Koste van vervoer in Swartland onderhandel

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 9 Desember 2020

1087

Graan SA het produsente van die Swartland onlangs bygestaan om te verseker dat vervoerkoste vir 2020 se kanola-oes steeds gesubsidieer word.

In die verlede het produsente wie se ligging te ver vanaf Kaap Agri se silo’s (wat kanola ontvang) of Overberg Agri se silo’s is, met SOILL ooreengekom om die kanola op die plaas te laai – op SOILL se onkoste. In die 2020-kontrak is egter voorgestel dat SOILL alle kanola verreken asof dit te Swellendam gelewer word. Die produsent sou dus vervoerkoste moes betaal vanaf die plaas tot by die finale verwerkingspunt.

Koos Blanckenberg, voorsitter van Graan SA se Kanolawerkgroep, verduidelik dat produsente en Graan SA die ooreenkoms bevraagteken het opgrond daarvan dat die produsente kanola geprys het sonder dat hulle ingelig is dat vervoerkoste verhaal sou word. SOILL het na verdere onderhandelinge besluit om voort te gaan om die vervoerkoste van Swartland-produsente vir die 2020-oes te subsidieer.

In ’n e-pos aan produsente het hulle egter gesê hulle is oortuig dat “die ontwikkeling van die prysmodel produsente voldoende sou kompenseer vir enige aftrekking van vervoerkoste”.

Die ooreenkoms soos voorgestel in die 2020-kontrak sal dus eers vir die 2021-oes relevant wees.