Graan SA gryp in tydens dieseltekort

Magda du Toit, namens Graan SA
Gepubliseer: 1 Oktober 2020

1296

Vroeër vanjaar het baie graanprodusente in veral die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo mid­de-in die stroopproses ’n ernstige tekort aan grootmaatdiesel ervaar. Heelwat van hulle kon nie volstoom met hul bedrywighede voortgaan nie.

Die impak van die dieseltekort in die binneland het die oesproses ontwrig en sou dit oor die kort tot medium termyn voortduur, kon voedselsekerheid ernstig bedreig word.

Redes vir tekort
In ’n onderhoud op Plaas TV op 6 Julie het dr Dirk Strydom, be­stuurder: Graanekonomie en Bemarking by Graan SA, verduidelik dat die COVID-19-scenario en die gevolglike grendeltydperk ’n groot daling in die vraag na diesel meegebring het. Dit het veroorsaak dat voorrade by raffinaderye opgebou en opbergingsfasiliteite vol geraak het. Verwerkingsprosesse is derhalwe gestaak. Teen die einde van Maart 2020 is raffinaderye wêreldwyd hierdeur geraak. Teen einde April het ’n groot ooraanbod van alle produkte tot gevolg gehad dat vaartuie weens onvoldoende bergingsfasiliteite nie kon aflaai nie.

“Met die aankondiging van vlak 4 van COVID-19-inperkings in Junie, was daar skielik ’n groot vraag na diesel en was daar nie genoeg tyd om voldoende voorraad te verwerk nie. Met die grootste deel van die aanbod wat van Durban afkomstig is, is massiewe logistieke uitdagings ondervind. Die beskikbaarheid van brandstof is belemmer deur agterstande en opeenhopings, selfs al het verskaffers meer padvervoer gebruik om die krisis te probeer voorkom.

“Die diefstal van brandstof deur goed georganiseerde misdaadsindikate en die beskadiging van die pypleiding van Durban na Johannesburg in dié proses was nog ’n aspek wat die situasie vererger het,” sê dr Strydom.

Die pypleiding word gevandaliseer om toegang tot diesel te verkry. Volgens berigte in die media moes die pyplyn 30 keer gestop word, wat die hele proses om diesel van Durban tot in die binneland te kry elke keer vir ’n paar dae opgehou het. Dit duur sewe dae om diesel van Durban tot in die binneland te kry.

Omdat hierdie tekort aan diesel ’n geweldige invloed op graanprodusente het, het Graan SA saam met ander belangegroepe op 10 Junie met die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfs­vereniging (Sapia) in gesprek getree om die saak te beredder. Daarna het weeklikse gesprekke elke Woensdag plaasgevind tot­-dat die probleem grootliks opgelos is.

Volgens Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, het die tekort aan diesel nie net die stroopproses beïnvloed nie, maar het dit produsente se sakke ook direk geraak. Produsente moes rente op uitstaande skuld betaal wat gedelg sou word met inkomste wat verkry sou word uit die lewering van graan. “Hoe langer produsente moes wag om te stroop, hoe meer moes hulle aan rente betaal.” Volgens hom het sekere produsente ook reeds vir diesel betaal wat hulle nie ontvang het nie. Baie produsente kon ook nie deel in die dieselprys wat in Mei en Junie vanjaar op sy laagste was nie, omdat hulle nie diesel in die hande kon kry nie.

Landbou kry prioriteit
Graan SA was deurgaans in kontak met Transnet en Sapia om se­ker te maak dat landbou voorkeur kry. Volgens dr Strydom het hulle dieselverskaffers versoek om die landbouwaardeketting as prioriteit te stel. Graan SA bly steeds in deurlopende gesprek met Sapia, hul lede, dieselgroothandelaars en Transnet oor die belang van volgehoue diensverskaffing aan die landbousektor.