Graan SA reageer op BFAP-verslag

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 9 Desember 2020

579

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het onlangs sy Suid-Afrikaanse basislyn-landbouvooruitsigte vir die tydperk 2020 tot 2029 voorgelê, met ’n uitgebreide opsomming van die landbousektor en hoe dit na verwagting sal groei.

Dr Tracy Davids, bestuurder: Kommoditeitsmarkte en Vooruitskatting by BFAP, het tydens die eerste virtuele be­kendstelling van die verslag gesê dat die sektor waarskynlik vanjaar met 13% gaan groei.

Groei is ondersteun deur ’n reusemielie-oes van 15,5 miljoen ton (die tweede grootste in die geskiedenis); stygende uitvoerpryse van vrugte (ondersteun deur die swak wisselkoers) asook goeie verkope van landbouprodukte in die algemeen gedurende die eerste vier maande van die COVID-19-pandemie. Wyn en tabak was die enigste uitsonderings, aangesien handel daarin tydens verskillende stadiums van die grendeltyd beperk is.

Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, het die Suid-Afrikaanse landbousektor vanjaar in die eerste kwartaal goed begin met ’n bruto waardetoevoeging van 27,8% van kwartaal tot kwartaal op ’n seisoenaangepaste en jaarlikse basis. Volgens hom huldig Agbiz steeds die mening dat die volgende kwartale waarskynlik ook sterk groei sal toon. Uitbreiding in die tweede kwartaal sal ietwat minder wees as in die eerste kwartaal, moontlik teen ’n tempo van 20% tot 25% van kwartaal tot kwartaal op ’n seisoenaangepaste en jaarlikse basis.

Hoofaandrywers vir groei
Die sleutelaandrywers sal min of meer dieselfde as in die vorige kwartaal bly, toe daar ’n opswaai in diereprodukte en ry- en tuinbougewasse was. Suiker was een van die hoofaandrywers, terwyl sagte vrugte die belangrikste aandrywer was wat tot die opswaai in die eerste kwartaal gelei het. Agbiz verwag dat somergraan en oliesade waarskynlik die hoofaandrywers van groei in die tweede kwartaal sal wees, aangesien oesprosesse en aflewerings in die oorgang na die derde kwartaal momentum begin kry het. “Ons twyfel of die veebedryf so sterk gebly het in die tweede kwartaal, aangesien slagaktiwiteite afgeneem het toe die land aan die einde van Maart in ’n algehele grendeltydperk inbeweeg het. Aktiwiteite rakende diereprodukte sal moontlik eers in die derde kwartaal herstel, wanneer restaurante op groter skaal sal begin oopmaak,” het Wandile gesê.

Dr Davids het egter gewaarsku dat uitdagings met betrekking tot infrastruktuur, elektrisiteitsvoorsiening en dienslewering ’n demper kan plaas op groeivooruitsigte in die landbou vir die volgende aantal jare. Sy het gesê dat alhoewel die swakker wisselkoers saam met bo gemiddelde oesverwagtings die oplewing in prestasie in 2020 ondersteun, bly die vooruitsigte daarna onder druk – met ’n geprojekteerde jaarlikse groei van slegs 0,7% vanaf 2021 en verder.

Sy het verduidelik dat strukturele uitdagings soos die instandhouding van infrastruktuur, betroubare elektrisiteitsvoorsiening en die kapasiteit van noodsaaklike openbare dienslewering en munisipaliteite deur die pandemie vererger is.

“Vir die sektor om hierdie groeiscenario te haal, moet aandag geskenk word aan die dieregesondheidsituasie in Suid-Afrika. As ons die algemene gesondheidstatus van Suid-Afrika se veekudde kan verbeter, sal dit ons in staat stel om vinniger te groei en meer produkte na die wêreldmark uit te voer.”

Uit ’n tuinboukundige perspektief, het dr Davids gesê dat Suid-Afrika “goeie volumes” in produksie bring, maar dat dit belangrik is om voldoende marktoegang vir die produkte te verkry.

“Wat rygewasse betref, gaan alles uiteindelik oor produktiwiteitswins in ’n sektor waar die inkomste onder toenemende druk verkeer. Die sektor sal aandag moet skenk aan volhoubare rotasie­stelsels en diversifikasie,” was dr Davids se raad.

Graan SA se kommentaar
Volgens dr Dirk Strydom, bestuurder: Graanekonomie en Bemar­king by Graan SA, blyk dit uit die BFAP-basislynverslag dat graanmarges in die nabye toekoms steeds onder druk sal bly. Die hoofrede hiervoor is die lae internasionale pryse weens hoë voorraadvlakke asook die ondersteuning wat produsente in die VSA ontvang as die bedryf onder druk verkeer.

“Die uitdagende ekonomiese omstandighede speel ook ’n bydraende rol. Uit die BFAP-verslag kan duidelik gesien word watter impak die laer besteebare inkomste van verbruikers op vleisprodukte gehad het. Dit het ’n direkte uitwerking op die veevoerbedryf. Aan die positiewe kant is die feit dat verbruikers terugbeweeg het na basiese voedselsoorte, wat gelei het tot ’n opwaartse neiging in die verbruik van mieliemeel en brood,” het dr Strydom opgemerk.

Volgens hom is die groei in die sojaboonbedryf die lig aan die einde van die tonnel. Hy het egter bygevoeg dat die probleem steeds bestaan dat grafieke vir die ander gewasse en kontantvloei­scenario’s sywaarts beweeg. Die vraag bly hoe om die kurwe weer opwaarts te buig.

Hoëfrekwensiedata oor die belangrikste ekonomieë en die ontwikkelende wêreld beklemtoon die siening dat een van die skerpste afnames in ekonomiese aktiwiteit wêreldwyd in die ge­skiedenis ervaar gaan word. COVID-19 het sedert die begin van 2020 wydverspreide onstuimigheid en wisselvalligheid veroorsaak en die maatreëls wat ingestel is om dit hok te slaan, het skokgolwe deur die wêreldekonomie gestuur. Die jongste vooruitsigte van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) is somber, met die voorspelling dat die wêreldekonomie met 5% tot 6% gaan krimp en dat die herstel meer geleidelik gaan wees as wat aanvanklik verwag is.

Wat Suid-Afrika betref, verwag die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) in 2020 ’n inkrimping van 9,5% van die bruto binnelandse produk (BBP), met ’n beskeie oplewing van slegs 3,1% in 2021. Strukturele uitdagings van vóór COVID-19 dui daarop dat die herstel langer sal neem, met reële BBP wat na verwagting eers teen 2026 die vlakke van 2019 sal oorskry. Die beperkte vermoë van verbruikers om te bestee, stygende skuld en toenemende werkloosheid is enkele van die uitdagings wat oorkom moet word. Daar sal waarskynlik ’n verlangsaming en selfs ommekeer wees in van die vordering wat oor die afgelope twee dekades in mobiliteit tussen klasse gemaak is.

Verder is die landbousektor tans in nog ’n beplanningsfase met die ontwikkeling van ’n Landbou- en Agro-prosesseringsmeesterplan (AAMP), wat die potensiaal het om ’n soliede basis vir toekomstige inklusiewe groei te bied.

Die gevolge van die inperkingsaksie op landboumarkte is drie­voudig:

  • Dit verhoog in die eerste plek die risiko vir onderbrekings in die voorsieningsketting, wat dikwels die pryswisselvalligheid op kort termyn verhoog.
  • Alhoewel onderbrekings in die waardeketting tot korttermynpiektydperke kan lei, dui die fundamenteel swak vraagomge­wing, gekombineer met aanhoudende hoë voorraadvlakke vir die meeste kommoditeite, aan dat pryse van die meeste produkte vir ’n geruime tyd onder druk sal verkeer.
  • Derdens het die COVID-19-pandemie beleidsreaksies ontlok wat ’n uitwerking op handelsvloeipatrone gehad het. Sommige lande het stappe geneem om binnelandse voedselsekerheid te beskerm deur beperkings op uitvoervolumes in te stel. Terselfdertyd het die ontwrigting van logistiek die moontlike kwesbaarheid en risiko’s verbonde aan wêreldwye handels- en voorsienings­kettings uitgelig. Hierdie neiging dui nie op die einde van die wêreldwye voedsel- en landbouhandel nie. ’n Taaier handels­omgewing met strenger protokolle, mededinging en geentarief-handelsversperrings sal egter effektiewe en bevoegde regeringsdepartemente benodig om in noue samewerking met die privaat sektor toegang tot streeks- en wêreldmarkte te ver­groot.

In Suid-Afrika word ’n groot deel van die daling in wêreldwye gewaspryse deur die skerp afname in die wisselkoers teengewerk. Terwyl die rekordmielie-oes in Suid-Afrika pryse na uitvoerpariteit sal stoot, het die pariteitsvlakke as gevolg van die swakker rand gestyg en pryse sal dus nie in dieselfde mate daal as wat normaalweg in ’n rekordjaar verwag sou word nie. Die prys van oliesade sal na verwagting aansienlik styg, ondersteun deur hoë pryse vir invoerpariteit van produkte soos groente-olie en proteïenmeel.

Somergrane
In 2021 sal daar na verwagting ook ’n groei van ongeveer 5% in die somergewasgebied voorkom. Dit word veral toegeskryf aan ’n toename in oliesaadaanplantings, soos sojabone wat met 150 000 ha en sonneblom wat met 100 000 ha sal toeneem. Daarteenoor sal mielieproduksie met 90 000 ton afneem – hoofsaaklik toegeskryf aan witmielies. Alhoewel die inkomste wat in 2020 gegenereer word ’n mate van verposing bied, bly die langtermynvooruitsigte vir die meer marginale landbougebiede ’n uitdaging. Waarskynlik sal daar op groter skaal oorgeskakel word na veeboerdery, wat op lang termyn volhoubaarheid sal verseker.

Vee
Geprojekteerde groei in beesvleisproduksie word ondersteun deur die poging om uitvoere te verhoog. Ondanks uitdagings as gevolg van die bek-en-klouseer-uitbreking in 2019, is uitvoere suksesvol hervat kragtens bilaterale ooreenkomste en speel dit ’n sleutelrol in die balansering van karkaswaarde. Pryse wat vir hoëwaardesnitte op die uitvoermark behaal word, stel die bedryf in staat om die res van die karkas plaaslik teen meer bekostigbare pryse van die hand te sit.

Versnelling van uitvoergroei deur verbeterde dieregesondheidsbestuur en groter marktoegang bly ’n belangrike geleentheid om inklusiewe groei in die landbouomgewing te bespoedig. Wat pluimvee betref, sal die mededingendheid van plaaslik geproduseerde teenoor ingevoerde vleis verder baat vind by die onlangse tariefverhogings asook die pluimveemeesterplan, wat onlangs onderteken is en daarop gemik is om billike mededinging met ingevoerde produkte te verseker. Gevolglik sal die neiging tot stygende invoere na verwagting afneem en plaaslike produksie behoort teen 2029 ’n groter deel van die totale verbruik uit te maak as wat tans die geval is.

Vrugte
Die vrugtesektor, wat oorheersend op uitvoer gerig is, sal ook baat vind by die swakker wisselkoers. Weens die groot volumes wat uitgevoer word, stewige pryse wat op internasionale markte behaal word en die tyd van die plaaslike hoogseisoen, sal die sitrusbedryf waarskynlik die meeste voordeel hieruit trek. Pryse sal egter oor die volgende paar jaar onder druk kom wanneer bome van nuwe boorde wat aangeplant is hul volle dravermoë bereik en aansienlike volumes vrugte in produksie bring. In hierdie verband sal uitgebreide marktoegang van uiterste belang wees om die bykomende hoe­veelhede op te neem en prysdalings te beperk.

Opsommend
Alhoewel die landbou in ’n jaar met baie uitdagings daarin ge­slaag het om voedselbeskikbaarheid te verseker en dit in 2020 waarskynlik ’n positiewe bydrae tot die ekonomie sal lewer, het ’n verminde­ring in verbruikers­inkom­ste en ’n ver­hoging in die werkloosheid­syfer tog daartoe gelei dat voedsel vir baie mense onbekostigbaar is. Die pas waar­teen transformasie plaas­vind, is steeds te stadig. Om effektief in hierdie nuwe wêreld­omgewing mee te ding en die volle potensiaal van die landbou- en voedsel­waardeketting te benut om inklu­siewe groei deur die hele waardeketting aan te wakker en sodoende breër eko­nomiese welvaart aan te dryf, kan sake nie soos gewoonlik voortgaan nie. Die visie van ’n inklusiewe en florerende landbou- en agroverwerkingsek­tor wat in hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelings­plan vervat is, is steeds net so toepaslik as wat dit tydens die bekendstelling in 2011 was.

Dr Strydom het afgesluit deur te sê dat as na die basislynstudie gekyk word, daar geleenthede bestaan om die ekonomiese kurwe opwaarts te laat beweeg. Dit sal egter afhang van aanpassings en veranderings in die beleidsarena, die waardeketting en kos­tedoeltreffendheid in produksie.

“Die landbou beweeg in siklusse en hierdie is net ’n moeilike en uitdagende siklus wat ons met doeltreffendheid op verskillende vlak­ke binne die waardeketting moet oorkom,” aldus dr Strydom.

Dr Strydom maan produsente om kennis te neem van die volgende aspekte:

  • Dit is belangrik om die winskurwe hoër as die opbrengskurwe te laat skuif. Produsente moet hulleself afvra waar en hoe hulle die maksimum wins kan verkry.
  • Fokus op insetkoste, veral kunsmis. Wanneer na die Agri-maatstafgetalle gekyk word, is dit die swak punt.
  • Infrastruktuur, veral vervoer en hawens, moet aandag geniet. Hoe kan die binnelandse markte die kusgebiede bedien? Hoe kan ons effektief uitvoer?
  • Hou opbrengste deurlopend dop deur gebruik te maak van nuwe tegnologieë en insetverskaffers.
  • Ons moet die ekonomie weer aan die groei kry. As die ekonomie groei, sal die vraag na proteïene ook groei.
  • Ons benodig ’n uitvoermark vir ons proteïene (rooi- en witvleis). Ons moet belê in biosekuriteit, voedselveiligheid en naspeurbaarheid.
  • Kontant bly koning. Kontantvloei bly noodsaaklik vir winsgewendheid. Naas voedselsekerheid en klimaatsverandering bly kontantvloei een van die hoërisikofaktore.
  • Ondersteun produsente deur bekostigbare oesversekering daar te stel – dit is wat produsente in ander lande staande hou tydens moeilike ekonomiese siklusse.
  • Belê in navorsing, soos die Graannavorsingsplatform wat onlangs by die Universiteit van Pretoria geopen is.