NAMPO verteenwoordig die hele sektor, sê minister Didiza

Uitgereik deur Graan SA
23 Mei 2022

1415

Vanjaar se NAMPO Oesdag het verwagtinge oortref met ‘n stewige bywoningsyfer van 73 000. Die week is gekenmerk deur ‘n energieke en ontspanne atmosfeer wat geheers het onder uitstallers, produsente en besoekers – wat bevestig dat NAMPO as koop-, kuier- en netwerkgeleentheid behoorlik gemis is gedurende die afgelope twee jaar wat dit nie gehou kon word nie.

Die Oesdagweek is ingelui deur ‘n besoek van minister Thoko Didiza, minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Die minister se afvaardiging het haar twee adjunkministers asook die departement se direkteur-generaal, Mooketsa Ramasodi, ingesluit. Sy het ook tydens die besoek gesprek gevoer met die Ministers van Landbou en Grondhervorming van die Demokratiese Republiek van die Kongo asook die Argentynse ambassadeur.

“Ek sê vir mense dat NAMPO my tuiste is. Toe ek in 1994 as Adjunkminister van Landbou aangestel is, was NAMPO die eerste landbouskou waaraan ek deelgeneem het. My besoek gaan daaroor om by die produsente en die bedryf te wees en om te kyk na wat nuut is rakende masjinerie en ander industrieë in die sektor. By NAMPO het produsente die geleentheid om interaksie te hê met mekaar en met belanghebbendes, maar ook om nuwe tegnologie wat bestaan, te sien. NAMPO verteenwoordig die uitgestrektheid en geïntegreerdheid van die hele landbousektor,’’ het Didiza tydens ‘n perskonferensie gesê.

Me Thoko Didiza, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (middel), tydens haar besoek aan die NAMPO Oesdag vroeër die week. Die voorsitter van Graan SA, Derek Mathews asook vise-voorsitter Jeremia Mathebula het haar op ‘n toer van die skou vergesel.

Graan SA se voorsitter, Derek Mathews, het in reaksie gesê die NAMPO Oesdag is ‘n fenomenale gebeurtenis en geleentheid om die verskaffers en die hele familie te ontmoet wat die wêreld van landbou skep, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld. “Graan SA waardeer minister Didiza en haar afvaardiging se besoek aan NAMPO om die produsente te leer ken. Dit is wat ons as Suid-Afrikaners moet doen; ons moet mekaar leer ken,” het Mathews gesê.

Die uitstallers by NAMPO 2022, groot en klein, verdien ‘n pluimpie vir die standaard, moeite en verskeidenheid van hulle uitstallings. Nagenoeg 150 van die 800 uitstallers is nuut vanjaar. “Dit is opmerklik dat daar nuwe idees is wat uitstallers NAMPO toe gebring het. Dit is deel van die waarde wat produsente self hier kan beleef. Twee jaar se ontwikkeling in tegnologie en ‘n klomp nuwe innovasies – wat nie die afgelope twee jaar ten toon gestel kon word nie – was te sien,” het dr Pieter Taljaard, HUB van Graan SA, gesê.

Die Nasie in Gesprek-forum se gesprekspunte het ondermeer gefokus op die stand van die ekonomie, die verantwoordelike gebruik van chemikalieë, infrastruktuur en logistiek, die herlewing van plattelandse gemeenskappe, diversifikasie en integrasie van lewende hawe, data in landbou en die toekoms van landbou. Heruitsendings van die gesprekke is op die Nasie in Gesprek webtuiste beskikbaar. Die digitale kanaal, Agrixtra, wat tydens Nampo Virtueel bekendgestel is, en op YouTube gevind kan word, het direk vanaf NAMPO Park uitgesaai en werp ‘n blik op alles wat by NAMPO die jaar te sien was.

Dr. Dirk Strydom, hoof: Nampo, Bemarking & Navorsingkoördinering van Graan SA, sê dit is belangrik dat daar nie net ‘n goeie bywoningsyfers is nie, maar dat die 800 uitstallers kwaliteit besigheid doen, kwaliteit gesprekke met produsente het en gehalte verkoopsleidrade bekom. “Dit is een groot seën dat Nampo die jaar kon plaasvind ten spyte van al die uitdagings. Ons vertrou dat die nie-winsgewende organisasies en naby geleë gemeenskap baat gevind het by dié jaar se Nampo Oesdag”, het Strydom gesê. Te same met die goeie bywoningsyfers het NAMPO nog net positiewe terugvoer ontvang vanaf uitstallers, gaste, besoekers wat NAMPO vir die eerste keer beleef het en dié wat dit al telkemale beleef het” het Strydom gesê. Die jaar het verskeie maatskappye vanaf die motor- en landbou industrieë nuwe produk bekendstellings gedoen tydens NAMPO.

In die loop van die week het nie minder nie as 335 vliegtuie en 70 helikopters op die aanloopbaan geland, wat gesorg het vir 925 besoekers wat deur die lugruim gekom het. Die week is gekenmerk deur aangename weersomstandighede, hoewel harde reën Vrydagmiddag die jaar se NAMPO Oesdag op ‘n nat noot laat afsluit het.

Graan SA het ook ‘n kranslegging by die Muur van Herinnering op NAMPO Park gehou ter nagedagtenis aan produsente wat in plaasaanvalle en weens Covid-19 gesterf het.

Die datums vir volgende jaar se NAMPO Oesdag is vasgestel op 16 – 19 Mei 2023.