Maak self plan om risiko’s te verminder

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 12 April 2023

218

Nuwe tegnologie, brandpunte rakende landbouverse­kering en beurtkrag was alles ter sprake by die eerste paneelbespreking wat op dag 1 van Kongres aangebied is. Onder leiding van dr Pieter Taljaard (HUB van Graan SA) het Erik de Vries (HUB van Agri Technovation), Gerhard Diedericks (onafhanklike versekerings­kundige) en Monique le Roux (senior navorser by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad) gesels oor risiko’s in graanverbouing en raad gegee oor hoe dit bestuur kan word.

Gebruik daardie duur data
De Vries meen dat Suid-Afrika trots kan wees op produsente wat ge­reeld aan die voorpunt staan om nuwe tegnologie op te neem en aan te wend om sodoende data bymekaar te maak. Hy het aan Kongres gesê dat Suid-Afrikaanse produsente in baie moeiliker omstandighede as hul internasionale eweknieë boer. Om kompeterend te bly is dit dus belangrik dat daar gefokus word op die voordele wat Suid-Afrikaanse produsente wel het. Hy het gesê dat plaaslike produsente en maatskappye reeds ’n magdom data bymekaargemaak het en dat dit aangewend kan word om winsgewendheid te verhoog. Sy raad is juis dat produsente data moet gebruik, anders raak die tegnologie en die data wat versamel is duur.

Span saam vir beter risikobestuur
Diedericks het gesels oor risikobestuur en het verskeie markuitdagings uitgelig. Om dié uitdagings, wat klimaatsverandering, die hoë koste en beperkte beskikbaarheid van kapitaal, stygende insetkoste, ’n tekort aan energie-opwekking en hoë werkloosheidsyfers insluit, hok te slaan, is nuwe, unieke oplossings nodig wanneer dit kom by risikobestuur.

Diedericks is tans in konsultasie met Graan SA om te kyk na groepversekeringsmoontlikhede vir Graan SA-lede wat volgens hom ’n uiters sterk koopkrag verteenwoordig. Dr Taljaard het verduidelik dat die versoek in 2022 tydens Kongres van lede ontvang is om ondersoek in te stel na groepsversekering vir Graan SA-lede. Volgens Diedericks sou ’n moontlike voordeel kon wees dat lede insette kon lewer rakende reëls vir premiebetaling en onttrekking uit die fonds. Die ideaal is dat die voordele van die fonds dit so aantreklik moontlik maak vir soveel as moontlik lede. ’n Verdere voordeel is dat risiko’s wat tans onversekerbaar is, wel verseker kan word.

Eie opwekking van krag is die antwoord
Die vraag op almal se lippe was of produsente in alternatiewe energie moet belê of nie. Le Roux, wat aanlyn vanaf Stellenbosch ingeskakel het, het ongelukkig min goeie nuus gehad wat die nasionale kragnetwerk en beurtkrag betref. Sy het daarop gewys dat vier keer meer beurtkrag in 2022 ingestel is as in 2021 en dat energiebeskikbaarheid in 2022 vir die eerste keer onder 50% geval het.

Ten spyte van die feit dat Eskom ’n totale opwekkingsvermoë van 54 GW het, kan die kragreus weens onbeplande onderbrekings tans nie voorsien in die nasionale kragbehoefte wat met piektye 34 GW is nie. Le Roux sê weens Eskom se steenkool-uitdiensstellingskedule en die feit dat die meeste van die kragstasies se leeftyd op ’n einde staan, daar teen 2050 minder as 10 GW deur steenkool­kragstasies opgewek gaan word. Slegs 6 230 MW hernubare krag word tans in Suid-Afrika opgewek. Die Wes-Kaap en Noord-Kaap het reeds volle kapasiteit bereik wat hernubare kragprojekte wat aan die netwerk gekoppel kan word, betref. Die netwerk kan nie meer as wat tans bestaan of beplan word hanteer nie.

Sy het aan Kongres verduidelik dat die enigste opsie vir die voorsiening van krag eie generasie deur middel van alternatiewe energie is. Le Roux het ’n gevallestudie voorgehou van ’n produsent in Bloemfontein waar die koste van eie opwekking vergelyk word met Eskom-tariewe. Met ’n 300 kVA-stelsel vir eie opwekking in plek toon die gevallestudie ’n besparing van R800 000 per jaar met ’n terugbetalingsperiode van 4,7 jaar. Dit maak duidelik sin om oor te skakel om koste aan stygende Eskom-pryse en ’n tekort aan kragvoorsie­ning teen te werk en produsente herinner dat koste en uitgawes in dié verband belasting­aftrekbaar is. “Beurtkrag gaan nog vir lank met ons wees en kan moontlik binnekort fase 8 bereik. Ons verwag grootskaalse investering in alternatiewe krag­opwekkingsinfrastruktuur,” het sy bygevoeg.

Gerhard Diedericks, Erik de Vries en dr Pieter Taljaard tydens die paneelbespreking oor risiko’s in graanverbouing.