Funksiespan slaggereed vir die jaar se funksies op NAMPO Park

Valerie Cilliers, redakteur SA Graan/Grain

1335

Annemarie de Beer (funksiebestuurder, Graan SA) en haar span behartig al vir die afgelope nege jaar die funksies wat op NAMPO Park aangebied word.

Vir die twee voltydse en 17 deeltydse personeellede beteken dit gereeld dat hulle lang ure van soggens vroeg tot saans laat moet werk. “Hierdie span is altyd vriendelik, al is hulle doodmoeg gewerk. Hulle is nie ’n bietjie trots op elke nuwe uniform wat aan hulle gegee word nie en dra dit met groot glimlagte. Dan moet daar ook dadelik foto’s geneem word, sodat hulle vir hul mense by die huis kan gaan wys,” vertel Annemarie.

’n Taxidiens sorg dat die span betyds by die werk is vir elke funksie en na die tyd weer veilig tuis in die nabygeleë Kgotsong terugbesorg word. Die oudste spanlid is Mary Kuku (die ouma en mamma van die span) wat reeds die afgelope 19 jaar help sorg dat besoekers aan NAMPO Park kan staatmaak op skoon lokale en badkamergeriewe. Sy help ook van tyd tot tyd in die kombuis met die kosvoorbereiding.

Na ’n welverdiende Kerstydruskansie staan Annemarie en haar span weer slaggereed vir ’n verskeidenheid funksies wat in 2020 op NAMPO Park aangebied gaan word

“Hulle het almal groot harte en is ook betrokke by liefdadigheidsprojekte, waar hulle hul dienste gratis aanbied,” vertel Annemarie. So het die span in 2017 tydens die Mandela-dagvieringe by Rethabile Kinderhuis vir ’n week lank skoongemaak, mure geskrop, geverf en nuwe bedlinne en gordyne aangebring. Vanaf 2016 word daar jaarliks tydens die Tweerivieregala-aand geld ingesamel vir twee kinderhuise, ’n ouetehuis, ’n sopkombuis, ’n Bybel-kiosk en die kantoor van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA). Hier werk hulle ook gratis en uit die goedheid van hul harte.