Bewaringslandbou het nie ’n formule nie – dis ’n beginsel

2259
Louise Kunz,
SA Graan/Grain
redaksiespan

Egon Zunckel, ’n saaiprodusent van die Bergville-distrik, boer al vir 35 jaar en is passievol oor die praktyk van bewaringslandbou. Wanneer hy sien watter impak dié praktyk op sy boerdery gehad het, is hy spyt dat hy nie vroeër daarmee begin het nie. “Vir my boots hierdie praktyk die natuur na,” sê hy.

Hy het ’n paar jaar gelede ’n plaas in die Warden-gebied gekoop. Hier én op sy tuisplaas by Bergville word mielies, sojabone en koring in ’n wisselboustelsel verbou – twee jaar mielies en een jaar sojabone met koring wat op ’n drie- en vierjaarrotasie­basis geplant word. “Ons streef ook daarna om elke jaar ’n dekgewas te plant om die beginsel van ’n lewendige wortel in die grond te vestig.”Dit loop hand aan hand met diversiteit, aangesien daar meer as een spesie op ’n slag in die grond sal wees.

Van konvensionele metodes na bewaringspraktyke
In 1991 het Egon besluit om sy boerderypraktyke aan te pas. Buiten vir droogtetoestande het hulle heelwat probleme ondervind met waterafloop, grondverdigting en geweldige wind- en watererosie. Dit het hom laat besef dat hulle anders te werk sal moet gaan om die boerdery te laat voortleef. “Ek het oorgeslaan na deklaagbewerking, waar ons die organiese bedekking op die grond probeer behou het en met ’n beitelploeg bewerk het,” verduidelik hy.

Nadat hy dié metode vir vier jaar toegepas het, het hy begin om geenbewerking na te vors en daarmee te eksperimenteer. Mielies is in koringstoppels geplant en die resultaat het hulle verras: ’n 2 t/ha-verbetering in opbrengs teenoor die aanliggende bewerkte land. Net daar is die besluit geneem om ten volle oor te skakel na ’n geenbewerkingstelsel.

Binne agt jaar kon hy sien dat die grond begin verander het. “Die grond was sagter – jy kon voel dat daar ’n verskil was. Dit het ook donkerder geword.” Grondmonsters het bewys dat die koolstofinhoud op sy lande danksy geenbewerkingspraktyke binne
tien jaar meer as verdubbel het.

“Mense sê ons behaal ’n bogemiddelde opbrengs op ondergemiddelde grond – wat bewys watter verandering hierdie praktyk teweeg kan bring.” Aangesien hulle die afgelope vyf jaar net tweederdes van die normale reënval gekry het, wissel die opbrengs egter baie. Op hul grond in KwaZulu-Natal wat om die helfte droëland en besproeiingslande is, is 1,2 t/ha verlede seisoen op uitvalstukke van ’n spilpunt behaal en tot 14 t/ha op droëlande gestroop. “Een jaar, te midde van droogtetoestande, het ons op 300 ha droëland 12 t/ha gestroop.”

Die plaas naby Warden het oor die afgelope vyf jaar sojabone van tussen 0,76 t/ha en 3 t/ha gelewer en mielies het tussen 3,6 t/ha tot 10 t/ha behaal. “Ons het verlede jaar 7,2 t/ha gestroop.” Hy voeg vinnig by: “My sukses is te danke aan die Here se hand in my lewe sedert my bekering.”

Baanbreker word kampvegter
Vir Egon was die oorskakeling na geenbewerking nie sonder struikelblokke nie. Hy het gou besef dat bewaringslandbou oor meer gaan as net die aankoop van ’n geenbewerkingsplanter. Hy het vinnig agtergekom dat daar plaaslik bitter min kennis oor hierdie praktyk was. Dit was boonop ’n alleen pad om te stap, aangesien daar maar min ondersteuning in die landboubedryf vir hierdie redelik onbekende praktyk was.

“Ek het amper my vingers verbrand deur te passievol te wees hieroor en sommer voluit na geenbewerking oor te skakel,” noem hy. “Dit is belangrik om eers probleemkolle te identifiseer, waar byvoorbeeld grondsuurheid aanwesig is. Ek was al meer as twaalf jaar besig met geenbewerking toe ek agterkom daar is kolle in die land waar die suurversadiging tot 60% was. Waar daar probleme is, moes dit eers opgelos word – en ons moes kalk daar inwerk.”

Egon Zunckel, ’n saaiprodusent van die Bergville-distrik, meen die voordele van bewaringslandbou is legio.

Egon glo die voordele van bewaringslandbou is legio, maar die feit dat dit ’n vogbewaringstelsel is en die grondstatus verbeter, behoort volgens hom genoeg rede vir oortuiging te wees. “Die lewe ín die grond het ’n groot invloed op die lewe bó die grond – en omgekeerd.” Gesonde grond beteken immers beter opbrengs. Hy glo verder dat koolstof (C) die grond se kapasiteit verhoog (C vir capacity) en ook kwesbaarheid vir droogte­toestande verminder. Hoe hoër die koolstofpersentasie in die grond dus is, hoe groter is die grond se waterhouvermoë. Ook hier is die impak eerstehands ervaar. Ander probleme soos waterafloop en infiltrasieprobleme is ook oor die jare deur bewaringslandboupraktyke opgelos.

’n Buurman van Egon het genoem dat hy 17% op koste besnoei het deur oor te skakel na geenbewerking. “Nie almal gaan koste sny nie, want meganisasiekoste word deur ’n spuitprogram en ekstra chemikalieë vervang. Vir my was dit maklik. Omdat ek so passievol hieroor is, het ek dit net begin doen. Ek het aanvanklik geen duur toerusting aangekoop nie – net anders te werk gegaan. Vir my gaan dit nie oor wat kan ek spaar nie, maar oor wat reg is vir die natuur.”