N-bemesting by mielies – delta-opbrengs kan werk

Gepubliseer: 2 Julie 2024

78
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Die bemesting van graan bly ’n omstrede kwessie. Produsente meen dikwels dat bemestingskoste te hoog is, terwyl die bemestingsbedryf van hulle verskil. Alhoewel daar al jare se navorsing oor plante se voedingsbehoeftes gedoen is, kan nuwe inligting, praktyke, produkte en benaderings ge­volg word.

Hierdie veranderinge vereis nuwe bestuursriglyne wat weer tot omstredenheid lei. Die Misstofvereniging (Fertasa) publiseer op ’n gereelde basis ’n beme­stingshandleiding wat die meeste van die nagevorste inligting insluit. Hierdie publikasie is veral vir produsente ’n noodsaaklikheid en help om bemestingsbesluite ’n bietjie makliker te maak.

Bemestingsaanbevelings – veral rakende stikstof (N) – word meestal op drie maniere bepaal: die opbrengsmikpuntbenadering wat in die laaste tyd ook die genoegsaamheidsbenadering insluit en dan ook die delta-opbrengsbenadering.

Opbrengsmikpuntbenadering
Die algemene benadering wat tans met N-bemesting gevolg word, is om die hoeveelheid N wat bemes moet word van die verwagte opbrengs of opbrengsmikpunt af te lei. Hiervolgens word 15 kg/ha N toegedien vir elke 1 t/ha se opbrengs wat verwag word. Fertasa se 2016-bemestingshandleiding bevestig hierdie syfer as die stikstof verwyder deur 1 ton bemarkbare produk.

Hierdie metode moet sorgvuldig bestuur word, aangesien die hoeveelheid N benodig vir opbrengste onder 3 t/ha oorskat kan word, terwyl die hoeveelheid N benodig moontlik onderskat word vir opbrengste bo 4 t/ha.

Die grondtekstuur beïnvloed die N-lewe­ringsvermoë van die grond en die kleipersentasie van die grond speel ’n belangrike rol. Gronde met ’n hoë kleipersentasie lewer meer N as sanderige gronde en dit moet in die aanbevelings in aanmerking geneem word. Landboukundiges in die bemestingsbedryf is meestal bewus en neem dit reeds in hul aanbevelings in ag. Sien Tabel 1 vir die algemene aanvaarde N-bemestingaanbe­velings volgens die kleipersentasie van die grond asook die gronde se N-lewerings.

Dit is moontlik een van die redes waarom bemestingsaanbevelings tussen produ­sente in dieselfde streek kan verskil. Deur die grond se grondstikstof te laat ontleed, kan ’n akkurater aanbeveling gemaak word.

Delta-opbrengsbenadering
Kunsmis – en veral die toediening van N – regverdig kontrolepersele. So sal dit waarskynlik ’n groot verrassing wees as ’n mieliekontrole­perseel wat geen N ontvang nie ’n opbrengs van 5,3 t/ha oplewer (soos werklik die geval was met mielies na grondbone en sojabone by Viljoenskroon), terwyl daar sowat 120 kg N/ha volgens bestaande riglyne toegedien moet word om ’n mikpunt van 6 t/ha op die betrokke land te behaal. Volgens enige maatstaf is die toediening van 120 kg N om ’n opbrengsverhoging van slegs 0,7 ton mielies/ha te bewerkstellig totale oorbemesting en ’n vermorsing van geld. Met ’n kontroleperseel vir N-bemesting kan die bemestingsprogram verfyn word. Die delta-opbrengsbenadering is juis ontwikkel om hierdie oorbemesting te verhoed.

Delta-opbrengs is die opbrengs van mielies by die ekonomiese optimum minus die opbrengs van ’n aanliggende kontroleperseel­mielies wat geen N ontvang het nie.

Die delta-opbrengs toon ’n baie goeie verwantskap met die optimale N-bemestingsvereiste afgesien van die lokaliteit, grondsoort en of dit droëland of produksie onder besproeiing is. Die gevolg is dat een formule of tabel oor die hele mielieproduksiegebied van toepassing is sonder dat die grondtekstuur of ander faktore in ag geneem hoef te word. Trouens, volgens die Landbounavorsingsraad (LNR) wil dit voorkom of dié formule universeel is en nie net tot Suid-Afrika beperk is nie, aangesien dit baie goed ooreenstem met wat in die VSA gevind is.

Delta-opbrengsmetodiek
Die delta-opbrengsmetodiek is eenvoudig en vereis slegs kontrolestroke of -persele. Op sowat 1,6% van die oppervlakte van ’n mie­lieland moet geen N-kunsmis toegedien word nie, maar wel die aanbevole P (fosfor), K (kalium) en ander voedingstowwe. Dié kontro­legedeelte (of zero-N-gedeelte) kan enkele vollengte mielierye wees of ’n aantal aanliggende rye vir ’n beperkte lengte, byvoorbeeld vier rye van 20 m. Kontrolepersele moet oor ’n land versprei wees en van jaar tot jaar van posisie gewissel word. Die res van die land word soos gewoonlik met N bemes om die ekonomiese optimum opbrengs te bereik. Teen oestyd word die opbrengs van die kontrolepersele bepaal en ook dié van die bemeste gedeelte. Die verskil in opbrengs tussen die bemeste gedeelte en die kontrole is die delta-opbrengs.

Die N-bemestingsbehoefte van die mielies kan dan vanuit Tabel 2 bepaal word. Die delta-opbrengs moet oor seisoene per grondsoort (of land as die grond redelik homogeen is) en vir ’n spesifieke gewasstelsel bepaal word en die gemiddelde oor tyd bereken word. Sodoende kan die N-bemestingsbehoefte oor tyd verfyn word.

Voordele
Afgesien daarvan dat die delta-opbrengsmetodiek belofte inhou omdat dit akkurater as die tradisionele metodes kan wees, hou dit ook ander voordele in:

  • Die opbrengs van die kontrole is ’n meting van die hoeveelheid gewasbeskikbare N in die grond in terme van die graanopbrengs.
  • Dit raak dus oorbodig om grondmonsters te neem vir N-inhouds­bepaling en die moontlike foute wat daarmee gepaardgaan, word uitgeskakel.

Die produsent is nou self in beheer van die bepaling van sy mielies se N-bemestingsvereiste. Die opbrengs wat prysgegee word deur die kontrolepersele sal na raming minder as 0,5% van die opbrengs beloop indien 1,6% van die oppervlakte daarvoor gebruik word. Die voordeel van doeltreffender bemesting gaan waarskynlik dié opbrengs wat met die kontrolepersele verbeur word, in waarde oortref, aangesien beide oorbemesting en onderbemesting so ver moontlik beperk word.

Hierdie metode kan ook met groot sukses deur studiegroepe gebruik word om tendense in ’n gebied te bepaal. Deur almal in die proses te betrek, kan dit tot voordeel van die omgewing wees.

Stikstofbemestingwetenskap
N-bemesting moet versigtig benader word. Die verwagtinge van die jaar moet die verwagte opbrengste bepaal, maar hou ook die afgelope seisoen in ge­dagte. As daar heelwat beter as beplan gedoen is, kan daar dalk vir die volgende jaar ’n bietjie meer bemesting toegedien word. Indien dit ’n droogtejaar was, behoort daar dalk N in die grond oor te wees en kan effens minder bemes word.

Wees eerder konserwatief in N-bemesting. Topbemesting kan later nog gegee word en as die jaar baie goed verloop, kan ’n addisionele topbemesting toe­gedien word.

Die produsent se verhouding met sy bemestingslandboukundige is van deurslaggewende belang in hierdie verband. Hulle moet saam ’n strategie bepaal en die produ­sent moet van sy kundige advies gebruik maak om besluite te neem.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.