Wisselbou: Langtermynstelsels met gras bevorder winsgewendheid

2565
Pietman Botha,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Langtermynwisselboustelsels met grasse en graan kan baie winsgewend wees, maar wees op die uitkyk vir moontlike slaggate.

Borseltjiegras, mielies en sonneblom
Mnr Deon Bothma en sy seuns, Gawie en Marnus, boer in die Mareetsane-gebied van die Noordwes Provinsie. Hy het ’n geruime tyd gelede reeds begin om ’n langtermynweidingstelsel met sy gewasproduksiestelsel te kombineer en het sedertdien nooit weer teruggekyk nie. Op hierdie sandplaas het die weidingstelsel die volhoubaarheid van die besigheid verseker.

Die veevertakking bring stabiliteit en verlaag risiko, maar help ook om die saaiboerdery se winsgewendheid te verhoog. Borseltjiegras word vir ten minste vyf jaar verbou, waarna dit omgewerk word en graan produseer totdat dit weer omgeskakel word na weiding vir die vee.

Hierdie stelsel hou verseker heelwat voordele in. Eerstens verhoog dit die winsgewendheid van die saaiboerdery. So byvoorbeeld is mielies wat direk na die weiding aangeplant word, se opbrengste tot ’n derde hoër as die mielies wat nie in die rotasiestelsel is nie – terwyl beide ongeveer dieselfde koste het. Dit maak dit moontlik om minder te plant, maar steeds dieselfde boerderyinkomste te realiseer.

Hoër opbrengste kan nie net toegeskryf word aan die wisselbou-effek nie. Die borseltjiegras het ’n positiewe uitwerking op grondgesondheid. Dit het ’n duidelike verlagingseffek op aalwurm, verhoog ongetwyfeld die humusinhoud van die grond en spreek die koolstof:stikstof-verhouding (C:N-verhouding) ook aan. Grondstruktuur word ook deur die borseltjiegras verbeter en die waai van die lande is as gevolg van die gras baie minder. Die mielieplant se wortelstelsel is baie beter ontwikkel en gesonder en sodoende word meer vog en voedingstowwe opgeneem. Al hierdie positiewe effekte lei tot beter graanproduksie wat omgeskakel word in wins.

Mnr Martiens du Plessis, grondkundige by NWK Beperk, het nagraadse studie oor hierdie weidingstelsel gedoen en dit is interessant om te sien hoe daar elke jaar ’n verbetering in sekere aspekte van die grondgehalte is. Dit is veral die verbeterde C:N-verhouding van die grond wat veroorsaak dat die opvolggewas die opgeboude stikstof meer geredelik kan opneem. Martiens vermoed verder dat daar ’n daling in die plantsiektedruk voorkom, omdat daar tydens die grasrusoes nie ’n kontantgewas is wat as gasheer vir patogene kan dien nie en siektesiklusse só gebreek word. (Dit is egter nie tydens die studie gemeet nie.) Hierdie aspekte dra alles by tot ’n gunstige omgewing vir opvolggewasse.

Met die huidige lae winsgewendheid van die mielievertakking, kan die gras nog ’n paar jaar langer gehou word voordat dit na gewasverbouing teruggebring word. Die terugbring van die weiding na afloop van die saai, is net so belangrik as die uithaal van die weiding. In die laaste jaar van graanproduksie word die nuwe borseltjiegrasaanplanting in 1,5 m-rye tussen sonneblomrye geplant. Die sonneblom gee die saailinge ’n bietjie beskutting en beskerming terwyl hulle baie klein is. Tydens die eerste jaar na plant word die gras kans gegee om mooi te vestig, maar dit word reeds bewei. Dit word vir vyf tot agt jaar lank bewei voordat dit weer na akkerbou omgeskakel word.

Die Bothmas probeer om die gras aan die einde van die somer om te werk. Teen hierdie tyd is die graslande baie droog en die lande word dus braak gelos vir ’n seisoen om die vog in die grond op te bou. Daarna word daar vir ongeveer vier jaar mielies en sonneblom verbou voordat die borseltjiegras weer saam met sonneblom gevestig word.

’n Besigheid se winsgewendheid bly die belangrikste aspek. Beplan sorgvuldig en wend die insette korrek aan om effektief en doeltreffend te wees. Volgens bemestings­proewe maak dit nie sin om borseltjiegras te bemes nie, maar die grond moet chemies reggestel word om tekorte op te hef voordat graan weer gevestig word.

Die borseltjieweiding word teen vyf hektaar per grootvee-eenheid (GVE) belaai en die kampe is ongeveer 300 hektaar groot. Daar word met ’n speenkalfstelsel op die plaas geboer, waar die speenkalwers vanaf die weiding verkoop word.

Deon beklemtoon ’n baie belangrike aspek wat produsente maklik uit die oog verloor. Wanneer die grasstelsel geïmplementeer word, gaan daar definitief ’n paar trekkers wees wat oorbodig raak. Hierdie oortollige toerusting moet in kontant omgesit word om vee aan te koop. Oorhoofse koste moet ook verlaag word – en maak seker dat alle koste behoorlik nagegaan word.

Langtermynwisselbou met Smutsvingergras en graan
Mnr Gert Wessels boer in die Bothaville-omgewing met ’n interessante gesaaidegraswisselbou- en veestelsel wat vir hom baie winsgewend werk. Hulpbronne word oor tyd verbeter en die risiko van die boerdery word hierdeur verlaag.

Sy stelsel bestaan uit ’n kombinasie van aangeplante weiding (Smutsvingergras) en gesaaides wat hoofsaaklik uit mielies en sonneblom bestaan. In hierdie stelsel word die Smutsvingergras omgewerk en dan met twee of drie mielie-oeste opgevolg. Mielies word met sonneblom opgevolg en dan word mielies weer verbou. Tydens hierdie laaste mielie-aanplanting word daar weer Smutsvingergras in 1,5 m-bane gevestig. Dit is belangrik dat die onkruiddoderprogram hierdie in ag neem.

Die jong Smutsvingersaailinge word deur die mielies beskerm en hulle kry kans om goed te vestig. In die winter word die lande net lig bewei en die volgende somer word die gras kans gegee om behoorlik te vestig. Die jong Smutsvingerlande word in die winter as staande hooi benut. Hierna word die weiding benut soos benodig en dele word in die somer bewei, ander in die winter en ’n gedeelte word vir hooiproduksie aangewend. Die Smutsvingergras word vir ten minste vyf jaar benut, voordat dit weer na gesaaides omgeskakel word. Dit word ook bemes volgens die behoefte wat bepaal word deur die voervloei van die plaas. Die weiding word teen 2 ha/GVE belaai.

Net so belangrik as die vestiging daarvan, is die omskakeling van die gras. Dit word in die laaste jaar van produksie vir hooi aangewend. Gedurende die somer (Januarie tot Februarie) word die gras gesny en gebaal, waarna die weiding doodgewerk of -gespuit word om sodoende die res van die jaar se reënval as vog te bewaar. Hierdie geruste lande word dan opgevolg met die eerste mielie-oes.

Mielie-oeste op hierdie geruste lande stel nie teleur nie, aangesien die gemiddelde opbrengs van die mielies in hierdie stelsel gewoonlik tussen 20% en 30% beter as die gesaaides in die konvensionele stelsel is. Die produksiekoste van hierdie stelsel is gelyk of laer as dié van die konvensionele stelsel – wat ekstra wins tot gevolg het.

Die vee bewei die meeste van die weidingslande. Weiding op hierdie plaas kan aangewend word vir óf speenkalfproduksie óf vir die grootmaak van gespeende kalwers óf vir die afrond van ou diere. Met elke stelsel word die lekke en byvoer aangepas om die groei per dier te optimeer. Voervloei bly die belangrikste gedeelte van die veeboerdery.

Oulandsgras – ’n perd van ’n ander kleur
Heelwat produsente op die oostelike Hoëveld plant oulandsgras aan. Alhoewel die outeur nie bewus is van enige produsente wat oulandsgras in kombinasie met graan verbou nie, is daar wel ’n paar produsente wat oulandsgras in kombinasie met aartappelmoerproduksie verbou.

Oulandsgras is daarvoor bekend dat dit voedingstowwe in die grond – veral fosfate en kalium – goed benut. Sodra oulandsgraslande dus oorgeskakel word na graanproduksie, sal daar heelwat grondregstellings gemaak moet word. Dit kan die verbouing van graan baie duur maak.

Hoekom is dit dan vir produsente die moeite werd om oulandsgras in kombinasie met aartappels te verbou? Volgens hierdie produsente is dit omdat die siektedruk op die aartappels baie minder is na die aanplanting van oulandsgras as daarsonder. Verder is aartappels bekend vir swak benutting van bemestingstowwe. Die opvolgende oulandsgras benut dit wat daar is dan besonder effektief en dit lewer gevolglik goeie hooiproduksie.

Gevolgtrekking
Die aanname dat wisselbou met alle grasspesies tot voordeel van gewasverbouing kan wees, kan nie sonder meer gemaak word nie. Produsente moet eers seker maak of dit die geval is voordat ’n grasrusstelsel geïmplementeer word.

Kontak vir Pietman Botha by 082 759 2991 met enige vrae. Hy versoek ook dat enige produsent wat wel oulandsgras in ’n graanwisselboustelsel aanwend, hom moet kontak.