Dekgewasse al meer gewild

110

SA Graan/Grain-medianavraag

Valerie Cilliers,
redakteur,
SA Graan/Grain

In Graan SA se kommunikasie met produsente is daar gereelde vrae oor die waarde en bydrae van dekgewasse tot bewaringslandbou. As deel van SA Graan/Grain se fokus op dekgewasse hierdie maand, het ons by saadverskaffers aangeklop om te hoor waarom die aanplant van dekgewasse in gewildheid toeneem. Ons wou ook by hulle weet watter gewasse beskikbaar is en waarvoor dit aangeplant kan word.

K2
Rüdi Kuschke (tegniese spesialis: weiding, K2) glo dat die voordele van multispesiedekgewasse legio is. “Landbouers het ’n plig om toe te sien dat grond as hulpbron opgepas en met respek hanteer word.” Hy glo dat die natuur nageboots kan word om grondkwaliteit te verbeter. “In die natuur begin die pad na biodiversiteit by ’n pionierplant wat konstant poog om ontblote, kaal grond te bedek. Plantsuksessie volg tot waar die area in balans is, met genoegsame biodiversiteit vir optimale lewering.” Rüdi meen dat ’n multispesiedekgewas noodsaaklik is om biodiversiteit te verseker. “Die natuur streef altyd na biodiversiteit – met ander woorde ’n groot verskeidenheid plantspesies. Nooit monokultuur soos die mens daarvan hou nie.”

Agricol
Die samestelling van dekgewasmengsels is van kritieke belang, reken Dawie du Plessis (verkoopsbestuurder, Agricol). “’n Goeie mengsel kan sinergisme tussen die gewasse veroorsaak, wat die hergroei nog verder kan bevoordeel.” Hierdie sinergie bevorder veral die koolstofwaardes in die grond en volgens Dawie is dit een van die belangrikste voordele van dekgewasse.

Barenbrug
Ivan Jansen van Rensburg, tegniese bemarker by Barenbrug, glo dat elke stuk grond uniek is en dat dekgewasse volgens die behoefte van die grond aangeplant moet word. “Ons gesels met die kliënt om te bepaal wat sy/haar doel is, byvoorbeeld stikstofbinding, biomassaproduksie of verligting van kompaksie. Die grondtipe, reënval en besproeiingstipe (indien teenwoordig) moet in ag geneem word. Moontlike uitdagings soos suur, nat en/of gekompakteerde grond moet ook in gedagte gehou word, aangesien gewasse verskillende toleransies vir hierdie probleme het. Dit gee dan ’n goeie idee van watter mengsels – of monokultuur – die beste sal werk.”

AGT
Simon Hodgson (bestuurder: dekgewasse, AGT) stem saam dat multispesiedekgewasse die antwoord is. “Aanvanklik was monokultuurdekgewasse baie populêr, maar die voordele van multi­spesiedekgewasse is onmiskenbaar en al hoe meer produsente poog om biodiversiteit in hulle grond op dié manier te verbeter.”

Pannar
Die oorhoofse doelwit van dekgewasse is om boerdery beter teen risiko’s te verskans, verduidelik Petrus van Rooyen (produkbestuurder: voergewasse, Pannar). “Die sukses van ’n boerdery berus op volhoubaarheid en daarom probeer ons die grond – ’n erfenis – ten alle koste as hulpbron te beskerm. Die afgelope paar jaar word daar meer klem op bewaring- of herlewingslandboupraktyke gelê om grond en grondgesondheid te beskerm om sodoende produktiwiteit en winsgewendheid te handhaaf. Dit sluit ook gewoonlik minimum- of geenbewerkingstelsels en die gebruik van dekgewasse in.”

Samestelling van mengsels
SA Graan/Grain wou ook uitvind watter kultivars beskikbaar is en hoe dekgewasmengsels saamgestel behoort te word.

K2 se raad aan produsente is dat grasse en grane ongeveer 40% en peulplante 60% van die mengsel moet uitmaak. “Peulplante groei stadiger en nie so aggressief soos die grasse en grane nie. Blomme is weer nodig om die verlangde insekte te lok, want sonder insekte kan landbou nie bestaan nie,” aldus Rüdi.

Hy raai produsente aan om ’n kombinasie van spesies uit dié vyf groepe saam te stel:

  • Grasse
    Soedangrasse; sorghum/soedan; meerjarige grasse; eenjarige grasse; raaigrasse; swenkgrasse; kropaargrasse; manna­; tef; reddingsgrasse en babala.
  • Grane
    Sorghum; mielies; koring; hawer; gars; rog; sonneblom en sorghumbasters.
  • Brassicas
    Kanola; mosterd; voerrape; rape; radys (daikon) en Japannese radys.
  • Chenopods
    Suikerbeet; beet; spinasie en swiss chard.
    Subspesie – bokwiet; rabarber en sigorei.
  • Peulplante
    Akkerbone; dolichosbone; sojabone; lusern; wieke; voererte; klawer; mungbone; sonhennop; lupiene en fababone.

Agricol
Dawie is dit eens dat ’n goeie mengsel diversiteit bou. “Die doel van die mengsel is om die maksimum koolstofopbou, mikrobegroei en grondbedekking te verseker. Verder verminder dit vogverlies, onkruid en gronderosie.

  • Agricol se wintermengsel (Agrilife Grazer 2) bestaan uit hawer, stoelrog, wieke, Japannese radys en ripperraap. Dit word vanaf middel Oktober geplant en groei tot middel April.
  • Die somermengsel (Agrilife Grazer 12) bestaan uit voersorghums, babala, akkerbone, dolichosbone, sonhennop en niger (peulplant). Dit word vanaf die einde van Februarie geplant en groei tot einde Oktober.
  • Hulle bied ook ’n winter/somermengsel (Agrilife Grazer 21+) met meer as 21 gewasse. Hierdie mengsel word in Januarie aangeplant en groei tot einde Oktober.

Barenbrug
Barenbrug bied ’n omvattende lys van verskillende tipes dekgewasse. Ivan herinner produsente daaraan dat dekgewasse nie net vir grondverbetering geplant word nie. Deur middel van ‘n konsep wat hulle Covergraze noem, word dekgewasse gevestig om grond te verbeter, maar met die opsie om dit te bewei. ‘n Gedeelte van die dekgewas word as weiding benut, wat die koste-effektiwiteit daarvan verbeter en selfs tot winste kan lei. Die res van die dekgewas word in die grond teruggewerk met die doel om grondgesondheid te verbeter.

Dié saadverskaffer bied:

  • kleingrane (voergars, voerrog, korog, saia en hawer);
  • peulgewasse (weiwieke, voererte, bitter lupiene, fababone, klawers en medics);
  • brassicas (radyse, mosterd en knolrape); en
  • ander breëblare (phacelia).

Eenjarige sowel as meerjarige opsies is beskikbaar, asook winter- en somertipes. Die bogenoemde is meestal winteropsies.

AGT
Volgens Simon word saadverskaffers genoop om ’n groter verskeidenheid dekgewasse beskikbaar te stel as vroeër jare. “Soos wat produsente al hoe meer vaardig in die aanplant van dekgewasse geraak het, soek hulle voortdurend beter mengsels en gewasse wat presies verrig waarvoor dit aangeplant word.”

Die eienskappe van die verskillende dekgewasse moet produsente lei om die regte gewasse aan te plant, aldus Simon:

  • Hawer en stoelrog help in die winter om erosie teen te werk. In die somer kan grasse (couch, kikoejoe en tef) hiervoor aangewend word.
  • Hawer, stoelrog en radyse bevorder die infiltrasie van water in die winter en sorghum word in die somer vir hierdie doel aangeplant.
  • Peulgewasse verhoog die proteïeninhoud van weiding.
  • Om onkruid in die somer teen te werk, word vinnig-groeiende dekgewasse soos lusern, dolichosbone of sonhennop aangeplant wat die onkruid dan verdring.
  • Om insekte te lok, kan swartbekboontjies, dolichosbone, lusern, sigorei, sonneblom, vlas, babalagras of voersorghum geplant word.

Pannar
Dekgewasmengsels kan breedweg in drie verdeel word, naamlik somermengsels, wintermengsels en gewasse wat saam met byvoorbeeld mielies verbou kan word, verduidelik Petrus. Hy is veral opgewonde oor die wintermengsel van Japannese radys en al die kleingraangroenvoere (stoelrog, korog en hawer) wat ter sprake is en aktief groei in die herfs, deur die winter of tot in die vroeë lente. Japannese radys en groenvoer hou volgens hom baie voordele vir ‘n wisselboustelsel met ander gewasse in. “Dié gewasse is geskik vir grondbewaring en grondgesondheid. Japannese radys produseer groot knolle en die blare help om die grond teen erosie te beskerm. Daarbenewens help die penwortel om vlak verdigtingslae en ploegsole op te breek. Dit is waar die bynaam biodrills vandaan kom. Hierdie aksie bevorder infiltrasie van water in die grondprofiel en help beter wortelontwikkeling van die opvolggewasse aan. Radyse groei sterk vanaf Maart tot middel Augustus.”

Waar van meerjarige mengsels gebruik gemaak word, bied Pannar ’n uitstekende intermediêre dormansieklas-7 lusernkultivar wat by die pakket ingesluit kan word. Vir somergewas-voergewasse word veral die sorghumbasters met ’n hoë suikerinhoud aanbeveel. Hierdie baster kan gelos word om uit te groei en as groenweiding in die somer of as staande hooi in die laat herfsmaande bewei te word.

Pannar se voergewasse sluit voersorghum, tef, lusern, groenvoer en Japannese radys in asook een- sowel as meerjarige raaigrasse.