Insetaankope – beplanning en uitvoering die sleutel

Gepubliseer: 4 September 2020

1218
Corné Louw
senior ekonoom, Graan SA
corne@grainsa.co.za

Terwyl ons reeds op die drempel van die nuwe plantseisoen staan, is daar produsente wat nog besig is met die stroop van somergrane.

Met winsgewendheid in die graanbedryf onder druk – relatief lae graanpryse en stygende insetkoste – is dit baie maklik om oorhaastige besluite te neem of selfs na strooihalms te gryp wanneer dit by insetaankope kom.

Wanneer op insette gespaar word, moet dubbeld seker gemaak word dit is nie ’n kortsigtige besluit nie – die kwaliteit en die bestendigheid van die maatskappy bly uiters belangrik.

Prys
Doen hierdie jaar ekstra moeite om te verseker insette van die beste kwaliteit word teen die regte prys aangekoop. Kry soveel moontlik kwotasies; probeer groothandelpryse in die hande kry; vind uit wat jou buurman betaal of koop meer insette saam as ’n groep om beter pryse te beding. Vir die jongste insetprystendense kan Graan SA-lede met die kantoor kontak maak.

Kwaliteit
Produsente spandeer jaarliks miljoene rand aan insette, hoekom dan kanse vat met die kwaliteit daarvan? Graan SA staan sy lede by om te help met die beslegting van insetdispute waar die kwaliteit van insette skade aan die lid se oes veroorsaak het. Die afgelope seisoen is daar weer heelwat insetprobleme by Graan SA aangemeld.

Die gebruik van ongetoetste insetmiddele en die aankoop van insetmiddele by onbekende verspreiders, stel produsente jaarliks aan groot risiko’s bloot. Hiermee ’n klompie wenke wanneer insetmiddele aangekoop en gebruik word om die risiko’s te beperk:

    • Maak seker dat die insetverskaffer ’n erkende maatskappy met ’n bewese rekord is.
    • Sorg dat alle aanbevelings sover moontlik op skrif gestel en veilig bewaar word.
    • Hou rekord van alle aankope.
    • Gaan die kwaliteit van die insetmiddel na.
    • Dit gee oor die algemeen meer gemoedsrus as gesertifiseerde saad geplant word.
    • Wanneer saad behandel word, moet dit deur die saadmaatskappy self of met gesertifiseerde saadbehandelingstoerusting gedoen word.
    • Wanneer landbouchemikalieë aangekoop word, let op die volgende:
      • Maak seker die middel is geregistreer onder Wet Nr. 36 van 1947 vir die doel van gebruik.
      • Verseker dat die maatskappy wie se middel dit is, ’n lid van CropLife SA is.
      • Maak seker dat die verspreidingsmaatskappy ’n lid van CropLife SA is.
      • Die agent moet gekwalifiseerd wees.
      • Dit gee ekstra gemoedsrus as die maatskappy waarby aangekoop word, ’n lid is van ’n sambreelorganisasie, byvoorbeeld SANSOR vir saad; Fertasa vir kunsmis; CropLife SA vir landbouchemikalieë en SAAMA vir landboumasjinerie.

Gebruik oor die algemeen klein kontrolepersele om nuwe insetmiddele te toets alvorens dit op groot skaal gebruik word. Moet nooit ’n nuwe middel op al die hektare gebruik nie.

Wat Rhizobium-bakterieë betref, is dit belangrik dat slegs geregistreerde entstowwe (volgens Wet Nr. 36 van 1947) gebruik word. Die spesifieke produk moet verkieslik deur die betrokke saadmaatskappy wie se saad geplant word, aanbeveel word. Moenie nuwe produkte op groot skaal gebruik nie. Produsente wat hul entstof wil laat toets om seker te maak dat dit lewensvatbaar is, kan die LNR-PPRI (Roodeplaat) kontak by 012 808 8138 of stuur ’n e-pos na:

Francina Bopape
phalanef@arc.agric.za
Poppie Mthimunye
mthimunyep@arc.agric.za
Dr Ahmed Hassen
hassena@arc.agric.za

Hoe gemaak as kwaliteitsprobleme wel ervaar word?
Wanneer probleme met die kwaliteit van ’n inset vermoed of ondervind word, moet die volgende stappe gevolg word:

  • Kontak so gou moontlik die verteenwoordiger van wie die insetmiddel aangekoop is en dring op ’n ondersoek ter plaatse aan. Hou ook rekord van datums en gesprekke.
  • Versamel en stel soveel moontlik inligting op skrif, neem foto’s of maak video-opnames om later na terug te verwys.

Indien die probleem nie opgelos word nie, oorweeg die volgende stappe. Moet egter nie te lank hiermee wag nie, want hoe langer gesloer word, hoe moeiliker raak dit om te bewys dat dit kwaliteitsprobleme is wat skade veroorsaak het.

  • Lede moet Graan SA in kennis stel indien die betrokke maatskappy nie die nodige aandag en oplossings vir die probleme verskaf nie.
  • Tree in verbinding met ’n onafhanklike wetenskaplike om ’n ondersoek ter plaatse te doen.

Saad
In die geval waar ’n produsent steeds vermoed dat daar probleme met die saad is wat hy aangekoop het nadat die saak reeds met die verteenwoordiger en die maatskappy wat die saad verskaf het, opgeneem is, kan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gekontak word. Dié departement sal dan ’n handelskontrole-ondersoek ingevolge die Plantverbeteringswet doen.
Kontakpersone:

Oos-Kaapse streeksverteenwoordigers:
Gerald Jack, Port Elizabeth: 041 484 2725
Felicity Daniels, Port Elizabeth: 041 484 2725

Vrystaatse streeksverteenwoordiger:
Zanele Buhlungu, Bloemfontein: 051 406 0967

Gautengse streeksverteenwoordiger:
Christo Botha, Pretoria: 012 319 6139

Wes-Kaapse streeksverteenwoordiger:
Christo Gouws, Stellenbosch: 021 809 1709

Onthou om rekord van lot- of kodenommers te hou, aangesien indieningsmonsters van alle saadlotte by die betrokke geregistreerde saadlaboratoriums waar kwaliteitskontrole uitgevoer word, vir dispuutondersoeke beskikbaar is. Tydens die aankope van saad behoort ’n ontledingsertifikaat ten opsigte van die kwaliteit van die spesifieke saadlot, wat uitgereik is deur ’n geregistreerde saadlaboratorium, aangevra te word. Produsente word ook aangeraai om die fisiese sak en etikette wat aan die sak aangebring is, te bewaar, sowel as die faktuur wat uitgereik is vir die aankope van die spesifieke lot. Om bloot ’n saadmonster te hou, sal in baie gevalle nie goed genoeg bewys wees nie, maar ’n geseëlde sak saad sal wel as ondersteuning kan dien.

Produsente wat dalk saad van die vorige jaar oorgehou het en die kieming wil laat toets, kan gesertifiseerde laboratoriums hiervoor kontak. Skandeer of klik op dié QR-kode vir meer inligting.

Kunsmis
Produsente moet daarop let dat ál hoe meer ongetoetste produkte in die mark beskikbaar raak. Moet nie nuwe middels op groot skaal gebruik nie.

Dit word aanbeveel dat produsente hul kunsmis onafhanklik laat toets. Dit is uiters belangrik dat kunsmismonsters reg geneem word. Monsters om kunsmiskwaliteit te toets, moet in samewerking met die kunsmismaatskappy geneem word. Produsente kan Graan SA, Fertasa of vir William Deale direk kontak vir die neem en ontleding van monsters om kunsmiskwaliteit te toets. William se kontakbesonderhede is: 083 947 2389 of wideale@gmail.com.

Indien ’n produsent vermoed dat daar probleme is met die kunsmis wat hy aangekoop het – nadat die saak met die kunsmismaatskappy opgeneem is – kan hy Graan SA skakel of ’n klagte direk by die Registrateur van Wet Nr. 36 van 1947 indien.

Landbouchemikalieë
Die kwaliteit van landbouchemikalieë (aktiewe bestanddele) kan by die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) getoets word.

Cecilia Breedt, Crop Protection Division, SAGL
cecilia.breedt@sagl.co.za
012 807 4019 X 2023
082 458 9327

Diesel
Daar is deesdae baie nuwe brandstofverspreiders in die mark, gewoonlik met besonder kompeterende pryse. Produsente moet seker maak dat die kwaliteit van hierdie diesel aan spesifikasies voldoen.

Verskeie bronne kan gebruik word om dieselkwaliteit te laat toets. Indien vermoed word dat daar probleme is met die kwaliteit, veral in gevalle van moontlike dieselkontaminasie, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geskakel word vir die toets daarvan:

Russell Allison, SAID
021 943 7778
rallison@sars.gov.za

Produsente wat self hulle diesel wil toets, kan www.dieseltesting.co.za besoek of 087 575 3568 skakel vir die aankoop van toetsinstrumente.

Nog ’n opsie is om diesel in ’n laboratorium te laat toets. Die volgende laboratoriums is al deur lede gebruik:

Klik op dié ikoon om na ’n potgooi te luister waarin Corné ’n kort opsomming van hierdie artikel gee.