Span surplusjare in vir beter risikobestuur

Gepubliseer: 7 Mei 2021

1298
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

Surplusjare is goeie nuus vir enige boerdery, maar dit kan ook ’n paar uitdagings daarstel. Weldeur­dagte finansiële beplanning tydens die goeie jare kan verhoed dat besteding reaktief eerder as beplan plaasvind. Een van die hoofoorwegings moet die toekomstige voorsiening vir moeilike tye of katastrofes wees.

Raad aan produsente in ’n surplusjaar
Ion Gerber, uitvoerende hoof van Corporate Guarantee, ’n ge­registreerde korttermynversekeraar met ’n unieke benadering tot risikobestuur, sê produsente is geneig om in surplusjare insette aan te koop vir belastingdoeleindes. Die gevaar is egter dat ’n paar opeenvolgende moeilike jare daardie insette onbekostigbaar kan maak. ’n Goeie voorbeeld is masjinerie. Dit is ’n inset wat op die regte tyd vir die regte redes aangekoop moet word. Deur die besluit vanuit ’n belastingperspektief te neem, kan potensiële risiko inhou. Hy raai produsente aan om alternatiewe opsies te oorweeg. Met ’n risikobestuurspolis kan produsente byvoorbeeld dekking koop in die goeie jare, wat hul besighede ’n tweede asem sal gee wanneer die besigheidsiklus afwaarts neig. Produsente kan ook fondse in hulle besighede terugploeg deur middel van ’n koste-effektiewe leningsfasiliteit.

Dié ledevoordeel bied Graan SA-lede ’n unieke geleentheid om met die hulp van Corporate Guarantee hul eie risikobestuurs­program op te stel. Ion verduidelik dat ’n risikobestuurspolis ’n produsent in staat stel om dekking te akkumuleer om sodoende risiko meer effektief te bestuur. “Die voordeel is dat indien die dekking nie tydens die huidige polistermyn gebruik word nie, dit aangewend kan word vir toekomstige risikobestuur,” verduidelik hy.

Corporate Guarantee se standaardproduk bied aan die produsent 120%-risikodekking in geval van ’n katastrofe. Die dekking kan ook verhoog word na aanleiding van die produsent se spesifieke behoefte. Polishouers word verder beloon vir goeie risikobe­stuur en kan deel in onderskrywingswinste.

Graan SA-lede kan die produk aanwend teen spesiale tariewe, met ’n hele paar addisionele voordele, soos groter as die gewone onderskrywingswinste. ’n Graan SA-lid kan ook na drie eis- of kansellasievrye jare 25% van die onderskrywingsfooi terugkry.

Een van die groot voordele van die produk is dat die polis as sekuriteit gebruik kan word om ’n lening aan te gaan. ’n Maksimum van 90% van die poliswaarde kan geleen word teen ’n rentekoers so laag as prima minus 2%.

Ion verduidelik dat risiko die basis van die produk is – ’n polis kan slegs uitgeneem word vir ’n identifiseerbare risiko. “As ’n produsent byvoorbeeld 1 000 ha mielies plant en hy kry potensieel R2 000/ha, dan is sy risiko R2 miljoen. Dit is tipies ’n risiko wat jy kan identifiseer, want sou hael jou oes vernietig, is jy die R2 miljoen kwyt,” verduidelik hy.

Risikobestuurspolis versus konvensionele versekering
“Met konvensionele versekering betaal jy ’n lae premie en jou dekking is hoog. Jy kan byvoorbeeld R500 ’n maand betaal vir R120 000 se dekking op jou voertuig. Die dekking is egter beperk tot die voertuig en as daar nie ’n eis plaasvind nie, verbeur die polishouer die dekking aan die einde van die polistermyn.

“Met ’n risikobestuurspolis betaal jy ’n premie van R100 000 om vir R120 000 verse­ker te wees. Die voordeel is egter dat enige dekking wat nie tydens die huidige polistermyn gebruik word nie, aangewend kan word vir toekomstige risikobestuur, mits die risiko steeds bestaan. Deur van ’n risikobestuurs­polis gebruik te maak, kan die produsent 120% se dekking beskikbaar stel vir risikobe­stuur in katastrofegevalle.”

Op die vraag of hierdie tipe verseke­ring meer gewild onder produsente raak, sê Ion: “Mense begin al hoe meer besef hulle kan van hul risiko meer effektief bestuur om so vir hulleself welvaart te skep. Dit sal egter nie wys wees om korttermynversekering uit die staanspoor te staak nie. Kombineer dus jou konvensionele versekering met ’n risikobe­stuurspolis. Brandversekering op ’n stoor se korttermynversekeringspremie is byvoorbeeld so laag dat dit sinneloos sou wees om die risiko self te bestuur, maar as jy 50 trekkers het, is daar ’n premie op elke trekker. Hier kan dit moontlik meer voordelig wees om ’n risiko­bestuurspolis te hê. Gebruik dit parallel met jou huidige versekering en soos die polis se dekking toeneem, kan jy die volle risiko met die risikobestuurspolis dek.”

Vir meer inligting oor die produk, besoek www.corporateguarantee.co.za. Stuur ’n e-pos na members@grainsa.co.za om meer uit te vind oor Graan SA se ledevoordele.