Bewaringslandbou – ’n kopskuif is nodig

80
Karina Muller,
SA Graan/Grain
medewerker

Alles begin by die grond. Dit was die openingswoorde van mnr Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, by die onlangse Herlewingslandboukonferensie wat in samewerking met die Ottosdal Geenbewerkingsklub op dié dorp in Noordwes aangebied is.

Graan SA was een van die vennote by dié konferensie waar verskeie internasionale sprekers saam met plaaslike kundiges opgetree het. Dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasiliteerder by Graan SA, sê die doel van die organisasie se Bewaringslandbouprogram, wat in ’n groot mate deur die Mielietrust gefinansier word, is om die grootskaalse aanvaarding van herlewingslandboumetodes te versnel in ’n vorm wat vir uiteenlopende plaaslike toestande en uitdagings aangepas is.

Hoofspreker
Die hoofspreker, prof Buz Kloot van die Universiteit van Suid-Carolina in die VSA, het sterk klem daarop gelê dat landbouers ’n kopskuif moet maak. “Daar is geen reguit pad van konvensionele landboupraktyke na bewaringsboerdery nie.”

Navorsing wat prof Kloot saam met produsente in Amerika gedoen het, toon dat bewaringsboerdery vele voordele inhou. Dit kan in ’n groot mate toegeskryf word aan veral die verbeterde koolstofkringloop wat meer energie vasvang en meer mikro-organismes aan die lewe hou. In die proses verhoog die uithouvermoë van plante, omdat meer vog in die grond vasgevang word.

Prof Kloot het later tydens die konferensie genoem dat hy baie geleer het by Suid-Afrikaanse produsente, veral betreffende beweiding en die noodsaak van wenakkers wat ’n habitat vir verskeie spesies bied. Hy het plaaslike produsente wat hul eie navorsing op die gebied van geenbewerkingspraktyke befonds, daarvoor geloof.

Ander sprekers
Die ondervoorsitter van die KwaZulu-Natal Geenbewerkingsklub, mnr Egon Zunckel, pas al vir meer as 20 jaar geenbewerkingspraktyke op sy grond in KwaZulu-Natal en in die Vrystaat toe. Dit het begin toe hy 22 jaar gelede haastig was om te plant en mielies op koringstoppels geplant het. Daardie oes was sowat 2 t/ha meer as die mielies wat hy konvensioneel aangeplant het.

Gronderosie, veral in die Vrystaat, is vir hom ’n groot bron van kommer. “Ons is bekommerd oor grondonteiening sonder vergoeding, maar intussen gooi ons ons eie grond deur erosie weg.” Geenbewerkingspraktyke kan ook erosie bekamp.

Dr Valeria Faggioli van die Instituto Nacional Tecnología Agropecuaria (INTA) in Buenos Aires, Argentinië, is ’n navorser met besondere insig in grondherlewing. Sy het navorsing gedoen oor opbrengste op grond waarop 44 jaar en 20 jaar gelede met bewaringsboerdery begin is. Sy het bevind dat monokultuur (sojabone in dié geval) ’n bedreiging vir diversiteit inhou.

Volgens haar is grond die mees diverse deel van enige landbou-ekostelsel; dit huisves miljoene organismes en is een van die grootste opgaarplekke van koolstof op aarde.

Prof James Blignaut (direkteur van Beatus en ASSET Navorsing en buitengewone professor by Stellenbosch Universiteit) bestudeer die interaksie tussen natuurlike en ekonomiese stelsels. Volgens hom is daar tans ’n lekkasie in die stelsel. “Dit lek in terme van grond, water, produksiegeleenthede en mense wat gedwing word om te verstedelik. ’n Lekkende sisteem kos geld en gaan in die toekoms net meer kos.”

’n Omvattende, vergelykende studie tussen konvensionele en bewaringsboerdery is deur mnr Peet Visser, landbou-ekonoom en -spesialis by Absa, gedoen en die resultate is met konferensiegangers gedeel. Hy het onder meer bevind dat die bewaringsprodusent veral bespaar op landbou-implemente, brandstof, onderhoudskoste, dienste aan voertuie en implemente, kapitaalkoste, produksiekoste en bewerkingstyd.

Volgens Peet kom weerstand jeens bewaringsboerdery voor omdat produsente nie oortuig is dat die opbrengs beter sal wees nie. “My navorsing het getoon dat selfs as die bewaringsboer 500 kg/ha minder oes as sy konvensionele eweknie, hulle steeds op dieselfde vlak sal wees”

’n Kenner op die gebied van veral weerstandsbestuur teen insekplae, prof Johnnie van den Berg van die Noordwes Universiteit se Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur, het die noodsaaklikheid daarvan om ’n permanente voedselweb te vestig, beklemtoon. “Dit begin in die grond en moet deur landboupraktyke geskep word, byvoorbeeld deur deklae en die instandhouding van wenakkers wat ’n habitat vir verskeie spesies bied.”

Mnr Jason Carter van Suid-Carolina in die VSA het sewe jaar gelede begin om dekgewasse aan te plant en hoendermis as primêre bemesting te gebruik. Hy het eerstehands aan konferensiegangers vertel dat onkruiddruk in sy lande afneem en dat ondergrondse lewe teruggekeer het. Vergelykende monsters tussen sy grond en dié van ’n buurplaas toon ’n drastiese verskil. Jason hoop om in die 2019-seisoen geen insekdoders te gebruik nie en hy beoog voorts ook om nie GMO-saad aan te plant nie.

Sedert 2008 pas mnr Gert Janse van Rensburg volhoubare praktyke op hul familieplaas by Brits toe. Hy is passievol daaroor dat produkte sonder skadelike reste bemark word. “Dit is ons roeping as produsente om na die natuur te luister.”

Proewe
Konferensiegangers het ook die geleentheid gehad om plase te besoek waar proewe met die hulp van Graan SA en die Mielietrust oor die afgelope vyf jaar aangeplant is. Dit is veral hier tussen die gewasse waar produsente en kundiges heerlik gesels en terselfdertyd waardevolle inligting, raad en ervaring uitgeruil het.