. Daar is planne om in 2020 sowat 30 ha se besproeiingskoring te plant. Hiervoor soek Andries vennote om die regte kultivars te bepaal. Die res is droëland.

Vanjaar kon daar meer voer vir die rooi Angusse en Döhne-merino’s op Klipdrift gebaal word. Andries (regs) en Jacqeuon bekyk die kwaliteit van nader.

Met 420 groot ooie en net meer as 500 Döhne-merino’s altesaam, gaan lammers na 100 dae op minstens 41 kg direk van die ooi af veiling toe – of voerkamp toe indien die teikengewig nie gehaal is nie.

Vanjaar is 20 lammers deur rooikatte doodgebyt. Wanneer sy skaapbestuur die 140%-speenpersentasie haal, wil Andries met teelramme begin. Tans gebruik hy ramme van Izak Smith en Wynand du Toit van Suiderland Döhnes.

Leeuwendrift het sowat 30 rooi Angusse en die enkele bul word vanjaar met ’n tweede aangevul. Die afgelope drie jaar het hulle deurentyd ’n 100%-speenpersentasie behaal.

Tot hier toe
Andries is gebore op ’n wingerdplaas by Vredendal en het grootgeword op kommunale grond by Molsvlei. Hy het ’n landbou­diploma aan Kromme Rhee verwerf en ken die verskil tussen natuurboerdery en plase wat weens nalatigheid agteruitgaan.

Hy was byna 19 jaar lank plaasbestuurder vir Hexrivier Sitrus, ’n kommersiële plaas by Citrusdal. Toe hy nege was, het pa Japie hom leer bakkie ry. Op 14 het hy die eerste keer die “rooi paraffien-Massey Ferguson-trekker met die blou rokie” self bestuur.

Op die Bergrivier se oewer boer Joshua, Jackie, Andries, Adhelle en Jacqeuon van der Poll.

Met heimwee onthou Andries prentjies van sekelsny, gerwe aanry, voersakke toewerk en met die ou Corona-bakkie na die Bitterfontein-stasie aanry. “Daai voorwiele het net-net grond geraak.” Hy dink aan die melkery, aan gemsbokke, rosyntjies wat op drade hang, korente, hanepoot en uie wat hulle opgetrek het. “Ek onthou tamaties, die houtwolpars en die rooi hoenderhaan wat my ‘antie’ gejaag het.”

“My antie het vertel dat oupa Giel van Pela af Molsvlei toe getrek het. Oupa het soos ’n regte boer gelyk. Sterk met groot voete. Hulle was gerespekteerde mense. Pa Japie is in 2008 oorlede. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy was lank … altyd bekommerd dat hy nie in sy kis sou inpas nie,” lag Andries.

Tans boer sy een broer by Vredendal. “My ander broers droom ook van boer. Een van hulle werk vir die staat en my oom Andries was tot aftrede toe ’n landbouvoorligter.”

In 1975 het Andries se ouers Molsvlei toe getrek. “Daar waar die trein omdraai by Bitterfontein digby Garies. My oupa het gesê pa moet die boerdery oorvat. Dis waar die basterboerbokke en skaap, wat ons Duitse merino’s genoem het, posgevat het. Ons het die bokke voor skool uitgehaal en saans in die krale gesit – en lammers vasgehou. Saterdae moes ons skaap werk om betyds klaar te wees vir die dag se sokkergame.”

Besluit en doen dit
Andries se hartewens is om die term “opkomend” voor die woord “boer” vir goed te verwyder. “Dis al manier waarop kosprodusente as ’n eenheid vorentoe kan beweeg sonder etikette om ons nekke. Ons blokkeer onsself. Wat beteken opkomend regtig? Aanvaar my groot liefde vir boerdery en noem my ’n boer, wat suksesvol kommersieel boer.”

Hy is dankbaar vir Graan SA se rol. “Droogte onderskei nie tussen plase, boere of agtergrond nie. Ons het mekaar nodig en is gelyk voor die natuur. Dan moet ons gelyk hanteer word. Miskien kan Graan SA iets soos ’n gemeenskapsontwikkelingsfokus oorweeg om lewensgehalte in landbougemeenskappe te verbeter. Ons mis die gemeenskapsontwikkelingsverenigings se werk.”

Leeuwendrift het vyf voltydse plaaswerkers. Nog twee vrouens is deel van die span. In Maart en September gebruik hulle of ’n sewe- of ’n elfspan vir skeer. Tydens planttyd, vir bale wegry en met die instandhouding van geboue, is daar tydelike werk.

Hy sê: “As ek nie kan leef met die minimumloon nie, kan my mense ook nie.” Daar word gespaar op kontrakteurs en hulle verdien dus bykomend op die plaas vir nisvaardighede soos sweiswerk, ysters sny en hooibale maak. Tans bly drie werknemers op die plaas en hulle restoureer nog twee huise. Huur, elektrisiteit en water is ingesluit.

Saam droom is groot droom
Hy vertel: “Ek en Jackie het in Desember 2011 op ’n warm somer-Saterdag hier begin droom. Ons het die aansoek vir die grond as ’n geheim gehou, maar die kinders saamgebring. Ons droom van ’n landgoed en glo die plaas gaan van die mooiste in die vallei word. Dit kos geld en tyd, maar daai prentjie bly.”

In 2010 het die Departement van Grondsake die plaas gekoop. Na ’n aanvanklike vyfjaarkontrak het Andries-hulle egter sedert 2017 ’n aangepaste 30-jaarhuurkontrak, met die opsie om te koop of om teen 2047 ’n verdere 20-jaarhuurooreenkoms aan te gaan. “So ek hoop om te kan koop, maar ook om 100 jaar oud te word,” skerts Andries.

Vir sy graanvisie is Leeuwendrift te klein. Die plaas is in drie verdeel. Jaarliks poog Andries om 80 ha tot 100 ha koringsaad op een deel te plant; 80 ha tot 100 ha medics op ’n ander en 80 ha tot 100 ha weidingsaad op die derde deel. SST0166 lewer die beste koringopbrengste, met SST127 wat ook goed doen en SST056, wat vanjaar minder goed gevaar het.

Vir Andries is John Deere lank reeds deel van die familie, soos dié 9500-stroper wys.

15 tot 20 hektaar word vir stamboordervrye Roundup Ready-voermielies, lupiene, korog en hawer ingespan. Hulle stroop gemiddeld 1,2 t/ha lupiene en lewer in normale jare, per hektaar, sowat 250 bale hawer en sowat 170 bale korog.

Hy wil met die regte implemente tydig begin plant en in die goeie jare die 2018-gemiddeld van 3,1 t/ha koring verhoog na ’n gemiddeld van minstens 4 t/ha. “In die droë jare maak my skottelplanter dit nie. Ons moet aanpas en ook ’n tandplanter aanskaf, al gebruik dié baie meer diesel as die skottelplanter.”

Tans is hulle besig om ook op groot skaal byekiste in te bring. Uiteindelik mik hy na 800 tot 1 500 kiste om die inkomste per huishouding op die plaas te verhoog. “Só sal ons die maatskaplike uitdagings met alkoholmisbruik omswaai in ’n kultuur van verantwoordelike verdienste en gebruik van geld. Ons het as nuwelinge die geleentheid hiervoor.”

Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar
Leeuwendrift is deur Liana Stroebel van Graan SA benoem vir die toekenning. Andries het die vraelyste en kriteria as baie goed ervaar. Die beoordelaars se plaasbesoek, waarnemings en vrae het hom baie diep laat dink oor sy boerdery, sy oortuigings en boerderybesluite. “Hiervoor het ek waardering. Dit het my boerdery getoets asook my kennis van ons boerdery se teorie, praktyk en potensiaal. Die toekenningsproses is op die regte vlak en moet nie makliker wees nie – so kan ons werklik as volwaardige boere gemeet word,” sê Andries.

As erkenning het Leeuwendrift by Absa ’n kontantbedrag ontvang, aangevul deur saad en onkruiddoder van Bayer en ’n 5075E MFWD-trekker met ’n kappie op van John Deere. Andries is dankbaar vir hul lidmaatskap van Graan SA, wat aan hulle die geleentheid gee om deel te neem. “Ek wou nie ’n kompetisie wen nie, maar ons boerdery meet teenoor ander en nie op ’n ‘eilandjie’ voortgaan en my eie ding doen nie.”

Volgens Andries help die toekenning hul plaaspersoneel om ’n kultuur van netheid, verantwoordelikheid en respek te skep. “Ons deel dit tydens ons Maandag-sessies – waar daar oor werk en verwagtinge gesels word – met hulle dat ons, as kosprodusente, deel is van die belangrikste groep mense in die land. Daar is geen twyfel dat ’n keuse tussen ’n belegging in SAL en in die landbou net een antwoord het nie! Met dié beeld verstaan ons as boere en ons werknemers dit die beste.”

Hy en Jackie het beide die provinsiale en nasionale toekenningsgeleenthede as baie goed georganiseerd en stylvol beleef. Om meer kommersiële – en niekommersiële – boere bloot te stel, meen hy die eerste ronde se evaluasie kan per streek in elke provinsie gedoen word. “So kan meer dalk geleentheid kry om die beste praktyke te sien.”

Bulte om te oorkom
Andries beskou droogte en finansiering as sy grootste struikelblokke. Hy moes die afgelope jaar eers koring oes voordat hy geld kon insit in voermielie-aanplantings. “Ons kan beter opbrengste realiseer as ons met die regte implemente vroeër kan plant. Nou draai ons eintlik net ons geld om.”

Hy spoor mede- kommersiële produsente aan om soos hy en Jackie ook doen, hul drome in hul harte en koppe te kry en daarop te bou. “Skryf dit neer en glo in jou drome. Leef jou passie en werk na die verwerkliking van jou prentjies toe. Vir nuwe boere is dit nog meer belangrik. Vergeet van struikelblokke. Weet wat jy wil hê en werk doelgerig. Sit jou voet neer, vat raad van ander en bereik jou doelwitte.”

Met die hoenderhaan se kraai wat vir die soveelste keer oor die plaaswerf klink, groet die 2019 Graan SA/Absa/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar met ’n versoek aan verbruikers: “Om die boer as primêre kosprodusent volhoubaar te maak, moet die ketting tussen die plaas en die verbruiker se bord korter word. Kyk of jy nie jou produkte teen ’n beter prys in die boer en sy span se sak, nader aan die plaas, kan koop nie. So kan jy die boer help om waardetoevoeging op die plaas te bekostig.”